Geloofsvrae: Berusting of stryd en oorwinning

Geloofsvrae: Berusting of stryd en oorwinning – Adrio König

Berusting, of stryd en oorwinning?

Dit is opvallend dat die duiwel en die bose magte óf omtrent geen rol in die voorsienigheidsleer speel nie, óf eenvoudig gesien word as volkome onderworpe en in diens van God om sy wil uit te voer. En dit is dadelik ‘n vraag hoe ‘n mens dit moet rym met die prominensie van die bose magte in en na Jesus se optrede, en die absolute opposisie tussen Hom en hierdie magte.

 

Natuurlik kan ‘n mens jou nie vir die siening dat die bose die dienskneg van God is, op Jesus beroep nie. Maar dit lyk tog of Job dié gedagte steun. God laat die duiwel toe om Job aan te val, maar Hy beperk die duiwel se aanvalle: sóver mag hy gaan, maar nie verder nie (Job 1 en 2). Dit lyk na sterk getuienis dat God die duiwel gebruik, of in elk geval toelaat, om smart in sy kinders se lewe te bewerk, maar net tot op ‘n sekere punt.

 

Maar ons vergeet ‘n paar dinge. Allereers het ons in Job met heeltemal ‘n ander figuur te doen as in Jesus se optrede. In Job is die `Satan’ een van `die seuns van God’ (OAV) of `hemelwesens’ (NAV) wat op ‘n baie goeie voet met God verkeer, en ‘n bepaalde funksie in die hemelse huishouding vervul. Daarom kom hy van tyd tot tyd verslag doen en nuwe opdragte ontvang. Dit is mos totaal buite die kwessie om hom op dieselfde vlak as die duiwel en die bose magte van die NT te beskou. Jesus staan radikaal teenoor die bose magte en dryf hulle genadeloos uit mense se lewens en selfs uit die natuur uit. Dit is ongehoord dat Jesus aan hulle opdragte sal gee om in sy diens uit te voer en hulle sal toelaat om mense te laat ly. Hy verlos juis mense uit hul hande (Hand 10:38). As ons dus by Job nog die indruk kon kry van stille berusting, kry ons by Jesus die indruk van stryd en oorwinning. En Paulus roep ons selfs op om ons ten volle te bewapen in hierdie stryd en sterk weerstand te bied (Ef 6). Die duiwel word as ‘n brullende leeu voorgestel wat mense verslind. Dit het niks met Job se `Satan’ te doen wat eintlik God se `openbare aanklaer’ was nie.

Dit is veral tydens en na die ballingskap (met die ontwikkeling van die apokaliptiek dat die stryd tussen God en die bose magte na vore kom. Die bose magte loods ‘n omvattende aanval op die totale skepping en probeer dit van God steel en vernietig (1Joh 5:19). Die duiwel word selfs die god van hierdie wêreld genoem (2Kor 4:4), en ‘n wesenlike deel van Jesus se optrede is die uitdrywing van die bose magte uit mense se lewens. Daardeur vestig Hy die heerskappy of koninkryk van God op aarde (Mat 12:28; Luk 11:20).

Daarom is die basiese prentjie van die evangelie nie dié van berusting in alles wat gebeur nie, maar dié van stryd teen die bose magte in die Naam van Jesus wat reeds die oorwinning behaal het en die opruimingswerk deur die Gees voltooi. Die kerkvader Irenaeus het hierdie motief gebruik om die versoeningswerk van Christus te verduidelik: Hy stry teen die bose magte wat ons gevange hou, oorwin hulle en verlos ons só. Hierdie model kan ook vir die algemene betrokkenheid van God by die geskiedenis gebruik word. Dit gee ons veel meer ruimte om die nood en smart in die wêreld as die werk van die duiwel te verstaan, wat ‘n baie getrouer weergawe van die hoofnadruk in die NT is.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König