Geloofsvrae: Die Antichris

Geloofsvrae: Die Antichris – Adrio König

Die Antichris

Die Antichris is ‘n teken dat die einde naby is. Paulus het in sy prediking dikwels nadruk hierop gelê (2Tes 2:5). Alreeds vroeg in sy bediening verwag hy hom dan ook enige oomblik (vgl die woordjies `nog’ en `al’ in 2Tes 2:6,7). Daarom is dit nie vreemd nie dat Johannes later kan aankondig dat hierdie profesie alreeds vervul is, en dat die Antichris alreeds in baie vorme in die gemeente teenwoordig is (1Joh 2:18-22; 4:3; 2 Joh 7). Dit is jammer dat die NAV sonder goeie gronde gekies het vir die vertaling `die gees van die antichris’ (4:3) Daar is geen getuienis dat Johannes iets minder bedoel het as die Antichris self nie.

As ons Johannes (die enigste skrywer wat die term Antichris gebruik!) ernstig neem, kan ons net een gevolgtrekking maak en dit is dat daar al baie persone in sy tyd was wat hy die Antichris noem, en dat hierdie Antichriste bevestig dat Johannes se gemeente in die laaste uur geleef het (2:18) sodat Christus enige oomblik kon kom.

Meer as een …

Die meervoud (Antichriste) in Johannes is nie vreemd nie omdat daar geen rede is om aan te neem dat die Antichris as net een persoon moet verskyn nie. Trouens hy word in die NT onder verskillende gestaltes voorgestel:

  • as iemand wat in die kerk optree (1Tes 2),
  • as ‘n aantal persone wat die kerk verlaat het (1Joh 2), en
  • as die gesag van die staat (Open 13).

Verder is dit duidelik dat Open 13 ‘n kollektiewe begrip veronderstel. In Dan 7 is daar vier diere waarvan die vierde een tien horings het. Dan verskyn daar ‘n ekstra klein horinkie tussen hulle en dié word dan gesien as die Antichris. Maar in Open 13 is al vier Daniël se diere verenig in een aaklige monster en dié is dan die Antichris. Johannes verenig dus al vier diere in Daniël wat op hulle beurt magte verteenwoordig wat oor ‘n lang tydperk optree. Ons het dus duidelik die neiging tot kollektiwiteit en tot meer as een Antichris.

Wat sê dit vir ons vandag?

Wat beteken hierdie teken van die nabye wederkoms van Christus nou vir Christene vandag? Presies soos in die tyd van die NT en sedertdien deur al die eeue heen, verskyn die Antichris vandag nog in verskeie gestaltes wat radikaal teen die gelowiges optree en die kerk probeer vernietig. Elke keer as ons van sulke magte bewus word, moet ons net soos die vroeë Christene weet dat die Here enige oomblik kan kom en dus altyd gereed wees.

Maar dit is vreemd aan die Bybel om te maak asof die `eintlike’ Antichris nog eers iewers in die toekoms moet verskyn en dat ons dan eers sal kan sê dat die koms van die Here naby is. Dit sou ‘n weerspreking wees van die oorweldigende getuienis van die NT dat die Antichris toe al gekom en die koms van die Here toe al naby was.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König