Geloofsvrae: Die dood in die Ou Testament

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Die dood in die Ou Testament – Adrio König

Die dood in die Ou Testament

Ons dink meestal aan die dood as ‘n toestand: ‘n mens is dood. Maar die Ou Testament dink aan die dood allereers as ‘n plek (as ‘n mens doodgaan, gaan jy in die dood in, wat ook die doderyk of die graf genoem is), of ‘n mag (die dood kry ‘n mens in sy mag en dan sterf jy – Ps 71:20).

 

Die dood kan ‘n mens ook al in sy mag begin kry nog voordat jy regtig dood is. Die dood dring soos ‘n monster in ons lewe in sodat iemand wat in lewensgevaar verkeer of siek is, alreeds in die mag van die dood is. Daarom noem ons siekte ‘n voorvorm van dood.

 

Oor die dood of die doderyk as ‘n plek waar die dooies is, word ook baie realisties gedink. Daar is heelwat beskrywings van hierdie plek in die OT, en hierdie beskrywings is almal baie donker en negatief. Ook mense wat in lewensgevaar verkeer, het alreeds in die ruimte van die dood (die doderyk) ingegaan en verkeer alreeds tussen die dooies (Psalm 88:4-7; 40:2-3; 30:4 OAV). Die dood is ‘n magtige monster (Ps 18:5,6,17; Jes 5:14; Hab 2:5), een van die choasmonsters wat uit `die waters onder die aarde’ kom (Ps 69:2,3; 124:4,5). (22.3)

Wat is die houding van die gelowiges in die OT teenoor die dood? Daar is enkeles wat die dood as ‘n redelik natuurlike lewenseinde sien, maar vir die groot meerderheid is die dood ‘n skrikwekkende, weersinwekkende einde.

‘n Paar persone aanvaar die dood as die voltooiing van hul lewe, as iets natuurlik: Abraham, Dawid, Job (Gen 25:7,8; 1 Kon 2:2; 1 Kron 29:28; Job 5:26; 42:17). Dit beteken nie dat enigeen van hulle regtig na die dood uitgesien het – so ‘n siening kry ‘n mens nie in die OT nie – of die dood bo die lewe verkies het nie. Hulle het net gelate die dood aanvaar omdat hul lewe verby was. Hulle is egter die uitsonderings wat die reël bewys: die dood is negatief, sinloos, gemeenskapsverbrekend, afstootlik, vreesaanjaend.

Waarom? Omdat die dood die mens van God skei en vervreem. Die sin en die diepste betekenis van die lewe, die heil, is vir die gelowige in die OT hierdie lewe in gemeenskap met God. Gevolglik is die dood die einde van ons verhouding met God en van die heil. God dink nie aan dié wat in die dood is nie, en niemand in die doderyk sal Hom prys nie. Daar heers die ewige, sinlose, donker stilte (Ps 115:17; 94:17; 88:11-13; Job 10:20-22).

Die ervaring van koning Hiskia (Jes 38) is een van die aangrypendste voorbeelde van die negatiewe reaksie van gelowiges teen die dood, totaal negatief – juis omdat hulle gelowiges is.

Tot kort voor die einde van die OT is daar geen sprake van die opstanding uit die dood nie. Daar is ‘n paar uitsonderings van mense wat nie gesterf het nie, maar deur God in heerlikheid opgeneem is (Henog, Elia), maar dit skep geen verwagting by die ander gelowiges nie, behalwe in die een geval (Ps 73:24) wat egter nie duidelik is nie en ook nie ‘n algemene verwagting word nie.

Om van `lewe na die dood’ in die OT te praat, is om te vergeet dat lewe gemeenskap met God is en dat die dood dit afbreek. Dit is om te vergeet dat mense geskape is as bondgenote van God, en dat hulle daarom die sin van hul bestaan verloor as hulle sterf en uit die gemeenskap met God weggeruk word. Die skimbestaan in die doderyk is nie meer gemeenskap met Hom nie en juis daarom nie lewe nie – daarom is dit so weersinwekkend vir die gelowiges.

Die verwagting dat dooies sal opstaan, kom eers baie laat in die OT voor. Dit staan nie regtig in Jes 24-27 of Eseg 37 nie. Dit is alles verwysings na Israel wat weer `lewendig word’ by die terugkeer uit die ballingskap. Dan 12:2 is die enigste duidelike getuienis dat daar ‘n opstanding sal wees. Dit is ook heeltemal begryplik dat dit eers hier na vore kom, omdat dit deel is van ‘n ander wêreldbeskouing, die apokaliptiese of `bonatuurlike’ siening van wêreldgebeure wat eers tydens die ballingskap ontwikkel het.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...