Geloofsvrae: Die ekologiese krisis

Geloofsvrae: Die ekologiese krisis – Adrio König

Die ekologiese krisis 

Dit ‘n algemene oortuiging dat die natuur menslike lewe bedreig, en dat een van die waardes van ons kulturele ontwikkeling is dat dit ons teen die dreigende en vyandige natuur beskerm. Onder natuurbedreiginge verstaan ons droogtes, haelbuie, orkane, aardbewings, vuurspuwende berge, en nog baie ander, in Afrika veral ook roofdiere en giftige slange. Mense wat dit in die sogenaamde `vrye en ongerepte natuur’ inwaag, neem omtrent die hele stad met al sy geriewe saamneem om hul lewe te beskerm en te vergemaklik: gewere, tente, blikkieskos, medisyne, en noem maar op.

Ewe skielik het ‘n nuwe insig egter deurgebreek, en wel dat die verhouding vir die eerste keer in die geskiedenis ook omgekeer moet word: nie net dat die natuur die mense bedreig nie, maar dat die mense die natuur bedreig. En dit is ‘n baie omvattender, genadeloser en fataler bedreiging as wat die natuur ooit vir ons ingehou het. Dink maar aan die paar groot bedreiginge: omgewingsbesoedeling, hulpbron-uitputting, oorbevolking, kernwapens.

Een van die ironieë is dat dit veral die kulture is met ‘n sterk Christelike invloed wat die bedreiging veroorsaak. Sommige beskou dan ook inderdaad die Christene as die grootste bedreiging, en wys daarop dat Christene juis lank daarop geroem het dat juis die Bybel (Gen 1:26-28) hul gehelp het om die natuur te ontgoddelik en op dié wyse die vryheid te kry om die natuur tot die mense (d.i die Westerse mense) se voordeel te ontwikkel en te gebruik. Dit het tot ‘n ongekende selfsug en natuuruitbuiting gely, en vandag staar die hele wêreld die ekologiese krisis in die gesig.

Hierdie krisis het die wêreld een gemaak soos nog nooit tevore nie. Daar is nie grense aan besoedeling, uitbuiting en oorbevolking nie. Die besoedelde lug van Oos-Europa word oor die hele wêreld gewaai, die uitputting van die olievoorraad gaan alle lande beïnvloed, en die uitroeiïng van die Amasone-oerwoud sal die suurstof oor die hele aarde verminder. Die arm lande kry die swaarste onder die krisis, want die ryk lande kan betaal vir die hulpbronne wat hulle benodig vir die suiwering van hul eie omgewing (skoon water en lug) – met die gevolg dat hulle die hulpbronne nog verder uitput!.

Hierdie krisis kan nie anders as deur ‘n gesamentlike poging van alle lande aangepak word nie. Christene behoort ‘n leidende aandeel hierin te neem. Die Christelike evangelie, tesame met die Joodse geloof, bied sterk motivering om die natuur te bewaar. Immers ons het die aarde van God gekry as die ruimte wat Hy geskep het waar Hy in liefdesgemeenskap met ons wil leef. Die perspektief dat die nuwe aarde hierdie ou aarde is wat Hy wil nuut maak, bied grond vir ‘n besondere waardering vir die aarde en die natuur. Ons het teenoor Hom die verantwoordelikheid om die woonplek wat Hy ons gegee het en waar Hy in gemeenskap met ons wil leef, skoon te bewaar.

‘n Verdere implikasie is dat vermoënde Christene ‘n eenvoudige leefwyse sal aankweek, minder spandabelrig sal leef, en ‘n groter deel van hul vermoë sal wy om lewensruimte te skep vir die agtergeblewenes.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König