1

Geloofsvrae: Die Erfsonde

Geloofsvrae: Die Erfsonde – Adrio König

Die erfsonde

Die leer van die erfsonde is die oortuiging dat alle mense as sondaars gebore word en dus van kleins af onder die oordeel van God staan. Ons erfsonde word op een of ander manier met Adam en Eva se sonde verbind. Dit word meestal gegrond op Paulus se uitspraak: `Soos een oortreding (d.i. Adam se sonde) gelei het tot veroordeling van alle mense …’ (Rom 5:18).

Daar is ‘n aantal misverstande oor die erfsonde. Die eerste is dat dit sonde is wat ons fisies deur ons ouers erf soos ons eienskappe of liggaamskenmerke erf (bv. die kleur van ons oë). Dit is onaanvaarbaar omdat sonde ‘n morele saak is en ‘n mens nie morele skuld kan erf of aan iemand anders (soos Adam) se sonde skuldig kan wees nie.

Verder het die erfsonde geen verband met die oortuiging dat seks sondig is en elke kind om hierdie rede `in sonde ontvang en gebore word nie.’

Augustinus het vroeg in die vyfde eeu die leer van die erfsonde in meer besonderhede uitgewerk as teenvoeter teen die oortuigings van Pelagius, ‘n Britse monnik, wat as boeteprediker in Rome opgetree het en persoonlike verantwoordelikheid en bekering baie sterk beklemtoon het. Volgens hom kan ons onsself nie verontskuldig met ‘n beroep op ons verdorwe natuur as gevolg van die erfsonde nie. Ons word vry gebore met ‘n ongeskonde natuur, en dit is net ons eie skuld dat ons sondig. Die feit dat niemand dit regkry om nie te sondig nie, het hy toegeskryf aan die invloed van ons omgewing wat so vol sonde is.

Augustinus het teenoor hierdie sieninge die leer gestel dat kindertjies nie sondeloos gebore kan word nie omdat hulle net soos volwassenes onder die gevolge van die sonde ly: siekte en dood. Verder sou die kinderdoop net sinvol wees as kindertjies alreeds sonde het, want volgens die NT het die doop direk verband met vergifnis en reiniging van sonde. Derdens is daar ‘n direkte verband tussen Adam se sonde en ons s’n. Adam se sonde is nie net ‘n slegte voorbeeld vir ons nie (Rom 5). Augustinus was oortuig dat sonde nie net verkeerde dade is nie, maar dat daar ook ‘n sondemag is wat ‘n houvas op ons het. Ten minste hierdie een punt in sy leer oor die erfsonde bly geldig.

Augustinus se leer oor die erfsonde word deur die meeste kerkgroepe aanvaar, al is dit soms in gewysigde vorm. Daar is egter altyd die gevaar dat mense die verantwoordelikheid vir hul sonde op die erfsonde sal afskuif.

Die grootste probleem in verband met die erfsonde is egter presies hoe ons deel het aan Adam se sonde. Daar is drie bekende standpunte.

Die eerste is die fisies-biologiese standpunt: ons erf letterlik die sonde soos ons ons eienskappe erf. Totaal buite my eie verantwoordelikheid om word ek as ‘n verdorwe en skuldige mens gebore. Die groot probleem is natuurlik dat sonde dan ‘n fisies-biologiese saak word in plaas van ‘n morele saak.

Die tweede standpunt, die realisme, is dat ons letterlik deel van Adam was toe hy gesondig het. Ons was in hom ingesluit as deel van die menslike ras wat nog uit hom gebore sou word. Dit gaan dus om die korporatiewe betekenis van Adam. Die erfsonde is dus nie vreemde sonde (Adam s`n) waaraan ek agterna skuldig is nie, dit is my eie sonde wat ek saam met Adam (`in Adam’) gedoen het. ‘n Mens kan dit so verstaan dat die hele menslike ras hierdie sonde saam met Adam gedoen het.

Hierdie standpunt is nie so vergesog as wat dit by die eerste oogopslag lyk nie. Adam is inderdaad ons verbondshoof in wie ons in ‘n sekere sin ingesluit was. Maar die laaste vraag sal wees of die Bybel ons regtig voldoende grond bied om die erfsonde só te verstaan. Laat ons eers na die derde standpunt kyk.

Die derde standpunt is die sogenaamde verbondsbeskouing – die foederalisme. Hier is die sentrale woord toerekening. Hier gaan dit dus om die verteenwoordigende of representatiewe betekenis van Adam. Soos Christus in ons plek voor God kon staan en ons straf kon dra, sodat sy geregtigheid aan ons toegereken word, net so het Adam ons verteenwoordig en in ons plek gesondig sodat sy sonde aan ons toegereken word. Ook in hierdie geval het ons met ‘n motief te doen wat sterk in die Bybel na vore kom, maar ons staan nogeens voor die vraag of die Skrif ons in dié rigting wys as verklaring vir ons betrokkenheid by Adam se sonde.

As ons na die Bybel gaan, word dit gou duidelik dat ons nie so besonder baie gegewens kry nie, wat ook beteken dat dit beter is om nie té kategories hieroor te wees nie.

Dat alle mense sondaars is, word duidelik in die Skrif veronderstel (Ps 14:1-3; 143:2; Rom 3:9-19, 23), maar dit verduidelik nog nie iets oor die erfsonde nie. Ps 51:3-7 sê ook heelwat minder as wat ons gewoonlik meen. Dit is niks meer as ‘n hartgrondige belydenis van hoe diep Dawid sy sonde voel en wil bely nie. Dit is ‘n hiperboliese uitspraak oor sy totale verdorwenheid.

Daar is net twee plekke in die Bybel waar ‘n mens kan hoop om lig te kry op die vraag oor hoe ons ‘n aandeel het aan Adam se sonde: 1Kor 15:20-22; Rom 5:12-21.

1Kor 15 help ons nie regtig veel nie. Met die eerste oogopslag sou ‘n mens skynbaar wel daaruit kon aflei dat alle mense op dieselfde manier deur Adam deel gekry het aan die dood as wat hulle deur Christus deel kry aan die opstanding. Maar ons besef dadelik dat dit groot probleme skep omdat ons net deur die geloof deel kan kry aan Christus se opstanding en sy nuwe lewe, terwyl dit nie van Adam en die dood kan geld nie. Dit beteken dus dat Paulus die `net soos’ nie te letterlik bedoel nie, maar eerder iets soos: verbonde aan Adam kry ons deel aan die dood, verbonde aan Christus kry ons deel aan die opstanding, sonder dat die hoe regtig uitgespel word.

Dit laat ons met Rom 5. Selfs hier kry ons nie soveel as wat ons hoop nie. Vers 12 sê ongelukkig nie wat ons graag wil hoor nie: hoe `almal gesondig het.’ Het hulle gesondig in die sin dat hulle deel was van die mensdom wat in Adam ingesluit was (die realisme)? Of is Adam se sonde aan hulle toegereken (die foederalisme)? En dit is presies die posisie met die res van die hoofstuk. Duidelik word gesê dat ons deur Adam se sonde onder die oordeel van God is (vers 18), maar nie hoe nie.

Die groot rede hiervoor is waarskynlik dat nóg 1 Kor 15 nóg Rom 5 terwille van Adam geskryf is. In beide gevalle gaan dit om Christus. Paulus probeer nie ons sonde verklaar nie, maar ons verlossing. Hy bring Adam net by om Christus beter te verduidelik. Dus moet ons oppas om dié gedeeltes te oorvra oor ons sonde.

Uit Rom 6 word dit wel duidelik hoe ons deel kry aan Christus se geregtigheid of gehoorsaamheid: deur die doop (en die geloof, wat geïmpliseer word). Die doop en die geloof lyf ons in Christus in sodat ons deel kry aan alles wat Hy ervaar het. Dit gaan om sy korporatiewe betekenis. Maar dieselfde word nie van Adam en die sonde en die dood gesê nie. Adam kom glad nie in Romeine 6 voor waar die hoe ter sprake is nie. En by 1 Kor 15 het ons gesien ons kan nie sommer aflei dat wat van Christus geld, ook netso van Adam geld nie.

Konklusie: ons weet nie hoe ons deel kry aan Adam se sonde sodat ons onder die oordeel van God gebore word nie, maar – Goddank! – ons weet hoe ons deel kry aan Christus se geregtigheid en gehoorsaamheid. En intussen aanvaar ons die erfsonde sonder om dit mooi te verstaan, want soos alle ander sonde is ook die erfsonde versoende sonde wat tot die verlede behoort omdat ons deur die geloof deel het aan ‘n nuwe lewe: die opstandingslewe van Christus wat reeds die mag van die sonde oorwin het.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König