Geloofsvrae: Die vrou in die amp

Geloofsvrae: Die vrou in die amp – Adrio König

Die vrou in die amp

Onder `die vrou in die amp’ verstaan ons die toelating van vrouelidmate tot die besondere ampte (predikant, priester, pastoor, ouderling en diaken). Dit is nie ‘n eenvoudige saak nie en daar is sterk emosies by betrokke. Dit is nie waar dat die verskil bepaal word deur die feit dat ‘n kerk progressief (`liberaal’) of konserwatief is nie. Kerke wat as liberaal beskou word, was en is steeds baie terughoudend oor die vrou in die amp (Anglikane), terwyl volkome `konserwatiewe’ kerke, byvoorbeeld in die Heiligheidsbeweging, al vir dekades lank vroue aanvaar het.

Dit lei geen twyfel nie dat sekere uitsprake in die NT (soos 1Kor 14:34ev en 1Tim 2:11ev) ernstige probleme skep vir vroue in ‘n leeramp. Maar dit is net die helfte van die waarheid. Die kerke wat haar uit die leeramp weer, laat haar wel toe om in verskillende hoedanighede in die erediens en andersyds in die gemeente op te tree terwyl die genoemde uitsprake duidelik alle deelname in gemeentebyeenkomste verbied. Tot vyf keer toe staan in genoemde tekste dat sy in byeenkomste moet stilbly en nie moet praat nie, en daar is geen rede om dit skielik te beperk tot amptelike, gesagvolle onderrig nie. En hierdie verbod word ondersteun met die argumente dat Adam eerste gemaak is (en dus skynbaar belangriker as Eva is) en dat Eva, en nie Adam nie, verlei is (1Tim 2:13ev).

Wat die probleem nog moeiliker maak, is die feit dat ons aan die ander kant in dieselfde 1Korintiërbrief lees dat die vrou nie met ‘n onbedekte kop mag profeteer of bid nie, wat beteken dat sy dit wel mag doen as sy ‘n hoofbedekking of sluier op het (1Kor 11:5).

As ‘n mens die leeraktiwiteite van vroue in die vroeë gemeentes hier byvoeg (o.a. Hand 18:26), word dit uiters moeilik om die verskille te harmoniseer. Kon ‘n vrou in ‘n gemeentebyeenkoms optree of nie?

Intussen is dit nie onmoontlik om die probleem teen ‘n kulturele agtergrond te sien nie, en dan te aanvaar dat die negatiewe uitsprake veroorsaak is deur die feit dat dogters en vroue normaalweg net geleer is om huis te hou en kinders groot te maak, en nie dieselfde akademiese en vormende onderrig as seuns en mans ontvang het nie. Hulle was dus normaalweg eenvoudig nie instaat om op die vlak van mans te kommunikeer nie, en moes daarom wag tot hulle tuis vir hul eie mans vrae kon vra.

Omdat ons egter in ‘n nuwe situasie leef waarin dogters en vroue presies dieselfde akademiese en professionele onderrig ontvang, en leiding neem op die meeste gebiede in die samelewing, is dit natuurlik uiters frustrerend vir hulle, en verarmend vir die hele gemeente, as hulle skielik nie in die gemeente mag deelneem nie.

Die argumente van 1Timoteus moet op dieselfde vlak hanteer word as die argumente dat slawe aan hulle base onderdanig en getrou moet wees. As ‘n mens ‘n gegewe situasie regverdig, kan jy argumente gebruik wat later, in ‘n nuwe situasie, nie meer oortuigingskrag het nie. In hierdie lig kan daar nie prinsipiële besware wees teen vroue in die besondere ampte nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning

 

Skrywer: Prof Adro König