Geloofsvrae: Hoop

Geloofsvrae: Hoop – Adrio König

Hoop 

Oor die toekomsgerigtheid van God het ons alreeds ‘n paar opmerkings gemaak. Die hoop is ‘n tweede komplementerende eienskap van die mens wat ons behandel. Ons mag hoop omdat God die God van die toekoms is, die Beloftegod.

Juis omdat ons as God se bondgenote geskep is en dus sinvol by Hom moet pas, is die hoop diep in ons menswees ingegraveer. Sonder hoop kan ‘n mens nie regtig leef nie. Iemand wat alle hoop opgegee het, oorweeg selfmoord. En een van die belangrikste redes waarom daar nie selfs nog meer selfmoorde is nie, is waarskynlik dat min mense ooit heeltemal moed opgee. Dit is eie aan die mens om, selfs onder die haglikste omstandighede, nog te hoop. Ons lees aangrypende verhale van hoe mense in Auschwitz nog tot op die laaste bly hoop het.

Hoop gee sin aan ons lewe. Mense wat hoop, kan die haglikste omstandighede trotseer. Indertyd het twee Oos-Duitsers deur ‘n rioolpyp na Wes-Berlyn ontsnap!

Ons hoop word gevaarlik as ons vergeet dit is ‘n komplementerende eienskap wat moet reageer op die beloftes van God. Dan begin ons dink ons moet self ons toekoms skep. Die ouer mense sal nog dr Verwoerd se slagspreuk onthou: `Skep jou eie toekoms,’ en kyk waarop het dit uitgeloop! Ek skep dan my eie ideale en verwagtings waarin dit gewoonlik ekself of my groep is wat in die sentrum staan. En ons lewe word een groot gejaag om hierdie ideale te verwesenlik: besittings, eer, populariteit, mag, alles dinge wat op die lang duur nie regtig kan bevredig nie. Juis omdat dit nie werklik lewensvervulling bring nie, jaag ons al erger na al meer daarvan – en ons lewe word ‘n dolle gejaag na wind.

Sommige mense raak langs die pad ontnugter. Hulle besef dit werk nie. Hulle lewe het nie werklik sin nie. Hierop volg óf totale sinloosheid wat dikwels uitloop op selfmoord, óf beperkte sinloosheid wat uitloop op berusting of angs.

Ongelukkig is daar baie mense wat oortuig is dat berusting ‘n Christelike deug is en wat dan eenvoudig so aanleef. Hulle ontwikkel ‘n houding van blinde, uitsiglose aanvaarding van die situasie `omdat ‘n mens tog niks daaraan kan verander nie.’ Ander ontwikkel angs en vrees. Hulle word met vrees vervul oor die toekoms omdat alles oop en onseker is, omdat enige ding enige dag kan gebeur, omdat teenspoed en rampe uit die blou lug neerreën. Veral as hulle nie op God vertrou nie, en daarom ongeborge leef en alleen die toekoms tegemoet moet gaan, kan hulle deur angs oorweldig word. Maar ook die verlede skep angs by hulle. Juis die mislukkings van die verlede versterk die vrees vir die toekoms. Angs kan ‘n mens óf lamlê, óf onbesonne dinge laat doen.

Al hierdie mense se diepste probleem is dat hulle alleen is, dat hulle nie die verbondenheid en geborgenheid ken wat God vir hulle bestem het nie: om aan Hom en daarom aan sy kinders verbonde te wees en daar geborgenheid en vrede te vind. Hulle het dus ‘n oop toekoms in plaas van ‘n gevulde toekoms. Hulle sit ingehok in hul eie geskiedenis in plaas van dat hulle van hulle eie mislukte geskiedenis bevry is en deel in die nuwe geskiedenis wat God in Jesus vir die mensdom gemaak het. Die moeilikheid met ‘n eie, oop geskiedenis, is dat enige ding kan gebeur. `Jy hoop vir die beste, maar die slegste kom vanself.’

Die gevulde toekoms van Jesus Christus is die geskiedenis waarin God ons ou sondige en sinlose lewe saam met Christus aan die kruis veroordeel en vernietig het, en ons met Hom laat opstaan het in ‘n nuwe, vervulde oorwinningslewe waarin Hy alreeds die doel van God met die mensdom bereik het.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König