Geloofsvrae: Jesus Christus: Heilshistoriese Christologie

Geloofsvrae: Jesus Christus: Heilshistoriese Christologie – Adrio König

Heilshistoriese Christologie (Christologie van agter)

Maar ‘n mens kan Jesus ook van agter interpreteer, vanuit die Ou Testament, in terme van die heilsgekiedenis van die OT. (Daarom sou ons dit ook Ou Testamentiese Christologie kon noem.) Daarna is alreeds verwys in die voorafgaande benadering. Jesus vervul die wet en die profete. Wat beteken dit?

 

Die Ou Testament eindig as ‘n onvoltooide drama: niks is afgehandel nie. Na eeue van verbondsgeskiedenis tussen God en sy volk, gaap daar ‘n aaklige afgrond tussen die trou van die barmhartige Verbondsgod en die ontrou van die ongehoorsame verbondsvolk.

 

Jesus kom staan in die bres om hierdie afgrond te oorbrug. Hy verteenwoordig die troue Verbondsgod. Sommige van sy titels wys daarop: die Messiaskoning (Christus), die Seun van die mens (Dan 7), die dienskneg van die Here (Jes 53), die profeet (Deut 18). Maar Hy is nie net nóg ‘n verteenwoordiger van God nie, Hy is dié verteenwoordiger, Hy is die hoogste maar ook die laaste aanbod van God aan die ontroue volk. Dit blyk onder andere daaruit dat Hy nie net een van hierdie Ou Testamentiese figure is nie maar dat Hy op ‘n ongelooflike manier byna al die belangrike figure uit die geskiedenis van Israel in Hom opneem, en verder dat Hy nie net hierdie figure verteenwoordig nie, maar hulle ook oortref. God doen meer as ooit tevore om die ontrou van sy volk te oorwin. As hulle nie sy verteenwoordigers geglo het wat een-een in die `ou tyd’ opgetree het nie, sal hulle tog glo as daar Een kom wat eintlik tegelyk almal is én almal oortref (Heb 1:1-2).

Maar Hy verteenwoordig nie net vir God nie, Hy verteenwoordig ook die ontroue Israel. Daarom word Hy, soos Israel, uit Egipte geroep en het Hy sy eie uittog (Mat 2:14,15,21), is Hy ons Paaslam (1 Kor 5:7) en die rots waaruit Israel in die woestyn water gekry het (1 Kor 10:4). Trouens een van die baie byna onmoontlike dinge om in hierdie kort oorsig te doen, is om ‘n lys te probeer maak van die ongelooflike verskeidenheid profesieë en ander sake uit die Ou Testament wat in Hom vervul word. Die eerste doel van sy koms is daarom om sy volk van hulle sondes te verlos en om die verlore skape van die huis van Israel in te bring (Mat 1:21; 10:5-6). Daarom het Jesus nooit ‘n doelbewuste uitreik na die heidene nie. Dié kom eers later, nadat Israel Hom verwerp en gekruisig het, en God met ‘n nuwe plan na vore kom om die heidene, én deur hulle Israel self, in te bring (56 se einde).

Tydens Jesus se aardse optrede het Israel se ontrou ‘n ongekende vorm van radikaliteit en verfyndheid bereik. Dit gaan nie meer om aaklige afgode, dooie stukke hout of goud wat hulle bo die Here verkies nie, of om aanstootlike sondes soos tempelprostitusie nie. Dit gaan om die wet van die Here wat hulle verhef het tot ‘n heilsweg. Hulle maak van God self ‘n afgod.

As Jesus hier in die bres kom tree, staan Hy aan ‘n sondige verbondsvolk se kant wat ‘n hoogtepunt in hul ontrou bereik, en aan die troue Verbondsgod se kant wat ‘n ongekende stap neem: Hy stuur nie meer iemand wat Hom maar net verteenwoordig nie, maar iemand in wie Hy op een of ander manier self teenwoordig is: sy Seun. God wat altyd van sy kant getrou was, tree nou oor die grens en kom aan ons kant staan. In Jesus word Hy self sy menslike bondgenoot. En só vervul Jesus die wet en die profete, só vervul Hy die verbond ten behoewe van die skuldige volk (wat die skuldige mensdom verteenwoordig). Só is Hy self die einddoel waarheen God met die wêreld op pad is. Maar dit bring ons alreeds by die vierde perspektief op die Christologie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König