Geloofsvrae: Selfliefde

Geloofsvrae: Selfliefde – Adrio König

Die wese van sonde

5. Selfliefde

Daar is ‘n ou kerklike tradisie wat teruggaan tot by Augustinus waarvolgens selfliefde sonde is. Augustinus het dit selfs as dié vorm van sonde gesien. Luther het gesê selfliefde beteken dat jy in jouself ingekeer is terwyl God jou juis op ander wil rig. Calvyn het gesê die wil van God is dat ons ons liefde vir onsself moet omdraai na ons naaste toe.

Tog is daar ‘n beskouing, wat veral in die apartheidsjare populêr was, waarvolgens daar ook ‘n gesonde vorm van selfliefde is. Dit sou dan opgesluit wees in Jesus se gebod: `Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

Dit is egter waarskynlik ‘n misverstand. Wat gewoonlik bedoel word onder hierdie `gesonde selfliefde’ is eerder dinge soos selfrespek, verantwoordelikheid teenoor jou eie lewe, ‘n positiewe selfbeeld, of die ontwikkeling van die vermoëns wat ons ontvang het. Dat dit alles goeie dinge is, is buite diskussie. ‘n Mens kan trouens nie regtig van jou eie belange afsien en uitbeweeg om in liefde vir ander op te offer as jy nie ‘n gesonde selfbeeld het nie. Maar dit is nie selfliefde as ons liefde in die lig van die NT verstaan nie.

Om te verstaan dat selfliefde sonde is, moet ons weer oor liefde dink. Liefde is om uit te reik na ander, om vir ander op te offer, om selfs bereid te wees om jou lewe vir ander te gee. Dit beteken dat liefde ‘n verhoudingsbegrip is. Liefde het ‘n subjek én ‘n objek nodig – iemand moet iemand anders liefhê. Daarom kan ek nie myself liefhê nie, nie as ons by Jesus leer wat liefde is nie. Die een groot punt van Jesus se liefde is juis dat Hy nie na Homself gekyk en na sy eie belange omgesien het nie, maar na ons s’n.

Die Bybel is duidelik hieroor. Die sterkes word deur Paulus opgeroep: `Ons moenie aan onsself dink nie; elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie’ (Rom 15:1-3). Netso is die goue reël, wat algemeen as ‘n alternatiewe formulering van die gebod tot naasteliefde aanvaar word, nie op twee voorwerpe gerig: op jouself én op die ander nie, maar net op die ander: `Behandel ander mense soos julleself behandel wil word’ (Luk 6:31).

Wat duidelik is, is dat jou eie behoefte die maatstaf word waarvolgens jy die ander moet behandel. Wat jy sou wou hê, moet jy aan ander doen. En dit is ‘n ou oortuiging in die kerk dat `soos jouself’ in die gebod tot naasteliefde juis die maatstaf is hoe jy die ander moet behandel. (Vgl ook 1 Kor 10:24,32; 13:5; Mark 8:35; en Fil 2:3-11 waar in die NAV `net’ in vers 4 weggelaat moet word en `ook’ met `juis’ vervang word.)

Ten slotte is dit tog duidelik dat Jesus die wet in twee gebooie opgesom het, en nie in drie: liefde tot God, liefde tot jou naaste, én liefde vir jouself nie.

Selfliefde is ‘n aaklige sonde omdat dit die mooiste en edelste wat ek vir ander moet doen, op myself rig. Luther: selfliefde is om in jouself ingekeer te leef, terwyl Jesus se hele llewe op ander gerig was, veral dié in nood. Selfliefde is selfsug.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König