Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (11)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (11) – Jan van der Watt

Mense buite die groep het jou nie veel aangestaan nie

Omdat jou belange so nou verweef is met die groep se belange, het jy mense buite jou groep met wantroue bejeën. Jy was geen verantwoordelikheid of lojaliteit aan hulle verskuldig nie. Die Gallio-episode (Handelinge 18:14-17) illustreer dit mooi: Gallio het die probleme as binne-Joodse gevegte gesien en besluit dit gaan hom as Romeinse heerser nie aan nie. Hy sê dus dat hulle hulle eie probleme moet uitsorteer (sien ook Johannes 18:31; 19:6,12).

Gasvryheid is tog van almal verwag

Gasvryheid was belangrik in die antieke tyd en was nie net vir vriende bedoel nie. Daar was nie hotelle nie en die losieshuise was baie swak. ʼn Mens kon dit ook nie altyd waag om alleen in die veld te slaap nie. Dit was gevaarlik vanweë die wilde diere en selfs rowers. Jy het ook nie altyd kos op so ʼn lang reis gehad nie. In groot stede is sulke mense toegelaat om in die stadspoort te slaap; die poort het ʼn groot saal gehad met deure na buite en na die stad se kant toe. Hier kon die mense veilig slaap, maar hulle kon ook nie die stad binneval nie. Die gasvryheidsvereiste is dus nagekom sonder om die stad in gevaar te stel.

As jy egter by ʼn privaat gesin om gasvryheid gaan aanklop het, kon hulle jou dit gewoonlik nie weier nie. Vir die tyd wat jy by die gesin deurgebring het, was jy as lid van die gesin gesien. Dit was natuurlik gerieflik vir sendelinge wat ver gereis het. Hulle kon maklik by mede-Christene tuisgaan (Handelinge 14:28; 16:15, 40; 17:7).

Net in Lukas 10:34 lees ons van ʼn losieshuis in die Bybel. In Markus 14:14 en Lukas 22:11 verwys die Griekse woorde na kamers.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt