God aan die werk deur die Heilige Gees

 

We fear men so much, because we fear God so little. —William Gurnall

 

God aan die werk deur die Heilige Gees

Daar het destyds ‘n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, hy het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon (Lukas 2:25).

As God aan die werk is in die lewens van gelowiges vul sy Gees van wysheid en insig hulle. Simeon was so ‘n persoon – hy ontvang insig en verstaan wat gebeur.

 

Die Heilige Gees het aan Simeon bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Een dag, gelei deur die Heilige Gees, gaan Simeon op na die tempel … en God vervul sy belofte. Maria en Josef  met die Kindjie Jesus kom terselfdertyd by die tempel aan. Simeon was bevoorreg om die kindjie in sy arms te neem. Simeon sê: Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het. Simeon besing die lof van God en hy seën vir Jesus en sy ouers. Hy seën die kindjie wat die gang van die geskiedenis sou verander.

 

Hoe langer ons God dien – en Simeon het Hom vir dekades gedien – hoe intiemer ken ons Hom. As God toegang tot ons hart en siel en verstand het as gevolg van jare se aanbidding, laat Hy ons meer van sy optrede sien – ons word meer by sy sending betrokke. Wees waaksaam. God is aan die werk om jou. Die Heilige Gees is altyd met ons; Hy gee insig in die alledaagse gebeure in ons lewe.