God het van oordeel gepraat (4)

image_pdfimage_print

 

“All of God’s people are ordinary people who have been made extraordinary by the purpose he has given them.” – Oswald Chambers

 

God het van oordeel gepraat (4)

Ons dink dikwels dat afgode tot beelde beperk is. Daar is baie ander soorte “gode” wat Satan vir ons aanbied. Die mens sien dat van alles in die skepping hy die hoogste is. Daarom glo hy dat hy die belangrikste in God se skepping is. Daar kan niks met die mens se verstand vergelyk word nie. Wat kan die mens daarvan weerhou om sy begeertes te vervul? Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God (2 Timoteus 3:4). Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind (Filippense 3:19).

 

Die afgode van vandag is dinge soos plesier, seks, geld, status, sekuriteit, sukses, roem, ens. Hierdie dinge is belangriker as God. [ Die goddelose verlustig hom nou al in wat hy hoop om in die hande te kry. Die een wat hom wil verryk ten koste van ‘n ander, wens homself by voorbaat geluk. Hy verag die Here. Neus in die lug sê hy: “God vra tog geen rekenskap nie!” In al sy planne is daar geen plek vir God nie (Psalm 10:3 – 4)]. Selfsugtige begeertes en trots neem God se plek in ons harte oor.

 

Selfsugtige mense soek altyd meer. Hulle gee nie om as ander in die proses seerkry nie. Hulle glo daar is geen Regter wat hulle sal straf nie. Ons is soos die Babiloniërs: Dan jaag hulle verder, hulle trek verby soos die wind. Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god (Habakuk 1:11).

 

As ons onsself aanbid, maak ons God na ons eie beeld. Ons wil ‘n God wat net so swak soos ons is, hê. God het nou nie die krag om ons te help en ons lewens te verbeter nie. Ons soek ‘n God wat nooit sal straf nie – sag en teer. Ons glo dat God, soos ons, nooit sy beloftes sal nakom nie.

 

Dit is nie waar nie. Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars, en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood (Openbaring 21:8). Mense probeer hierdie straf vermy deur weg te kruip en omkoopgeskenke aan te bied. [Moet Ek stil bly as jy sulke dinge doen? Nee, Ek eis rekenskap van jou, Ek kla jou aan – Psalm 50:21; Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie – Deuteronomium 10:17]

 

As ons God soos ons laat lyk, open ons die weg vir vals aanbidding. Die God wat ons sê ons aanbid verskil van die ware God wat Homself aan ons in die Bybel geopenbaar het.

 

Ons het nou baie gepraat oor God se toorn en oordeel. Wat moet ons doen as ons die ware God wil aanbid. Daarna kyk ons volgende keer.

image_pdfimage_print