God het van sy vyande gepraat

“Our humanity comes to its fullest bloom in giving. We become beautiful people when we give whatever we can give: a smile, a handshake, a kiss, an embrace, a word of love, a present, a part of our life…all of our life.”

God het van sy vyande gepraat

In Matteus 4 lees ons van Jesus se versoeking in die woestyn. Een van die versoekings was dat die duiwel al die koninkryke van die wêreld aan Jesus sou gee as U neerval en my aanbid. Jesus antwoord hom: Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien (4:10). Satan probeer dus aanbidding wat God toekom vir homself toeëien. God se vyand is die Satan.

 

Die Bybel praat baie oor die Satan, maar sê min oor sy oorsprong. God het alles gemaak, so God moes ook vir die Satan gemaak het. Maar ons lees: Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed (Genesis 1:31). Ons moet aanvaar dat die Satan aanvanklik goed was. Maar nou? Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen (Johannes 8:44). Hy was waarskynlik die eerste een wat leuens vertel het, want hy is die vader van die leuen.

 

Maar wat het dan gebeur dat dinge so verander het? God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel (2 Petrus 2:4). Judas in vers 6 sê vir ons dieselfde: Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in die duister dieptes vir die oordeel van die groot dag. Ons kan dus aanneem dat die Satan weens sy opstand teen God uit die hemel gegooi is.

 

Satan is egter baie bedrieglik. Satan self doen hom voor as ‘n engel van die lig (2 Korintiërs 11:14). Hy probeer God se plek inneem; hy soek ons aanbidding wat net aan God toekom.