God luister na ons gebede (verhoring van gebede)

God luister na ons gebede (verhoring van gebede)

God verhoor altyd gebede, al voel dit partymaal vir ons of Hy ons nie antwoord nie. Hy antwoord ons wel, maar ons kom dit net nie agter nie.

Jou ma antwoord jou nie altyd op dieselfde manier nie. As jy vra of jy skottelgoed kan was, sê sy sommer dadelik “ja”. As jy vra of jy ʼn nuwe fiets kan kry, is daar eers stilte en miskien na ʼn dag of twee kom die antwoord. Net so antwoord God ons op verskillende maniere.

  • God is nie ons slaaf wat alles moet doen wat ons vra nie. Soms antwoord Hy ons op maniere wat ons nie verwag nie. Ons wag nog dat Hy doen wat ons gesê het, dan het Hy lankal op ʼn ander manier geantwoord. Ons moet dus wakker wees. Ons geestelike ore en oë moet oop wees om te kan hoor as God antwoord. Hy weet wat vir ons die beste is en sal dus soms op maniere antwoord wat ons nie verwag nie.
  • God antwoord baie keer gebede deur jou. As jy bid vir jou vriend wat hartseer is, is die kanse baie groot dat die Here sy hand op jou skouer gaan kom sit en vra dat jy namens Hom jou vriend gaan help. Jy sal dan moet tyd afstaan om te luister, raad te gee, te help en te troos. Of as jy bid vir mense wat swaarkry of nie kos het nie, mag die Here juis van jou vra om daarmee te help. As jy dan nie bereid is om na die Here te luister nie, sal jou gebed nie verhoor word nie. En dit is nie die Here se skuld nie.
  • Die Here kan ook partymaal “nee” sê. Ons kry baie sulke voorbeelde in die Bybel. Dit is gewoonlik as ons verhouding met die Here nie so goed is nie. Dan sê die Here moet eerste dinge eerste kom. Voor Hy verder na ons gebede luister moet ons eers ons verhouding met Hom regmaak.
  • Ons moet ook nie verbaas wees as die Here ons partymaal verras met iets wat baie groter is as waarvoor ons gebid het nie.

Gebed en vertroue op die Here gaan saam. As jy bid, vertrou dat die Here jou hoor en die beste vir jou wil hê.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy