God praat met ons deur die profete

 

“Where there is charity and wisdom, there is neither fear nor ignorance.” – Franciskus van Assisi

God praat met ons deur die profete

Ons het gesien dat God met ons deur die natuur praat. Dit is nie voldoende nie – ons het meer as dit nodig. Natuurlik kan ons baie wardevolle lesse uit die natuur leer. Die orde van alles in die natuur vertel vir ons van God se wysheid en mag.

 

Ons is dikwels onseker of God kan praat. As God spesiale boodskappers gebruik, kan Hy tog sekerlik met ons praat. God sê vir Moses: Wie het aan die mens ‘n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind. Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê (Eksodus 4:11 – 12). Hy wat die mond gemaak het, kan tog verseker dat ons ‘n duidelike boodskap kry, Daarom sê die Hebreërskrywer: In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete (1:1).

 

God bly nie stil nie; Hy laat ons nie alleen nie en onkundig nie. God praat met ons. Hy doen dit op verskillende maniere – in die verlede onder andere deur die profete. Ons kan ook let op aanhalings van die Ou Testamentiese profete in die Nuwe Testament. Die woord wat die profete gepraat het, was nie hulle woord nie, maar God se woord. U het u goeie gees gegee om hulle te onderrig … U was geduldig met hulle, baie jare lank, U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete, maar hulle het nie geluister nie (Nehemia 9:20, 30).

 

Die probleem is dat enigeen daarop aanspraak kan maak dat hy ‘n profeet is. God was daarvan bewus dat daar vals profete sou kom. Hoe sou ons weet of ons met ‘n ware of vals profeet te doen het. Moses het hierdie probleem voorsien. Hy het in Egipte grootgeword en was nie as ‘n profeet bekend nie.  Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie? (Eksodus 4:1). God stel Moses in staat om sekere wondertekens te doen. Die probleem was dat die Egiptiese towenaars ook sekere tekens kon doen. God se tekens was egter altyd groter en die mense kon dit sien.

 

Maar nie alle profete kon wondertekens doen nie. Daarom sê Moses vir die volk: Wanneer jy jou afvra: Hoe sal ek die woorde kan uitken wat die Here nie met die profeet gepraat het nie? moet jy weet: as ‘n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie. Dan het die profeet hom dit aangematig en hoef jy jou nie aan hom te steur nie (Deuteronomium 18:21 – 22).

 

Daar is dus drie tekens om ‘n ware profeet te identifiseer:

  • Wondertekens wat God se mag oor die skepping bewys.
  • Wat voorspel word, word waar.
  • Wat voorspel word, is in ooreenstemming met wat God oor Homself geopenbaar het.

 

God se groot wysheid word onder andere daarin geopenbaar dat Hy mense met mense laat praat – hulle praat in die taal van mense wat ons kan verstaan. Dink net hoe donker ons lewe sou gewees het as God nie met ons deur sy profete gepraat het nie.