God regeer?(1)

God regeer?  Deel 1

Die wêreld staan aan die begin van ‘n nuwe millenium.  En die Kerk van die Here Jesus deel met die wêreld ‘n infeksie wat tot hoë koors lei – milleniumkoors.  ‘n Koors waar die postmoderne mens yl dat die derde millenium na Christus die oplossing van al sy ekologiese en finansiële probleme gaan sien.  Die Kerk soek ook na ‘n oplossing – hy plaas sy hoop weer op die wederkoms.

Wat is die uitdagings wat ‘n nuwe millenium aan die Kerk stel?  En hoe kan die Kerk dit effektief beantwoord?

Ek meen die grootste nood van die mens aan die begin van die nuwe millenium is aan hoop.

Dit is ‘n wesenlike gevaar dat ‘n mens in krisistye perspektief verloor, dat jy aan perspektiefblindheid begin ly.  As ‘n mens met mense wat op die oomblik beplan om te emigreer gesels, is dit dikwels jou waarneming dat hulle alle perspektief verloor het.  Hulle skryf Suid-Afrika af.  Daar is niks goeds in dié land oor nie.  Hulle meen dat groener weivelde in ‘n ander land lê.

En as ‘n mens van die daaglikse nuus kennis neem, van misdaad en geweld, van ekonomiese probleme en inflasie, van korrupsie en bedrog, dan wil dit ‘n mens self ook maklik negatief maak, sodat jy dié mooi land ook wil afskryf.  Wat sal in die een en twintigste eeu met Suid-Afrika gebeur?

Wie was nie die afgelope jaar of twee slagoffer van misdaad in een of ander vorm nie?  Het die ekonomiese opdraende van die land nie ook ons verarm, in die vorm van inflasie en hoë rentekoerse nie?   Is ons nie almal bekommerd oor standaarde wat by hospitale en skole daal nie?  Het korrupsie in matriekeindvraestelle nie ons land geskud en elke leerling se hart met die vrees gevul dat sy of haar matriekuitslae nie veel werd gaan wees op die pad vorentoe nie?  En het die korrupsie nie ook oorgespoel na staatsdepartemente, waar talle spookamptenare vir jare ‘n salaris getrek het, en na die polisiediens en plaaslike owerhede nie?  En so kan ‘n mens aanhou.  As jy negatief wil raak, is daar genoeg in Suid-Afrika om oor te dink en te gesels.  En min om op te hoop.

Die krisistye waarin Suid-Afrikaners hul bevind, raak natuurlik ook gelowiges.  In dié omstandighede is dit baie maklik om perspektief te verloor.  En wat altyd daarmee saamhang: ons hoop vir die toekoms.  Dit is na my opinie te verstane dat talle mense negatief oor ons land en pessimisties oor ons toekoms geraak het.  Hulle begin defaïtisties dink en optree.

Israel was dikwels blootgestel aan krisisomstandighede, sodat hulle ook aan perspektiefblindheid begin ly het.  So gebeur dit dat die volk geleentheid kry om na hul eie land terug te keer ná die Babiloniese ballingskap, danksy die vergunning van die nuwe regeerder op die wêreldtoneel, koning Kores (of Cyrus) van Persië.  Hulle herbou selfs hul tempel, ten spyte van teenstand van die omringende volke, en veral hul halwe broers, die Samaritane.   Maar die heil realiseer nie, soos na-eksiliese profete belowe het nie.  Die volk wat terug in die land is, bly arm en gehaat, hulle word verdruk deur hul vyande en geteister deur natuurrampe.

Dit is moontlik gedurende dié tyd dat die verhaal vertel word van ‘n droom wat koning Nebukadnesar sou gehad het. Dit is dieselfde koning wie se magte Juda eers in 597 en daarna in 586 in ballingskap wegvoer, om in die vreemde te gaan bly.  ‘n Mens vind ‘n beskrywing van dié droom in Daniël 2. Volgens die beskrywing ontstel die droom die koning so dat hy nie kan slaap nie.  Hy laat roep die towenaars, voorspellers, goëlaars en sterrekykers. Iemand moet tog die droom kan verklaar!  Want as die koning droom, so het die mens in antieke tye geglo, is dit ‘n boodskap van die gode.  En die wyses aan die koning se hof word betaal om die boodskappe van die gode te ontsyfer.  Vir die een wat dit kan doen, word geskenke en eer belowe.

Die heidense koning word egter met ‘n ernstige probleem gekonfronteer: niemand kan die droom uitlê nie. Want die koning vertel nie vir hulle sy droom nie.  Is dit dalk omdat hy dit nie kan onthou nie, of omdat dit slegs as ‘n vae beeld in die koning se geheue agter gebly het?  Die koning is so kwaad hieroor dat hy die bevel gee dat alle wyse manne wat aan sy hof verbonde is, uitgemoor moet word.

Tussen die wyses is daar vier manne wat in ballingskap na die koning se hof weggevoer is, Jode uit Juda.  Hier in die vreemde het hulle opleiding as wyse manne ontvang, en so vorm hulle nou deel van die groep wat tereggestel moet word.  Daniël hoor van die koning se bevel, en sê sy vriende aan om saam met hom te bid dat die Here vir hulle die interpretasie van die geheim sal gee. Hul lewe hang immers daarvan af!

 

Skrywer: Dr Marius Nel