God roep; God bemagtig

image_pdfimage_print

Seducers are more dangerous enemies to the church than persecutors. —Matthew Henry

 

God roep; God bemagtig

In Jeremia 1:4 – 10 lees ons van Jeremia se roeping tot profeet. Dit is nogal interessant om te let op al die ooreenkomste tussen sy roeping en dié van Moses.

 

Jeremia was nog jonk toe God hom geroep het. Dit maak hom bang: Ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk. Wat Jeremia nie besef het nie, is dat as God jou roep, bemagtig Hy jou om dit te doen waarvoor Hy jou geroep het.

 

As God my roep, kan ek dit nie ignoreer of allerhande verskonings maak nie. Hy gee altyd vir my alles wat ek nodig het. Een van die probleme is dat ons dikwels sommer ‘n roeping uitdink – dit kom nie werklik van God af nie. As God ons nie roep en stuur nie, gaan ons nie slaag nie.

 

Kom ons kyk na Jeremia se roeping van nader:

  • God het Jeremia vir ‘n spesifieke doel geskep: Voordat Ek jou in jou moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
  • Jeremia maak verskonings – hy kan nie goed praat nie; hy is te jonk. Hy voel hy is nie bekwaam genoeg nie.
  • God vra totale beheer. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Hierdie is vir ons baie lastig, want ons wil altyd voel dat ons in beheer is. As God ons roep, is Hy in beheer.
  • God bemoedig Jeremia. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. God stuur ons nie op ‘n sending so op ons eie nie – Hy stap saam met ons.
  • God bemagtig vir Jeremia: Ek kan nie goed praat nie …  Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê. God weet wat ons swakhede is, maar Hy stel ons in staat om dit te oorwin. Toe Moses sê dat hy nie goed praat nie, stuur God vir Aäron om die praatwerk te doen. God verwag nie dat ons iets moet doen as Hy ons nie daartoe bemagtig nie.
  • As God my roep, is dit nie om gemaklik te wees nie. Kyk net waarvoor roep God vir Jeremia: Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. Geen wonder Jeremia het so swaar gekry nie.

 

As God my roep, moet ek nie bang wees nie, want ek het die versekering dat as Hy my roep, Hy my ook sal bemagtig.

 

image_pdfimage_print