God se heerlikheid in die ou en nuwe verbond

There is something beautiful about all scars of whatever nature. A scar means the hurt is over, the wound is closed and healed, done with. -Harry Crews, skrywer (1935-2012)

God se heerlikheid in die ou en nuwe verbond

In 2 Korintiërs 3:7 – 11 stel Paulus die ou en die nuwe verbond teenoor mekaar. Hoekom is die nuwe verbond soveel beter as die ou verbond? Vir sy argument gebruik hy die begrip van heerlikheid – hoekom is die heerlikheid van die nuwe verbond groter as dié van die ou verbond.  Hy gebruik die Hebreeuse kleiner/minder na groter vorm van argumentering.

  • Meer heerlikheid (vs 7 – 8).

Minder: 7Die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom. Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie.

Groter: As die bediening wat tot die dood lei, met soveel heerlikheid gekom het, 8hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening wat deur die Gees geskied, dan nie wees nie?

Die wet het in heerlikheid gekom. Dit oefen ‘n bediening van oordeel en dood oor Israel uit – Israel kon nie eers vir een dag die wet onderhou nie. Daarom was die mense bang was om na Moses se gesig wat so geskitter het, te kyk. As Moses se bediening met soveel heerlikheid gekom het dat dit met ‘n sluier bedek moes word, hoeveel heerliker is Paulus se bediening van die Gees wat nie versluier is nie. Dit stel God se mense voortdurend bloot as sy heerlikheid en transformerende krag.

  • Weer heerlikheid

Kleiner:  9Die bediening waardeur die mense veroordeel word, het met heerlikheid gekom,

Groter: Maar die bediening waardeur die mense vrygespreek word, oortref dit verreweg in heerlikheid.  

Gevolgtrekking: 10Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie.  Die bediening van veroordeling verwys na die gevolge van Moses se bediening. Paulus se bediening van vryspraak bevestig wat die profete oor die bediening van die Gees voorspel het – die hart van klip word met ‘n hart van vleis vervang (Esegiël 11:19 – 20). Daarom kon Paulus sê: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1).Die ou verbond het met heerlikheid gekom, maar die effek van die nuwe verbond oortref die heerlikheid van die oue.

  • Nog meer heerlikheid

Minder: 11As wat aan die verbygaan was, van heerlikheid gestraal het,

Groter: Veel meer nog sal die blywende van heerlikheid skitter.

Die heerlikheid van die ou verbond was verbygaande terwyl die heerlikheid van die nuwe verbond permanent is.

Paulus se logika verklaar:

  • Sy bediening is heerliker as dié van Moses as gevolg van sy onbeperkte blootstelling aan God se heerlikheid.
  • Paulus se bediening is heerliker, want dit is ’n bediening van vryspraak.
  • Paulus se bediening is heerliker, want dit is permanent.