God se liefde

image_pdfimage_print

To remain ignorant of what has happened before you were born is to remain always a child – Cicero.

 

God se liefde

Christene in Nigerië word wreed vervolg. Hulle word met gewere en pangas vermoor; kerke en huise word afgebrand. Ons lees gereeld verhale van Christene wat, ten spyte van al die pyn en lyding, God vir sy genade en goedheid prys. Hulle weet dat vervolging deel is van die Christen se lewe: As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat … As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg (Johannes 15:18 – 21).

  

Vir mense wat swaarkry of onder misdaad ly, is Psalm 10 ‘n bron van troos. Hierdie psalm begin so: Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U U terug in tye van nood? Vers 2 – 11 skilder vir ons ‘n somber prentjie van die goddeloses. Hulle is trots en arrogant; in hulle gedagtes is daar geen plek vir God nie; hulle gierigheid en begeertes heers in hulle; hulle stel strikke vir die hulpeloses; hulle is oneerlik. Hulle glo dat God Hom nie aan hulle dade steur nie en daarom sal Hy hulle ook nie oordeel nie.

 

Alles is nie verlore nie. Die psalmis glo dat God sy kinders kan en sal red – uiteindelik sal Hy hierdie mense oordeel (vers 12 – 18). Die goddelose mense sal nie maar ongestraf kan voortgaan en die verkeerde dinge doen nie. God sien en weet presies wat aangaan – U let daarop en maak daar ‘n einde aan.

 

Luister net hoe eindig hierdie psalm: Die Here bly altyd koning … U het die gesmeek van die hulpeloses gehoor, Here. U gee hulle nuwe moed. U verhoor hulle gebed … sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie.

 

God verdedig die weeskind en die mens in nood. As sy volgelinge moet ons sy voorbeeld volg. Verdedig ons die weeskind en die mens in nood? Hierdie mense is net so deel van dieselfde liggaam van Christus as wat ons is.

 

image_pdfimage_print