God se orde in die huwelik – Hermie van Zyl

Christel vra:

Ek het ‘n worsteling met God se Orde in die Huwelik.

Volgens my (as ek dit met ‘n sambreel kan voorstel). Is God die “sambreel” .

Dus God eerste, DAN die man (as “provider & protector”), dan die vrou as “manageres” van die huis en oor die kinders.” Ek voel dus die man is veronderstel om die broodwinner te wees en dat die vrou die veilige tuiste skep en na die kinders omsien.

Die rede hoekom ek nou verward is, is omdat my skoonpa en ander mans met my verskil.

Volgens hulle is die vrou NET SO verantwoordelik vir hulle finansies.

Ek het probeer om in die Bybel te soek vir God se Orde vir die Huwelik, maar kon niks kry nie. Ek glo net, dat as ‘n mens in God se Orde (lees: WIL) leef, jou lewe net beter raak.

Ek voel dinge gaan in vandag se huwelike so, omdat mense uit God se Orde uitbeweeg het. Ek werk en gee glad nie om om te werk nie, maar ek wonder tog, is dit in God se Wil? My man het sy eie besigheid, maar hy maak nie genoeg geld om die “broodwinner” te wees nie. Vier (4) jaar terug het ek oppad werk toe, ewe skielik ‘n gedagte gekry dat ons uit God se Orde leef en dat dit is hoekom dit finansieel so met my gaan.

Asseblief, help my tog net op die regte pad, sodat ek vrede vir my siel kan kry met die wete ek doen wat God wil.

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Beste Christel

As ek jou reg verstaan, voel jy dat julle op die oomblik nie binne God se orde/wil vir die huwelik beweeg nie, en dat julle daarom nie die seën van God ervaar nie – nie op julle huwelik nie en ook nie op julle finansies nie.

So verstaan lê daar eintlik twee vrae in jou vraag opgesluit: 1. Wat is God se orde/wil vir die huwelik? en 2. Is daar ‘n verband tussen die uitleef van God se wil en hoe dit met my huwelik en finansies gaan? Ek probeer aan altwee kwessies aandag gee.

  1. Wat is God se orde/wil vir die huwelik? Jy gebruik ‘n mooi beeld om die verhouding tussen God, man en vrou uit te druk: God as oorhoofse Ruimteskepper en Beskermer van die huwelik (soos ‘n sambreel oor ons), die man as beskermer en voorsiener (namens God), en die vrou as bestuurder van die huishouding (lg pas goed in by die beskrywing van die “ideale” vrou in Spr 31). Met hierdie “orde” is niks verkeerd nie. In bepaalde omstandighede kan dit goed werk, maar nou is dit ook so dat die struktuur van die huwelik nie net teologies bepaal word nie, maar ook sosiologies en psigologies. Laasgenoemde twee hang saam met die tyd en kultuur waarin die huwelik hom bevind, asook die mense self in die huwelik. Om net een ding te noem: In die antieke tyd het ons ‘n patriargale samelewing gehad waar daar nie veel beweegruimte vir die vrou was nie. Haar hele lewe het gedraai om die man as die enigste een wat werklik regte, mag en gesag gehad het. Vandag het hierdie situasie drasties verander (ten minste in die Weste). En dit het ‘n invloed op die rolverdeling in die huwelik. Hoe man en vrou hulle onderskeie rolle vervul, het baie te make met die tyd en die soort sosiale opset waarbinne hulle leef, hulle persoonlikhede en opleiding, watter geleenthede beskikbaar is, ens. Daar is dus nie net een ideale orde waarby almal moet inval – buig of bars – om binne God se wil te leef en sy seën te ervaar nie.

 

Nadat ek dit gesê het, dink ek tog mens kan steeds van ‘n Goddelike orde vir die huwelik praat. Maar dan moet dit nie vanuit die tipies patriargale stelsel van die antieke tyd gedefinieer word nie, maar mens moet eerder aansluit by ‘n gedeelte soos Efes 5:21-33 waar Paulus vir daardie tyd se mangesentreerde samelewing nogal radikale uitsprake oor die huwelik maak, wat terselfdertyd rigtinggewend is vir ons vandag. Dit uitgangspunt is 5:21: man en vrou is onderdanig aan mekaar omdat hulle respek het vir Christus as die hoof van die huwelik. Of, om dit in die woorde van Gen 2:18 te stel: man en vrou is metgeselle van mekaar; hulle vul mekaar aan omdat hulle by mekaar pas. In Efes 5 word nog verder vir die man gesê – goed, as jy dan hoof (l w: nie “baas” nie) van jou vrou wil wees, moet jy die volgende doen: wees haar “verlosser” (m a w, bevry haar van sleur; maak vir haar die lewe so aangenaam as moontlik); wees lief vir jou vrou soos Christus die gemeente lief het en sy lewe vir haar opgeoffer het; wy jou aan haar en dra haar belange op die hart; versorg haar soos jy jou eie liggaam versorg. Hoofskap het immers niks te make met baasspelerigheid nie, maar alles met diensbaarheid.

Vir die vrou word daar eintlik nie veel gesê nie, behalwe dat sy aan haar man “onderdanig” moet wees (soos die man aan haar “onderdanig” is – 5:21) en hom moet respekteer. Nou, sou ek wou byvoeg, watter vrou sal nie aan haar man “onderdanig” wil wees as sy so deur haar man op die hande gedra word nie? Maar dit gaan eintlik oor ‘n wedersydse onderdanigheid, maats wees vir mekaar, ondersteunend dáár wees vir mekaar.

My punt is: Hierdie liefdesorde is regtig die enigste orde wat God vir die huwelik daarstel. En binne hierdie orde kan man en vrou die verdeling van rolle, pligte en verantwoordelikhede orden soos dit hulle die beste pas, sonder om bang te wees dat hulle buite God se orde leef. Hulle sal God se seën ervaar. Wat my by die tweede kwessie bring.

 

  1. Is daar ‘n verband tussen die uitleef van God se wil en hoe dit met my huwelik en finansies gaan? Daar is nie ‘n direkte verband tussen die nougesette uitleef van God se wil en materiële voorspoed nie. Anders gestel: As dit met iemand voorspoedig gaan op materiële gebied, beteken dit nie noodwendig dat daardie persoon binne die wil van God leef nie. Omgekeerd: as dit met iemand sleg gaan, beteken dit nie noodwendig dat daardie persoon buite die wil van God leef nie. Hier kan mens maar net die verhaal van Job lees, asook Ps 37 en 73. Hier gaan dit juis oor die verskynsel dat die goddelose dikwels voorspoedig is terwyl die regverdige swaar kry. En tog koester die digter hom daarin dat dit na alles die beste is om naby God te leef en sy liefde te ervaar. Om binne die wil van God te leef, bring sy eie beloning (seën). Want dít kan mens met sekerheid sê: as mens binne die wil van God leef, bv in die huwelik (soos hierbo verduidelik), dan sal mens die ryke geestelike seën van God beleef – die kalmte van gees en innerlike vrede dat jy in harmonie met God leef. Maar dit sal nie noodwendig finansieel voorspoedig gaan nie. Mens moet dus nie allerlei afleidings uit jou materiële welstand doen oor hoe gesond jou verhouding met God is nie.

 

Ek vertrou dat bostaande “vrede vir jou siel” sal bring.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl