God se plan en ons planne

“The statement ‘I am a mere layman and not a theologian,’ is evidence not of humility but of indolence.” — Karl Barth

God se plan en ons planne

‘n Mens bepaal sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop (Spreuke 16:9). Die skrywer aanvaar dat die mens sy planne maak, maar dat dit by God se groter plan inpas. Ons sien dit baie mooi in die verhaal van Josef. Uit jaloesie verkoop sy broers hom aan ‘n klomp slawehandelaars. Uiteindelik word hy ‘n baie belangrike man in die paleis van die farao. Na ‘n lang tyd sien hy weer sy broers. Toe hulle uiteindelik agterkom dat dit Josef is val hulle op hulle knieë voor hom. Dan antwoord Josef hulle: Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen (Genesis 50:20).

Wat hulle gedoen het, was verkeerd, maar tog was dit deel van God se plan. In die Nuwe Testament kry ons presies dieselfde: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28).

Kry ons nie ‘n teenstrydigheid in Moses se konfrontasie met die farao in Eksodus 7 – 14 nie?  Maar Ek sal die farao hardkoppig maak (7:3). Ons lees op ‘n paar plekke dat dit die Here is wat die farao koppig laat bly het. Op ander plekke lees ons dat die farao self besluit het om koppig te bly. Wat is die regte siening? Die Bybel antwoord: beide.

Die mens het die inisiatief om sy vryheid te gebruik wetende dat God hom daarvoor verantwoordelik sal hou. Ook weet ons dat God ons mislukkings tot sy voordeel kan gebruik. Hierdie het implikasies vir hoe ons lyding benader. Ons het ook die versekering dat boosheid en tragedies nie deel van God se oorspronklike ontwerp was nie. Nogtans word dit in sy wyse plan ingeweef. Daarom is Romeine 8:28 ‘n vertroosting vir alle gelowiges: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28).