God se teenwoordigheid in die natuur

image_pdfimage_print

 

“It is no use walking anywhere to preach unless our walking is our preaching.” – Franciskus van Assisi

God se teenwoordigheid in die natuur

In die begin het God die hemel en die aarde geskep (Genesis 1:1) Dit is hoe die Bybel die geskiedenis van die wêreld begin. Van die begin af was God daar en Hy was aktief. Maar hoe weet ons daar is ‘n God? Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self ook God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak (Johannes 1:18). Ons kan nie vir God sien nie, maar ons weet Hy is daar. Hoe weet ons dit? Deur te kyk na die resultate van sy kragtige werk.

 

So wys die skepping vir ons na die Skepper. Ons sien die Skepper in sy skepping. Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring. Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie (Romeine 1:19 – 20). As ons na die wonderlike skepping om ons kyk, help dit ons om iets van God te weet. Ons sien die gevolge van sy werk om ons. Ons het dus geen verskoning om te sê ons twyfel aan sy bestaan nie.

 

Vandag sê ons die skepping was toevallig. Ons leef asof daar geen God is aan wie ons verantwoording moet doen nie. Elke huis moet tog ‘n bouer hê: Elke huis word deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het (Hebreërs 3:4). Die psalmis sê: Hy oordek die hemel met wolke, Hy voorsien reën vir die aarde en laat gras op die bergland uitspruit. Hy gee aan die diere hulle weiding en versorg die jong kraaie wat om kos skreeu (Psalm 147:8 – 9).

 

Die psalmis maak dit baie duidelik dat die skepping van God vertel: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (Psalm 19:1). Ook die mens het God wonderbaarlik gemaak.

 

Onthou ons dat alles wat ons het en wat ons is van Hom af kom? As ons dit besef, is dit vir ons maklik om God te loof en te dank. Ons hoef nie God te bewys nie. Die skepping maak die teenwoordigeid van God aan die wêreld bekend.

 

Maar God praat ook met ons deur die profete. Daarna kyk ons volgende keer.

 

 

image_pdfimage_print