God se tuin

image_pdfimage_print

 

To really hear the gospel is to be shaken to your core. To really hear the gospel is to change. —Mark Dever

 

God se tuin

In Psalm 92:13 – 16 neem God ons op ‘n begeleide toer deur sy tuin – sy kerk. Hy sien sy mense as palmbome en seders op die Libanon (vers 13). Sy spesiale belangstelling is die ouer, meer volwasse dissipels: Selfs in hulle hoë ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees (vers 15).

 

Ons samelewing is baie geneig om seniors te verwaarloos – ook in die kerk. Die fokus is op die jeug. Maar luister wat sê God in hierdie psalm vir seniors – vriendelike en bemoedigende woorde.

  • Hulle groei (vers 13).

Die regverdige sal groei soos ‘n palmboom; hy sal opgroei soos ‘n seder op die Libanon (Vers13 –OAV). Maar as ons van ouderdom praat, gebruik ons woorde soos agteruitgang, swakheid en pyn. Ons kry hierdie woorde in die Bybel – lees net weer Prediker 12:1 – 8. Hier gee die Here aan ons ‘n ander perspektief. Hy vergelyk senior Christene met groeiende palmbome en magtige seders. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe (2 Korintiërs 4:16). Hulle groei in geloof, wysheid, hoop en liefde. Geplant in die huis van die Here sal hulle groei in die voorhowe van onse God ( vers14 – OAV).

 

  • Hulle dra nog vrugte

In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra (Vers 15 – OAV). Die psalmis verwys hier spesifiek na die palmbone wat nie alleen voedsel vir die nomadiese groepe voorsien het nie, maar ook aangedui het waar daar ondergrondse water was. Baie bome dra nie meer vrugte as hulle ouer word nie, maar God se seniors hou aan met vrugte dra. Hulle is gesnoei en dra takke vol geestelike vrugte.

 

  • Hulle is vars

hulle sal vet en groen wees (Vers 15 – OAV). Hulle is nog vol innerlike sap – ‘n onsigbare bron van verfrissing diep binne in hulle. Hulle floreer buite, want hulle is vet en groen binne. Hulle word voortdurend hernuwe met die innerlike sap van die Heilige Gees.

 

  • Hulle floreer

Selfs in hulle ouderdom sal hulle toeneem in krag (vers 15). Natuurlik word Christene ook oud, maar die psalmis praat nie hier van die liggaam nie, maar van geestelike vermoëns.

 

  • Hulle getuig

Om te verkondig dat die Here reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie (vers 16 – OAV). Elke bejaarde is ‘n aanbevelingsbrief vir God se onmeetbare trou.

 

Meeste seniors voel nie juis dat hulle groei en vrugte dra nie, maar God sê dat dit waar is. Christene moet God se woord glo – meer as die beeld wat hulle in die spieël sien.

 

image_pdfimage_print