God se verbond

image_pdfimage_print

 

“…real care means the willingness to help each other in making our brokenness into the gateway to joy.” –Henri Nouwen

 

God se verbond

As God mense kies om aan Hom te behoort, maak Hy ‘n verbond met hulle. Hierdie verbond bind hulle aan God. So ‘n verbond help mense om te verstaan waar hulle met mekaar staan – wat elkeen moet gee en gaan ontvang. Een van die bekendste verbonde is dié wat God met Abraham gemaak het (Genesis 17). Die Israeliete was Abraham se kinders. Toe hulle getalle toegeneem het en hulle ‘n volk geword het, stuur God vir Moses na hulle toe. God lei hulle uit Egipte en maak dan ‘n spesiale verbond met hulle by Sinai. Die Here het vir Moses gesê: “Teken al hierdie gebooie op, want hierop berus my verbond met jou en Israel.” (Eksodus 34:27).

 

Die Israeliete het geglo dat hierdie spesiale verbond tussen God en Israel na die koms van die Messias voortgesit sal word. Daar sal egter ‘n groot verandering kom. Selfs die Ou Testament verwys daarna: Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here (Jeremia 31:31 – 32). Hierdie nuwe verbond gaan verskil van die ou verbond – dit is nie die ou verbond wat net voortgesit gaan word nie.

 

Hebreërs 8 beskryf hoe die belofte van ‘n nuwe verbond beskryf in Jeremia 31 waar geword het. Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond was (8:6). Die skrywer verwys na die ou verbond en kom dan tot die volgende gevolgtrekking: Deur van ‘n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn (8:13).

 

Ons kan steeds baie van die ou verbond leer, maar ons word nie meer deur die ou verbond beheer soos die Israeliete nie. Ons is nou bedienaars van ‘n nuwe verbond, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend (2 Korintiërs 3:6 – 11). Beteken dit nou dat die tien gebooie nie meer geld nie? Kan ons nou maar moor en steel en egbreek? Nee, want God het dit met iets beter vervang. Neem as voorbeeld moord. Jesus brei hierdie gebod uit: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank … (Matteus 5:21 – 22).

 

Ons kan dieselfde van feitlik al die gebooie sê. God herhaal hulle nie net in sy nuwe verbond nie, maar gee aan hulle ‘n groter betekenis. Die enigste gebod wat nie herhaal word nie is die gebod oor die Sabbat: Daarom moet julle nie toelaat dat iemand vir julle voorskrywe … dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat nou kom; die werklikheid in Christus (Kolossense 2:16 – 17). Skaduwees is belangrik, want hulle wys na Jesus Christus. Omdat Jesus gekom het, is dit nie meer skaduwees nie, maar die werklikheid. Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees (Hebreërs 8:10).

 

 

image_pdfimage_print