God se Woord en nederigheid

 

When our Lord says, we must be converted and become as little children, I suppose He means also, that we must be sensible of our weakness, comparatively speaking, as a little child.
 George Whitefield

 

God se Woord en nederigheid

Hebreërs 11 is ‘n gallery van geloofshelde. Ons almal weet dat die mans en vrouens in hierdie lys nie sonder foute was nie. Tog word hulle as voorbeelde voorgehou. Hoekom? Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig word (vers 2). Weer en weer fokus die skrywer op die geloof wat die gelowiges gemotiveer het. Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag (vers 33 – 34).

 

Waarmee vergelyk die psalmis die gelowiges in Psalm 1? Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is.  Hoekom ‘n boom? ‘n Boom se kenmerke is lewe, hy dra vrugte en hy is onbeweeglik. Maar die goddeloses is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word. Hulle is nou hier, dan daar; altyd in beweging; altyd dood; geen toekoms nie.

 

Drie maal in Psalm 119 lees ons van hovaardiges – in verse 21, 51 en 85. Hulle is trots. Wat is hulle kenmerk? God se woord is nie vir hulle voldoende nie; hulle wyk af van sy wet en opdragte. Daar is die kern van trots – God het gepraat, maar dit is nie voldoende nie. Satan wil van Adam en Eva weet of dit regtig is wat God gesê het. Gou-gou word dit: “Maar God is verkeerd.” Baie min het in werklikheid verander. Ons bevraagteken steeds vir God.

 

Die gelowige is anders. Vir hom is God se woord voldoende: Die leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie. Die Here God het gepraat, wie sal nie as profeet optree nie (Amos 3:8); Hovaardige mense beswadder my, maar ek voer u bevele uit met my hele hart (Psalm 11969).

 

God se siening is duidelik. Onstabiele mense wat onbeslis is en kompromieë aangaan is nie nederig nie. Ek slaan ag op die mens in nood, op dié een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord (Jesaja 66:2).

 

Opsommend: die kern van nederigheid is om ‘n duidelike woord van God te soek en te antwoord met “amen.” Jy vind dit; jy maak geen verskonings daarvoor nie; jy gaan nie daaroor kompromieë aan nie.

Die kern van arrogansie is om ‘n duidelike woord van God te neem en te reageer met: “Is dit wat Hy werklik gesê het?”