God se woord is noodsaaklik

 

As a well spent day brings happy sleep, so life well used brings happy death. -Leonardo da Vinci (1452-1519)

 

God se woord is noodsaaklik

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 Almal van ons se korttermyn begeertes verskil. Party wil die wêreld sien; party wil lekker eet; party wil in die buitelug lewe, ens. Ons het verskillende smake, belangstellings en stokperdjies. Kom dit egter by ons langtermyn begeertes is daar meer ooreenstemming: ons wil ‘n doel in ons lewe hê; ons wil gelukkig wees; ons wil deel van iets groter as onsself wees. Mense soek ‘n resep om daar uit te kom. Die probleem is dat dié Een van wie ons moet hoor ons nie op ons eie kan ontdek nie. Hierdie Persoon het Hom egter deur sy woord aan ons geopenbaar. Calvyn sê dat die Skrif ons bril is – die lense waardeur ons God, die wêreld en onsself moet sien. Toe Jesus vir sy dissipels vra of hulle Hom nie wil verlaat nie, antwoord Petrus:  Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee (Johannes 6:68)

 

Hoekom sê ons dat God se woord noodsaaklik is?

  • Dit openbaar aan ons ‘n ander soort wysheid
  • Dit kom van ‘n ander Bron
  • Dit vertel vir ons van ‘n ander liefde

Die fantastiese vier

Die woord van God is voldoende, duidelik, gesagvol en noodsaaklik. As dit waar is, hoekom lees, bestudeer, memoriseer mense nie die woord nie? Hoekom leer hulle nie ander die woord nie? Hoekom bou ons ons gemeentes op ‘n swak fondament van pragmatiese filosofie? Hoekom gebruik ons die woord so min in ons eredienste? Hoekom sing ons liedere sonder enige Bybelse substans?

God se woord is finaal, verstaanbaar, noodsaaklik en voldoende. Maar hierdie eienskappe van God se woord word voortdurend aangeval. Christene moet daarteen waak en veg.

Miskien is dit belangrik om te kyk na wat Jesus Christus van die woord gedink het.