God soek nie helde nie

image_pdfimage_print

 

“We are born broken. We live mending. The grace of God is the glue.” —Eugene O’Neill

God soek nie helde nie

Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop (Hebreërs 12:1).  Die beeld van die Christelike lewe as ‘n wedloop kry ons dikwels in die Bybel. As ons vandag van ‘n wedloop hoor, dink ons onmiddellik aan individualisme en kompetisie. Maar ons vergeet die begin van hierdie vers: Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik … Die Christelike lewe is meer ‘n aflos as ‘n individuele wedloop.

 

In haar boek Unstoppable sê Christine Caine dat ons die perspektief dat ons deel van iets groter is en dat ons getrou moet wees daar waar ons is, moet behou. Daarin verwys sy na die finaal van die 4 X 100 meter aflos vir vroue by die Olimpiese Spele in Sydney. Hoekom is die belangrik? Die VSA was die gunsteling; hulle loop voor; een slordige aangee tussen twee hardlopers beteken dat hulle na die Bahamas en Jamaica eindig. In 2004 word die span van die VSA gediskwalifiseer, want hulle het die stokkie buite die oorgeesone oorgegee.

 

Ons kry dieselfde in die kerk. Ons wil die grootste en vinnigste wees. Ons vergeet egter dat ons deel van ‘n interafhanklike geheel is. Daar is ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons. Ons dra tans die stokkie van geloof. My erfenis is nie hoe groot my bediening is nie, maar hoe ek daardie geloofstokkie oorgee en dat ek seker maak dat ek nie langer aan die stokkie vashou as wat ek behoort nie. In die Christendom wen niemand voordat almal oor die eindstreep is nie. Ons praat so baie van persoonlike geloof en persoonlike verlossing – en dit is belangrik – maar net so belangrik is dit om te besef dat ons deel van ‘n ewige afloswedloop is. Ons is verantwoordelik vir die oorgee van die stokkie aan die volgende geslag.

 

Die probleem is ‘n groot misverstand by baie Christene: as dit nie iets groot is nie, steur Gog Hom nie daaraan nie. Wat God van my verwag, is dat ek in my baan, soos al die ander, moet hardloop. Daar doen ons die goeie werk waartoe God ons geroep het.

 

Jesus soek nie helde nie – Hy soek medewerkers. Die probleem is dat baie van ons medesterre en nie medewerkers wil wees nie. As jy ‘n medewerker is, kan jy werk net daar waar jy is.

 

image_pdfimage_print