God tug my omdat ek gesondig het?

image_pdfimage_print

Seeking to “free” sexual love from old restraints, we’ve “freed” it from its meaning, responsibility, and exaltation. – Wendell Berry

 

God tug my omdat ek gesondig het?

Vraag: Die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem. Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? (Hebreërs 12:6 0 7).

 

Beteken dit nou dat swaarkry, siekte, ens gebeur omdat God sy kinders tug? Wat van die swaarkry van ongelowiges? Is dit God wat hulle tug? Is dit straf vir hulle sonde? Beteken dit dat slegte dinge (of net sekere slegte dinge) wat met Christene gebeur,  gebeur omdat God ons tug? As ‘n Christen griep of kanker kry of as hy in ‘n motorongeluk is of sy werk verloor – moet ons dit as God se tug sien? Natuurlik is God soewerein oor alle dinge, maar as slegte dinge met Christene gebeur, is dit God se tugtiging of gebruik God dit vir ons beswil?

 

Hierdie vraag het ‘n leser na die Gospel Coalition se blog gestuur. Ek gebruik dit hier, want dit is ‘n vraag waarmee almal van ons op een of ander stadium mee sukkel.

 

Antwoord:

Prof D. A. Carson het die vraag geantwoord.

Daar is gedeeltes waar God katastrofiese oordeel bloot as vergelding stuur. Dink aan die vernietiging en dood van Saul – Samuel kry selfs opdrag om nie meer vir hom te bid nie. Daar is gedeeltes waarin mense vir jare lank ly wat glad nie aan ‘n onmiddellike sonde verbind kan word nie – die blinde man in Johannes 9. In hierdie geval moet ons aanvaar dat sy blindheid deel van lewe in ‘n gevalle wêreld is. Hy sou nie blind gebore gewes het as Genesis 3 nie plaasgevind het nie. Aan die ander kant is dit deel van God se voorsienigheid – Jesus sê dat hy blind is sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. Ons kan ook dink dat in sommige gevalle lyding as gevolg van sonde is – Jesus sê vir die man wat al 38 jaar verlam was: Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets erger met jou gebeur nie (Johannes 5). Hier mag tug ter sprake wees.

 

Daar is gedeeltes wat lyding nie die gevolg van ‘n direkte oortreding was nie. Hoe verklaar ons dit?  Daar is die enigste “verduideliking” dat ons God wie se mag en kennis oneindig groter as ons s’n is, moet vertrou. Hier dink ons byvoorbeeld aan Job.

 

Dit is duidelik dat ons uit hierdie verskeidenheid gedeeltes ten minste drie gevolgtrekkings met belangrike pastorale implikasies kan maak:

  • Ons gaan groot foute maak as ons enige van hierdie gedeeltes neem en aanvaar dat hulle alle lyding verduidelik. Daarvoor is hulle te uiteenlopend. Ons kan tog nie Saul se situasie op Job van toepassing maak nie. ‘n Christen moet nie aanvaar dat elke geval van lyding wat hy ondervind noodwendig die gevolg van God se tug vir ‘n spesifieke sonde is nie. Net so kan ‘n Christen nie aanvaar dat God dalk nie sy lyding as tugtiging gebruik nie.
  • In elke geval van lyding is God besig om baie dinge te doen al sien ons net twee of drie raak. ‘n Christenvrou in haar middeljare wat gevorderde borskanker ontwikkel: Berei Hy haar voor vir die ewigheid – dit is genade om te weet jy gaan sterf en tyd te hê om jou daarvoor voor te berei? Is God besig om haar 20 jarige seun wat ongelowig is, te skok sodat hy homself ondersoek?  So kan ons aan baie moontlikhede waarmee God besig is, dink. Soms moet ons net stilbly en in geloof bely dat ons nie alles begryp wat God besig is om te doen nie. Ons weet dat Hy getrou is – Hy het sy Seun gestuur om vir ons te ly.
  • Lyding is ‘n geleentheid vir selfondersoek God mag met ons as ons wyse hemelse Vader praat – iemand wat diegene wat Hy liefhet tugtig. Dit mag sy reaksie op spesifieke sondes in ons lewens wees. Dit mag wees dat Hy ons sterker maak sodat ons sal ophou dink Hy skuld ons gesondheid en welvaart. Of, soos in Job se geval, het God dalk ‘n weddenskap met Satan aangegaan. Ons selfondersoek moet eerlik wees, maar ons moenie glo alle sleg wat met ons gebeur as gevolg van my persoonlike sonde is nie. Maak nie saak wat die oorsaak van ons lyding is nie – die antwoord is altyd dieselfde: Gaan na die kruis en vertrou jou goeie, genadige en heilige Vader.

 

Maklik formules om die ingewikkelde probleem van lyding te verstaan help nie. Dit reduseer die probleem en dit is swak teologie.

 

image_pdfimage_print

You may also like...