“GROEN”-TEOLOGIESE PERSPEKTIEWE IN DIE BYBEL?

image_pdfimage_print

“GROEN”-TEOLOGIESE PERSPEKTIEWE IN DIE BYBEL? – Kobus Kok

1. Inleiding

Deesdae is alles groen! Ons is op soek na groen motors, groen geboue, groen gasstowe, groen swembaddens en selfs groen boeke – boeke wat uit herwinde papier gemaak is. Ek weet van ʼn sekere uitgewer wat net herwinde papier benut. Nou die dag het ek en my vrou vir ons seuntjie “groen” klere gekoop by ʼn winkel wat daarop aanspraak maak dat dit herwinde en natuurlike materiaal gebruik.

 

Die vraag is of ons enige iets uit die Bybel kan leer oor “Groen” wees? Die ander vraag is hoe mens te werk gaan om so ʼn “Groen” perspektief te ontgin? Dit is ʼn belangrike vraag, omdat die Bybelse wêreld en ons wêreld nie net kultureel nie, maar ook histories, in terme van tyd, duisende jare verwyder van mekaar is. Ons hedendaagse probleme was nie eers op hulle radar nie.

Hierdie artikel is vir diegene geskryf wat meer “akademies” na die saak wil kyk en gee so bietjie meer diepte perspektiewe as gewoonlik. Dit doen ook as ʼn leerervaring sodat u kan sien hoe ons tipies so ʼn vraag sal benader. Dikwels kry u net die punt van die ysberg, en los ons die “kombuiswerk” by die huis. Vandag wil ek so bietjie vir u wys hoe die “kombuiswerk” lyk wat die “gebakte koek” voorafgaan.  

 

1. 1.    Was die ekologiese krisis enigsins op die Bybelse radar?

Uit die aard van die saak was die ekologiese krisis nie op die radar van die vroeë “Christelike” beweging nie. Soos ons almal weet beteken dit egter nie dat die huidige sensitiwiteit vir die herstel van die aarde, nie raakvlakke het met dit wat ons reeds in die Nuwe Testament of vroeë kerklike literatuur vind nie. Dit hang net af hoe gesofistikeerd mens se hermeneutiese raamwerk (verstaansraamwerk) en metodologie is. Persoonlik dink ek dat Edward Schillebeeckx se “kritiese korrelasie” metode ons hermeneuties die beste met die betrokke vraag kan help. Sy kritiese korrelasie metode trek die verband tussen “toe” (verede) en “vandag” (hede) deur altwee deur die lens van die ander in kritiese dialoog met mekaar in verband te bring.

 

In die Nuwe Testamentiese wetenskaplike veld het geleerdes (bv David Horrell [sien hier onder]) die laaste paar jaar uit die aard van die saak vinnig begin om oor die ekologiese krisis te besin. Daar is basies twee perspektiewe: Daardie geleerdes wat meen dat dit heeltemal anachronisties (ongetrou aan die antieke tyd) is om enigsins die vraag oor die ekologie aan die Bybelse teks te vra; en ander wat meen dat dit wel implisiet en selfs eksplisiet in die Bybelse tekste na vore kom. Myns insiens het die Bybel baie implisiete perspektiewe wat ons kan help om ʼn “Groen” teologie te ontwikkel, in pas met die derde millennium. Die teks wat die sterkste gebruik kan word in die projek is Kolossense 1:15-20vv wat hier onder bespreek word, in gesprek met Romeine 8 en selfs Johannes se evangelie, soos ek hier onder breedvoerig sal verduidelik.

 

2. Definisie/woordgebruik

Waar om te begin? Wel, ons kan by ʼn basiese woord of definisie begin, soos die Griekse woord oikodomê. Die assosiatiewe, denotatiewe en konnotatiewe aspekte van die woord en die begrip kan natuurlik ook aangewend word om die “Sache” (Basiese saak) van “bou/konstrueer/rekonstrueer/selfs versorg” te ondersoek. Daar is dus baie implisiete konsepte wat assosiatief met die projek in verband staan en waarna mens kan kyk. Indien mens na die woord oikodome kyk in Band 5 van Kittel en Friedrich se Theological Dictionary of the New Testament, sien mens vinnig dat, en hoe die woord in Hellenistiese literatuur, Joodse literatuur (soos Philo), Bybels, Buite-Bybels en vroeë kerklike literatuur (aangeheg in addendum A1) voorkom. Ek heg ook Arendt et al se Teologiese woordeboek se resultate by in addendum A3.

 

Indien mens die semantiese betekenis van die begrip ondersoek, soos dit in Louw en Nida voorkom, kan die leksikale betekenismoontlikhede van die begrip, wat die assosiatiewe en konnotatiewe aspekte verdiskonteer, handig te pas kom. Ek heg dit ook aan as addendum A2. Hulle plaas die woorde οἰκοδομέωb; ἐποικοδομέωb; οἰκοδομήc,ῆςf onder die semantiese sub-domein 74.15 wat resorteer met die semantiese domein 75 wat handel oor “to make able/capable” en ons dus as “bemagtiging” kan tipeer. Dit vorm die teenoorgestelde van “afbreek” en het die denotatiewe betekenis van “opbou” of “restoureer” of selfs “om te versterk” in plaas daarvan “om te verswak” (Kyk ook Louw en Nida 45.1).

 

Bogenoemde kontoere van die definisies en hulle implisiete semantiese betekenisse sal my lei tot die argument wat ek kortliks hier onder sal uitbou.  

 

3. Voorkoms van die woord en haar verbuigings in die nuwe testament

 groen1groen2

Vertalings van die woord sien soos volg daarna uit:groen3

4. Sommige interessante NT perspektiewe

4. 1.    Kolossense se kosmologiese perspektief

So vroeg as 1954 het Joseph Sittler al opgemerk dat dit nodig is dat ons ʼn “teologie vir die aarde” moet ontwikkel wat vanuit ʼn holistiese teologiese perspektief  die aarde kan sien as synde verweef met God se verlossende werk. In 1961 het dieselfde Sittler by die Wêreldraad van Kerke se byeenkoms Kolossense 1 geneem om die punt te maak dat die kosmiese Christologie, wat met die skeppingsaksie in verband staan, ʼn leerstellige basis skep van waaruit daar ʼn “teologie vir die aarde” geskep kan word. Myns insiens kan Kolossense 1:15-20 ʼn besondere rol speel in so ʼn teologie. Die teks is die bekende himne (lied) en dui aan dat Christus die beeld van die onsigbare God is, die eersgeborene van die ganse skepping. Interessant gaan die teks dan oor in ʼn verduidelikende of redegewende verklaring wat ingelei word deur die Griekse hoti (omdat) konstruksie. Die skrywer argumenteer deur middel van ʼn datief (in/deur) en akkusatief (vir) dat alles op die aarde en die hemel in en deur Christus geskep is. Verder word die werkwoord vir skep in ʼn passief uitgedruk, wat beteken dat ons hier met ʼn Goddelike passief te doen het. In ʼn aktiewe vorm van die Griekse werkwoord doen die subjek die aksie van die werkwoord. In die passief word iets van buite aan die subjek gedoen. In die geval is dit God wat die aarde in en deur Christus skep. Die aarde het dus die skepping “ontvang” en is nie die subjek wat die aksie van die skepping self doen nie. Dit maak die Skepping dus afhanklik van die een wat die aksie van die werkwoord doen, naamlik God, in en deur Jesus Christus. Verder word dit in ʼn perfektum vorm uitgedruk wat beteken dat dit ʼn aksie is wat plaasgevind het in die verlede maar steeds ʼn toestand/state of affairs skep wat geldig is in die hede (vgl. τὰ πάντα διʼ αὐτοῦ καὶ εἰς αὐτὸν ἔκτισται in 1:16). Die perfektum is een van die mooiste maniere om iets soos uitverkiesing uit te druk: die feit dat God ons in die verlede uitverkies het, maar ons steeds in die “toestand” of “status” van uitverkose mense verkeer. Die skrywer van Kolossense gaan selfs verder en sê dat alle dinge nie net in/deur en vir/tot hom geskep is nie, maar ook dat “in hom hou alle dinge in stand” (τὰ πάντα ἐν αὐτῷ συνέστηκεν). Agter laasgenoemde stelling lê ʼn geweldige pregnante antieke debat oor die kosmos, veral in die Griekse filosofie. Nog steeds gaan die skrywer verder met ʼn intensifisering van die argument deur die geweldige hoë Christologiese stelling te maak dat die volheid van God dit goed gevind het om in hom te woon (ὅτι ἐν αὐτῷ εὐδόκησεν πᾶν τὸ πλήρωμα κατοικῆσαι). Hier word die woord κατοικῆσαι gebruik wat “familie” is van die woord oikodomei in die sin dat beide die basis van oikos dra. Maar dan, kom die sterkste en mooiste na vore, as die skrywer van Kolossense deur middel van die hoti (ὅτι) [omdat) en καὶ die voorafgaande verbind met dit wat na die καὶ (en) volg, naamlik dat God deur hom (lw. Weer διʼ αὐτοῦ) alle dinge (τὰ πάντα ἐν τοῖς οὐρανοῖς καὶ ἐπὶ τῆς γῆς) met homself wil versoen (διʼ αὐτοῦ ἀποκαταλλάξαι τὰ πάντα), en in die proses vrede (εἰρηνοποιήσας) wil maak nie net met mense nie maar met die ganse skepping – dit wat in die hemel en dit wat op die aarde is. Meer kosmologies kan mens nie kry nie. Die woorde versoen en vrede veronderstel assosiatief dat gebroke relasie versoen word. As God se agente, as tekna tou Theou (kinders van God), is ons gestuurde agente wat God se restouratiewe visie moet uitleef. Die NT het van die begin af die gedagtegang gevolg dat mense se hande en voete die kanaal is waardeur God se restouratiewe genesingshandelinge vloei. Daarom is daar min twyfel dat ons minstens in Kolossense ʼn kosmologiese visie van restourasie, vrede en versoening het wat breër verstaan kan word as die kerk of net mense. In Kolossense kry ons die prentjie van ʼn God wat met die ganse skepping besig is en wat sy mense ook wil deel maak van sy besig wees.

4. 2.    Perspektiewe op Johannes

Myns insiens kan die visie van Johannes ingetrek word in die ekologiese debat omdat Johannes 1:1-18, soos Kolossense, Jesus direk verbind met die skeppingsaktiwiteit (kyk Joh 1:3-4). Jesus se genesingshandelinge in Johannes getuig almal van hoe Jesus gebrokenheid restoureer en gemarginaliseerdes herstel. Die visie van Johannes se Jesus is die van restourasie en die skep van lewe. Dit is die belangrike – dit is die “Sache” wat deur middel van Schillebeeckx se kritiese korrelasie die brug tussen die verlede en die hede kan bou en dialogies-kreatief sake soos die vernietigende ekologiese krisis deur middel van die heuristiese kategorieë ter sprake kan aanspreek. In Johannes se dualisme is lewe die teenoorgestelde van dood en vernietiging. As Agent van Lewe is Jesus die bemiddelaar en beliggaming van God se wesenlike leweskeppende aard. Die siekte van mense was die “gevallestudie” wat Johannes gebruik het om die “Sache” (Saak) aan te toon dat Jesus gebrokenheid restoureer. Dit gebeur ook in die “herstel” of “restourasie” van Petrus (ʼn teks wat dalk bygevoeg is, maar nie te min).

 

In Johannes se verhaal beland die lewe-skeppende Jesus uiteindelik self aan die kruis en “beliggaam” die gebrokenheid. Maar dan vind die opstanding plaas, en anders as in die Sinoptiese evangelies is Jesus die een wat sy eie lewe weer optel (Joh 10:17vv) – juis omdat Johannes se Jesus die bron van lewe is (vgl. Joh 1:4). Die verskyning aan die dissipels ondersteun verder die tese dat Jesus die bron van lewe is wat gebrokenheid restoureer. Die dissipels verkeer agter geslote deure in Johannes 20 in vrees (φόβον –vgl. Joh 20). Hulle beliggaam ook iets van die gebrokenheid en uitsigloosheid van die konteks waarin hulle verkeer. Maar dan verskyn Jesus in hulle midde. Johannes se Jesus doen iets unieks – Hy spreek restouratiewe vrede (λέγει αὐτοῖς· εἰρήνη ὑμῖν) oor hulle, en dan blaas (ἐνεφύσησεν) hy oor hulle en stuur hulle uit om sy lewe-gewende handelinge te gaan voorsit (καθὼς ἀπέσταλκέν με ὁ πατήρ, κἀγὼ πέμπω ὑμᾶς). In die vroeë kerk het Irenaeus al opgemerk dat met die blaas aksie het Johannes gesinspeel op die skeppingsverhaal waar God lewe in die “dooie” Adam blaas, en ook na Esegiël 36/37 waar God die profeet beveel om oor die dooie, hooplose beendere te blaas wat daarna nuwe restouratiewe lewe en hoop ontvang. Uiteindelik eindig Johannes se storie met die boodskap dat daar in hierdie wêreld dood en vernietiging sal wees (vgl. Joh 10:10; 8:44), maar dat Jesus gekom het om restouratiewe lewe te skenk – en dit in oorvloed. Die beste van alles is dat Johannes die leser in sy teks retories (oorredend) op die punt wil kry om te verstaan dat elke gelowige ʼn gestuurde is (Joh 20:21 καθὼς ἀπέσταλκέν με ὁ πατήρ, κἀγὼ πέμπω ὑμᾶς), ʼn agent van genesing wat God se restouratiewe lewensmoontlikhede moet bring in kontekste van gebrokenheid en verlies van lewe(nsmoontlikhede). Vandag sluit dit die gebrokenheid van die ekologie in. Elke tyd het sy eie krisis en sy eie gebrokenheid – miskien is die ekologiese krisis een van die grootste krisis momente in die geskiedenis van die mensdom. 

 

5. Die eerste “Christene” as Jode

In die laaste paar jaar beklemtoon Nuwe Testamentiese wetenskaplikes die belangrikheid van die feit dat die term “Christen” anachronisties in terme van die eerste eeu was. Die term Χριστιανούς(Christen) in Hand 11:26 is eers baie laat teen die einde van die eerste eeu deur die Christus navolgers gebruik as ’n selfbenaming. Ons sien byvoorbeeld nog in die vroëe kerklike skrywer Diognetus in die tweede eeu hoe die saak nog nie heeltemal uitgeklaar is nie. Hierdie hele debat resorteer onder die “Parting of the Ways” debat. Hoe dit ookal sy – dit is waarkynlik meer akkuraat om die Pauliniese geskrifte te lees as Joodse geskrifte en nie as Christelike geskrifte asof die “parting of the ways” alreeds gebeur het nie. Dit beteken dat die implisiete simboliese universum van die Bybelskrywers soos Paulus, wat nie tot bekering gekom het uit die Judaisme uit na die Christendom nie, maar ’n inner-Joodse bekering ondergaan het, nog eg Joods was. Jesus se eie broer Jakobus het steeds gereeld tempel toe gegaan en Petrus hulle in Jerusalem het nog steeds Jode gebly na Jesus se dood (kyk Hand 15 en Gal 2). Met ander woorde, die Bybelskrywers se kosmologie was sterk ingebed in die Joodse simboliese universum, wat opsigself eintlik redelik divers was, soos ons sien in kontemporêre Joods-Hellenistiese denkers soos Philo van Alexandrië wat ’n tydgenoot van Paulus was. Hoekom dit belangrik is vir die hermeneutiese verband tussen “toe” en “nou”, is omdat die Bybelskrywers se gedagtegang beinvloed was deur die Joodse eskatologiese denke, waarvolgens die kosmos vernietig gaan word (kyk bv Joel 1:15; Amos 5:18-20; Paulus in 1 Thess 4: 16-17; 5:2-3; Mark 13). In die Petrus tradisie (en Petrus is “ou-skool” Joods in Paulus se oë [vgl. Gal 2]), spesifiek in 2 Petrus 3:10-13, word gelowiges aangemaan om die dag van die Here te verwag, en dat dit met vernietiging gepaard sal gaan. Dieselfde geld vir die latere tekste in die NT soos Openbaring (geskryf 90-110 nC).

 

Met ander woorde, dit is duidelik dat die kosmologie en die eskatologie van die Joods-denkende Bybelskrywers verdiskonteer moet word indien ons by hulle wil kers opsteek oor kontemporêre ekologiese krisis omstandighede. In hulle denke was daar wat die Duitsers soos Michael Wolter ‘n “Begründungszusammenhang” noem – dit is ’n inter-relasionele verband tussen identiteit en etos wat alles ingebed was in ’n bepaalde Joodse manier van kyk na die wêreld. Mens moet dus eintlik die die hele pakkie vat, en indien mens dit nie doen nie dan is mens reduksionisties, etnosentristies en anakronisties met die teks besig. Die vraag is dus steeds die kritiese korrelasie vraag, en daarom dink ek dat Schillebeeckx se benadering die meeste kan help omdat hy erns maak met die kontemporêre wêreldbeeld en die antieke wêreldbeeld en die twee met mekaar in kritiese dialoog bring.

 

In die Joodse denke was die beskerming en die versorging van die aarde ’n belangrike saak (kyk maar net Gen 1:26-28; vgl. Met Openb 4:1-11). Die antieke mense was geweldig afhanklik van die land en selfs in die wette van die Jode word die Sabbatsjaar ingebou (Lev 25), ’n konsep wat ten doel het om die land te “genees”. In die Joodse simboliese universum  sien ons dus duidelik die spore van mense mense wat besef het dat die aarde nie geëksploiteer moet word, of gedomineer moet word nie, maar eerder versorg en gerestoureer moet word. Vir die Jode was die konsep van herstel en rus belangrik. Dit het aangesluit by ’n teologiese selfverstaan – “omdat God…. daarom doen ons so….”

 

In die Nuwe Testamentiese etiek onderskei ons tussen identiteit, etos (leefstyl) en etiek, op grond van die wyse waarop Aristoteles oor die etiek gepraat het. Die antieke mens as diadiese of groepsgeorienteerde individu, het sy/haar persoonlikheid altyd in terme van die groep en in lyn met die waardes van die groep gevorm. Van moderne individualisme was daar nie sprake nie. Die identiteit van die Jood was ’n kollektiewe verstaan van identiteit. In die Joodse kollektiewe verstaan van identiteit was God die skepper-God en mense het deur middel van  hulle konkrete leefstyl hulle identiteit uitgeleef. Hulle het ook geglo “wat jy doen sê wie jy is, en wie jy is sê wat jy doen”. Dus, ons kan aanneem, dat in die wesenlik Joodse Christus-volgers in die eerste eeu, het die Joodse gedagte van die omgee van die gemarginaliseerdes en die gee van tiendes steeds gefunksioneer, behalwe dat dit deur die lens van die Christusgebeure gereinterpreteer is. Net so sou die “aardse” teologie van versorging van mens en natuur (vgl. Gen 2:15) in hulle denke ’n rol gespeel het (vgl. Rom 8:19-23). Was hulle dus “ekologies sensitief”? Ja, natuurlik – in die ware sin van die woord. Daarom is dit redelik veilig om te argumenteer dat die NT skrywers soos hulle Joodse tydgenote ‘n “Bybels [OT]-ekologiese etiek” sou hê, en dat die mens die verantwoordelikheid het om dit “wholesome” te bestuur (vgl. Lev 25). Die vroeë Christene, soos ons sien uit al die aanhalings uit Jesaja, sou bewus gewees het van Jesaja se mooi visie van ’n toekoms waarin daar vrede tussen die mens die natuur sal wees (Jes 11:6-7; Kyk ook 65:6vv). Inherent in hierdie gerestourede “aardse” teologie is die belofte van God se geregtigheid en bevryding wat sal aanbreek – ’n tyd waarop die gevangenis bevry sal word, die armes verlos sal word. In die evangelies is dit Jesus wat hierdie visie laat realiseer – en die Jesus wat sy volgelinge oproep om dieselfde te doen. By Paulus sug die aarde steeds (Rom 8:19-23), maar word gelowiges opgeneem en ingetrek in die restouratiewe plan van God vir die ganse skepping (vgl. Pauliniese tradisie in Kol 1:15-20).

 

6. Verdere Bronne:

Prof. David Horrell is ‘n bekende Nuwe Testamentikus aan die Universiteit van Exegeter wie se werk mens gerus kan raadpleeg (kyk gerus http://humanities.exeter.ac.uk/theology/staff/horrell )

 

  • Horrell, D.G, Hunt, C. & Southgate, C., 2008, ‘Appeals to the Bible in Ecotheology and Environmental Ethics; A Typology of Hermeneutical Stances’, SCE 21, pp. 219-238.
  • Horrell, D.G., 2010, Ecology and the Bible, Equinox.
  • Horrell, D.G., 2011, ‘Ecological ethics’, in Green, J.B., Dictionary of Scripture and Ethics, pp. 255-260, Baker Academic, Grand Rapids.  

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 

image_pdfimage_print

You may also like...