Heilige Skrif

image_pdfimage_print

Heilige Skrif

Dogmenhistories is dit duidelik dat die Protestantse skolastiek die sola scriptura oorspan het. Dit is losgemaak van die regverdigingsleer wat alleen deur Christus kan geskied en deur die ander sola-uitsprake gekwalifiseer moet word.

Inderdaad word die indruk dan geskep dat die Bybel by die Protestante, die plek van die kerk by die Rooms-Katolieke Kerk ingeneem het. Dit voer ook tot die futiele vraag wat eerste is, die kerk of die Bybel? Ons moet fundamenteel tussen die Skrif, die Woord en die openbaring onderskei. Dit is prinsipieel korrek om by die openbaring te begin as synde die gratia praeveniens van God, maar is noëties gewoon nie moontlik nie. Openbaring kan ook nie as die loodregte inbreuk van bo gesien word wat in die Skrif gestol het nie. Die Bybel is nie ‘n stuk sediment van die openbaring waarop greep uitgeoefen kan word nie. Openbaring kan nooit verobjektiveer word nie. Openbaring is immers nie iets van God nie, maar God sélf wat genadiglik na sy skepping toe uitreik. Dit is inderdaad ook ‘n vraag of die woord openbaring enigsins nog die debat dien. Die verskillende modelle van openbaring dui daarop dat die teologie in elk geval eerder met ‘n hibriede verstaan van openbaring sal moet klaarkom. Waarskynlik is die coram Deo of “God met ons”, gunstige alternatiewe om in hierdie opsig te oorweeg; nie net die geskiedenis nie, maar ook die natuur word sodoende verreken.

God kom tot spreke in Jesus Christus, of dalk beter geformuleer, “Jesus Christus is die Spreker van God se Woord in die geskiedenis.” Dit beteken minstens die volgende vyf perspektiewe: dat God in die menslike geskiedenis inkom en met die mens in gesprek tree; God se openbaring is nie onhistories, metafisies of orakelagtig nie; God het op ‘n baie spesifieke tyd en plek Homself geopenbaar en is soos elkeen van ons in ‘n konkrete situasie te interpreteer; omdat Jesus die Spreker van Gód is, het die uitwerking universele draagwydte en oorstyg dit ruimte en tyd; en laastens, God praat met die mens in ‘n menslike taal en bedoel dus om gehoor en verstaan te word. As Christengelowiges kan ons nie by hierdie saak verbygaan nie en durf ons ons nie veroorloof om “agter die skerms” insig te bekom nie. Ons kan alleen oor God in sy ekonomie van heil praat. Dit is sowel eksegeties as hermeneuties onhoudbaar om die Skrif so uit te lê dat dit ‘n immanente prinsipe kommunikeer. ‘n Ontologie van die Skrif bestaan eenvoudig nie.  Daarvoor is die diversiteit van getuienis net te vanselfsprekend. Die gelowige kan egter vanuit persoonlike oortuiging en gevorm deur sy of haar simboliese universum, in die Bybel wel onderskei tussen middelpunt en omtrek, pieke en vlaktes, sonder om formeel ‘n kanon in die kanon te probeer daarstel. Daarvoor is ons insigte immers te subjektief en voorlopig. Bybelse begronding beteken dus ook nie om Bybelversies te siteer nie. Nie alleen doen dit onreg aan die integriteit van die teks in sy geheel nie, maar verdoesel dit ‘n voorveronderstelling waaruit gelees word. Bybelse begronding is om God se spreke in Jesus Christus soos getuig in die Skrif en geïnterpreteer deur die geloofsgemeenskap, te laat hoor. Die Bybelse begronding vind plaas wanneer die integriteit van die Skrif erken word, ‘n gees van afwagting en oortuiging bestaan en God in die tweede persoon enkelvoud, as die “U” (Buber), gehoor word. Die Skrif verklaar homself is dus geen eksegetiese tegniek nie, maar die oortuiging dat God in Jesus Christus tot spreke kom. Te midde van ‘n ná moderne pluralisme, is hierdie die “meta-narratief” waaraan die Christelike kerk ononderhandelbaar bly vaskleef.

Geloof is daarom die sine qua non om die Skrif in hierdie lig te lees en te verstaan. Wedergeboorte is om deur die Gees van God aangeraak te word en te erken dat Jesus die Christus is. Konfrontasie hiermee disoriënteer die mens, maar heroriënteer ook. Daarom sal die appèl tot bekering en versoening in Skrifverstaan ook altyd gehoor en nagestreef moet word. Die leser kom altyd met ‘n bepaalde verwagting na die teks toe en hierdie verwagting moet in terme van eksistensieel-kontekstuele vrae interpreteer word wat weer aan Bybelse antwoorde korreleer. Webster is waarskynlik reg wanneer hy die uitwerking van God se openbaring in die heiligmaking en inspirasie sien. Hierdie geloofsverhouding as uitgangspunt vra uiteraard dat die Adam in ons gekruisig moet word. Die Evangelie druis teen alle natuur in en vanselfsprekende antwoorde is juis onevangeliese antwoorde! Die Skrif Alleen begin met spanning en konflik – dit spreek so anders as wat menslik gesproke, dikwels graag gehoor wil word. Calvyn stel dat wanneer die Woord van God deur die Bybel wel tot spreke kom, dit die lesers verras, oorweldig, uitdaag, ontstel, konfronteer, verbaas. Dit is die Gees wat by die letter kom, die evangelie by die wet, die belofte op die vervulling. Die gesag van die Skrif is dus ‘n ontmoetingsbegrip wat ‘n Jeremia kon laat sê: “U was te sterk vir my, U het gewen” (Jeremia 20:7).

Maar dis nie net ‘n saak tussen my en God nie. Die ek-U relasie kort ook die derde term van hy/dit. Die mens is altyd ingebed binne ‘n kultuur-linguistiese nis wat alle verstaan bepaal of minstens beïnvloed. Gister se openbaring is vandag se tradisie en dit weer vorm die basis vir môre se insigte. Openbaring moet vasgelê word, maar tegelyk ook “deurvertaal” word. Sonder vertolking verstar die geloof in proposisies en sonder vaslegging vervloei dit in persoonlike opinies. Die Heilige Skrif is dus die vaslegging van die getuienis van God se betrokkenheid in die geskiedenis. Dit is daarom altyd ook geïnterpreteerde Skrif. Dit is nie die openbaring self nie – net die getuienis daarvan. Karl Barth het waarskynlik te ver gegaan om die Woord drievoudig te verstaan: slegs die geïnkarneerde Woord is die openbaring van God – die ander is getuienis. In hierdie opsig is tradisie ook van dieselfde aard as die Skrif. Die Skrif interpreteer egter alle ervaring en moet derhalwe ook die tradisie yk. Dit is dus die ooreengekome maatstaf wat deur die geloofsgemeenskap erken word. Erken ja, want daar kan nie werklik uit die sirkelredenasie ontsnap word dat die kerk die kanon bepaal en die kanon weer op sy beurt die kerk konstitueer nie. Tog wil die geloof ook hê dat die Skrif as norm herken word, dat die Skrif die resultaat van ‘n lang teologiese – én ander – oorwegings was. Daarom is die Skrifprinsipe eerder ‘n kerkprinsipe. Dit word vandag wyd aanvaar dat die narratief (“storie”) sowel wat die Skrif as die geïnkorporeerde geskiedenis betref, die mees toepaslike genre is om die boodskap in Jesus by ons te laat tuiskom. Dit skep ‘n interaktiewe Gestalt met die geloofsgemeenskap wat die individu tot ‘n eksistensiële beslissing bring (“closure”) en doen daarom reg aan die sogenaamde resepsie van die boodskap.

Die wisselwerking tussen God, mens en skepping vind in Jesus Christus ‘n konkreet-historiese gestalte. Dialoog is daarom ewe belangrik met die wêreld as met die verskillende wetenskappe wat eweneens trag om die werklikheid te begryp. Dit is die teologie se beskeie oortuiging dat hy nie net by hierdie dialoog kan baat nie, maar selfs ook ‘n bydrae kan maak. Vergelyk byvoorbeeld die aanbod wat Wentzel van Huyssteen tot die paleoantropologie maak. Waar die Skrif verstaan word in terme van Jesus Christus as die spreke van God se taal in die geskiedenis (oftewel skepping), raak hierdie gesprek soveel te meer onontbeerlik. Dit gee ons ook insig op sake veral soos die natuur, die tyd, die kwaad, die goeie en die mens. Omdat die Skrif nie ontologies as bron verstaan kan word nie, maar as getuienis daarvan, is die felle debat met die RKK oor die tradisie ook grootliks gerelativeer. Die kerk kan ook nie deur ander getuienis onaangeraak wees nie. Die verskil tussen voorlopig en volkome (kyk weer Art 7 van die NGB) is weliswaar gradueel, dog nie prinsipieel nie. Maar hiermee word die terrein van die eskatologie betree.  

 

Skrywer: Prof Johan Buitendag

 

image_pdfimage_print