Herdoop – Francois Malan

Amanda vra:

Ek is tans besig met bybelstudie oor die doop. Ek is klein gedoop en my kinders ook in NG kerk. Soos ek dit verstaan dan neem die ouers dit op hulle om jou kinders te leer van Onse Here Jesus Christus. Waar ek nou woon gaan ek na ‘n Engelse Kerk toe en hulle seën die kinders in en die ouers word groot gedoop. Moet ek nou weer gedoop word?

My ander vraag is Numeri 22-24. Kortliks ek verstaan dit verskillend van die DB as wat ek dit in AF53 lees. Dit noem hy was geldgierig, maar hy het nie die geskenke aanvaar nie. Ek sal dit waardeer as jy net vir my kortliks kan reg help oor hom dat ek hom nou kan weg bêre.

Antwoord

Dit is nie nodig om weer gedoop te word nie. Die doop is die uiterlike teken wat die Here vir ons gee dat Hy ons uit genade aangeneem het as sy kind vir wie die Here Jesus Christus aan ’n kruis gesterf het, waar Hy as ware mens en ware God die straf van die sonde van die mensdom op Hom geneem het (vgl. Johannes 1:29).

Die agtergrond van die doop is die verbond wat die Here uit sy genade met Abraham en sy nageslag en al hulle geslagte gesluit het (opgeteken in  Genesis 17:1-27). Dit is ’n blywende verbond: ‘Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en hulle geslagte. Dit is my verbond wat moet geld vir jou en vir jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word…elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word’ (17:7-12). Selfs die slawe in diens van Abraham en hulle kinders is in die verbond ingesluit (17:7-12). Die besnydenis van die seuns was die uiterlike teken van die ou verbond.

Jesus het ’n nuwe verbond met ons kom sluit waar seuns en dogters die doop as teken van die verbond van God se genade ontvang. In die nuwe verbond is hele gesinne ook gedoop (vgl. Kornelius en sy hele huis,  Hand. 10:2,24,48; 11:14; ook die tronkbewaarder van Filippi en sy hele huishouding, Hand. 16:31).

Die doop is nie ’n prestasie van ‘n mens nie, maar die teken waarmee God in genade aan die mens bevestig dat Hy ons aanneem as sy kinders. As ons eenmaal gedoop is, is ’n tweede doop nie nodig nie, maar dat ons vertrou op die Here wat ons as sy kinders aangeneem het, deur ons aan sy Seun se offer vir ons sonde te verbind en ons daarom al ons sonde van ons hele lewe vergewe, al bly dit nodig dat ons nog daagliks vra om die vergifnis van ons sonde soos Jesus ons leer bid het om ons daaglikse brood, en om vergifnis van ons sonde. Maar God verwag van ons om ook mekaar te vergewe (vgl. Matteus 6:11-12; 14-15). Hy verwag nie van ons ’n tweede doop nie, want dit is sy teken wat Hy vir ons klaar gegee het.

Die tweede vraag is nie duidelik nie. Na watter teks verwys Numeri 22-24? Ek kry niks van geldgierigheid in die drie hoofstukke nie. Wat beteken ‘die DB’?

Skrywer:  Prof Francois Malan