Herhaalde oproepe tot gebed – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Danie vra:

Elke keer as ons opgeroep word om te gaan saamtrek oor iets wat ons raak, of daar is een of ander krisis en ons word opgeroep om te gaan bid of om massa-saamtrekke en protesoptredes te hou om die Here se ingryping te vra, dan is ek in die war.

Laat ek dit net duidelik stel, ek het niks teen gebed nie solank gebed gaan oor God se almag, grootheid en dat alle eer Hom toekom.

My vraag is, as ons opgeroep word om saam te trek en dan te bid oor o.a. plaasmoorde, wat wil ons hê moet God doen? Verder, wat doen óns? Dan, as ons nou so saambid, wat is die “bidders” se verhouding met God? Aren’t we just going through the motions?, soos daar op Engels gesê word. Met ander woorde, is ons nie bloot meelopers, massabidders wie se lewe nie noodwendig getuig van ‘n hartsoorgawe aan Jesus nie. Is dit nie so dat ons eerder 24/7 in ʼn lewende verhouding met God moet staan nie?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek het nogal simpatie met die vraag. Want geloof kan maklik ontaard in ‘n soort krisisgeloof. Ons gaan voort met ons daaglikse dingetjies sonder om ons werklik aan God te steur. Maar laat daar net een of ander krisis ontstaan in ons persoonlike lewe of in die groter samelewing, dan wil ons skielik hê God moet soos die nooddienste gereed staan om in te gryp en te red. So asof Hy nie in elk geval elke dag sorg en weet wat ons nodig het, nog voordat ons Hom vra nie. Hy het immers nie ‘n stortvloed woorde nodig om oortuig te word van ons nood en behoeftes nie (Matt 6:8). En verder het ons ook die opdrag om gedurig – 24/7 – te bid (1 Tess 5:17; vgl Luk 18:1; 21:36; Rom 12:12). Dit beteken ons lewe moet in die teken staan van voortdurende en volgehoue afhanklikheid en erkenning van God. Want so gee die gelowige blyke daarvan dat hy/sy deur Christus in ‘n lewende verhouding met God staan. En van so iemand kan gesê word: Hy/sy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie (Ps 1:3). Daar is ‘n konstante stroom van God se lewe wat hom/haar voed.

Dit beteken egter nie dat daar nie buitengewone geleenthede mag kom waar gelowiges op ‘n spesiale manier voorbidding by die Here doen nie. Daar is talle voorbeelde hiervan in die Bybel. Mens dink hier aan koning Hiskia wat ten dode toe siek word en by die profeet Jesaja hoor dat hy gaan sterf. Hiskia pleit toe by die Here om gespaar te word, en die Here voeg nog 15 jaar tot sy lewe toe (2 Kon 20:1-11). Daar is ook die geval van die profeet Jona wat die opdrag kry om aan die stad Nineve te gaan verkondig dat die Here hulle stad gaan vernietig oor hulle goddeloosheid (Jona 1:1; 3:4.) Dan het die Nineviete berou oor hulle sonde en hulle roep ernstig tot God, waarop God sy besluit om die stad te verwoes omkeer en die stad en sy mense spaar (Jona 3:1-10). Ons lees ook van Hanna wat kinderloos was en ernstig in die heiligdom haar lot by God gaan bekla. Hierna word sy swanger en Samuel word gebore (1 Sam 1). Paulus het ook herhaaldelik sy hart by die Here uitgestort oor die doring in die vlees wat hom gepla het. Maar die Here het nie gegee wat Paulus gevra het nie; Hy het bloot gesê sy genade is genoeg vir Paulus (2 Kor 12:7-9). Selfs Jesus het sy Vader gesmeek dat die lydensbeker by Hom sou verbygaan, maar Hy ontvang troos en versterking uit die wil van sy Vader wat toe anders was as sy (Jesus se) versoek (Matt 26:36-46).

Behalwe wat die Nineviete betref, is die gemeenskaplike element in genoemde gevalle dat dit mense was wat ‘n lewende verhouding met God gehad het en seer sekerlik ook ‘n normale gebedslewe beoefen het. Nogtans het hulle in ‘n besondere noodsituasie dit nodig gevind om op ‘n spesiale manier hulle versoeke aan die Here in gebed bekend te maak. Die normale sluit dus nie die buitengewone uit nie. Mense, ook gelowiges, is kragtens hulle menswees en die aard van die lewe dikwels in ‘n eksistensiële noodsituasie wat die behoefte aan ‘n “spesiale gebedspoging” laat ontstaan. En of dit individueel of in groepsverband geskied, maak nie regtig saak nie; vanuit ‘n geloofsoogpunt is beide struktureel presies dieselfde. En die merkwaardige is dat God ons nie hiervoor kwalik neem nie. Al is ons sy kinders, en al bid ons gereeld, en al weet Hy in elk geval wat ons nodig het, weet Hy dat ons broos en sondig is, en soms, in spesiale gevalle, sy hulp in die besonder nodig het, of verseker wil word van sy nabyheid en sorg. Selfs die Nineviete het genade by God gevind toe hulle Hom in opregte berou genader het. God is nie ‘n God wat verwyt nie. Hy het geen behae in die dood van die goddelose nie, alleen maar dat hulle hulle sal bekeer en lewe (Eseg 18:23; 33:11). En as dit waar is van die nie-gelowige, hoeveel te meer van sy kinders?

My aanvoeling is dus dat ons nie te hard moet oordeel oor die versoeke tot spesiale saamtrekke of gebedsgeleenthede wat van tyd tot tyd voorkom nie. Maar daarmee saam dink ek ook dat dit op ‘n verantwoordelike manier hanteer moet word. In hierdie verband die volgende opmerkings:

  • Dit moet baie duidelik deur die organiseerders gestel word dat dit nie ‘n manier is om God se “arm te draai” nie. Ons moenie die indruk wek dat omdat die nood hoog is, omdat daar baie mense optrek, en omdat ernstig gebid word, daarom is God as ‘t ware verplig om te gee wat ons vra nie. God word nie beïndruk deur getalle en menslike bymotiewe nie. Wat meer is, gebedsverhoring en die toestaan van versoeke deur God is nie noodwendig dieselfde nie. Indien dit wel dieselfde was, sou ons moes sê dat Jesus en Paulus se gebede (hierbo genoem) nie verhoor is nie. En dit is tog nie waar nie. Verootmoediging voor God en gebed – veral as dit by wyse van groot saamtrekke geskied – is nie ‘n spesiale tegniek om God onder ‘n verpligting te stel om te voldoen aan ons versoeke nie. God bly nog God, en ons bly mense. Ons verstaan nie altyd waarheen God met ons op pad is nie. Daarom is die uitkoms van sulke saamtrekke dikwels anders as wat ons verwagtinge was. Maar wat ook al die uitkoms, as mense in opregtheid en met die regte gesindheid daar is, is die gevoel altyd agterna dat hulle baie seën uit sulke byeenkomste geput het, dat hulle met nuwe toewyding hulle lewe as Christene kan voortsit. En dít is waarskynlik die grootste waarde van sulke “spesiale” geleenthede.
  • Oproepe tot gebedsaamtrekke moet spaarsamig gedoen word. Die indruk moet nie gevestig word dat die buitengewone die normale Christelike lewe vervang nie. Die normale is inderdaad dat ons elke dag onsself aan God sal toewy, met die hartlike begeerte om volgens sy wil te lewe. Indien laasgenoemde geskied, is die behoefte aan buitengewone saamtrekke ook minder. Indien sulke spesiale saamtrekke die norm word, word inderdaad meegedoen aan ‘n soort krisisgeloof waarvan aan die begin melding gemaak is. Die normale geloofslewe – ook wanneer krisisse ontstaan – is nie ‘n soort godsdienstige wipwarit nie: Dán is ons bo, dán is ons onder; dán weet ons waar ons met God staan, dán is ons in totale wanhoop en benodig ons weer ‘n godsdienstige inspuiting om geestelik te kan voortgaan. So ‘n lewe is nie ‘n baie gesonde geloofslewe nie, dis eerder tekenend van ‘n onvolwasse en selfs bygelowige soort geestelike lewe. ‘n Volwasse geloofslewe is eerder een waar die verhouding met God oor ‘n lang tyd gebou en ingeoefen word en ons allengs opgroei na die beeld van Christus, en waar die krisisse van die lewe vanuit hierdie situasie geloofsmatig hanteer word (vgl Heb 5:11-14; Ef 4:13-14).
  • Maar om tog op ‘n meer positiewe noot ten aansien van gebedsaamtrekke af te sluit, moet mens sê dat afgesien van die potensieel positiewe waarde wat dit vir gelowiges mag inhou, die getuieniskarakter van buitengewone saamtrekke nie uit die oog verloor mag word nie. Dit stuur naamlik ‘n sterk sein uit na ongelowiges dat daar mense in die wêreld is wat die probleme van die lewe pertinent met God se bestuur in verband bring. Die lewe het nie maar net ‘n menslike kant nie; dis nie net ménse wat iets aan ‘n situasie kan doen nie. Die lewe het ook ‘n diep geestelike, Goddelike kant. In en deur al ons menslike aktiwiteite is God aan die werk. En soms is daar probleme en krisisse wat net so groot is dat ons besef dis net onvoorwaardelike oorgawe aan God wat ‘n verskil kan maak. Almal – gelowig én ongelowig – word gevolglik opgeroep om hierdie oorgawe te maak, by herhaling of vir die eerste keer. Veral in die hoogs gesekulariseerde wêreld waarin ons toenemend leef, kan sulke hoë profiel openbare byeenkomste die saak van God se koninkryk op aarde positief dien en bevorder. En dan is so ‘n saamtrek bloot vanuit hierdie perspektief al klaar die moeite werd. Verder, soms moet Christene ook plaasvervangend optree, namens hulle wat God nie ken of wil ken nie, namens hulle wat nie erken dat die lewe oor meer gaan as menslike vernuf, kennis en planne nie. Christene bid so juis vir en namens hulle wat nie wil bid nie. ‘n Moderne Spaanse geloofsbelydenis sluit daarom so af: “En omdat ons glo, verbind ons ons: om te glo vir hulle wat nie glo nie, om lief te hê vir hulle wat nie liefhet nie, om te droom vir hulle wat nie droom nie, tot op die dag wanneer hoop ‘n werklikheid word. Amen.” Dalk dra sulke spesiale geleenthede, wanneer reg benut, juis hierdie boodskap plaasvervangend as getuienis vir die wêreld uit.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...