Hertrou na egskeiding – Hermie van Zyl

Vraag

‘n Leser vra: Ek het ernstige vrae aangaande egskeiding en hertrou. My man het my om ’n egskeiding gedagvaar na ’n eerste huwelik van 17 jaar. Ons het ‘n seun wat uit die huwelik gebore is. Die egskeiding is 11 jaar gelede gefinaliseer. My man het die huwelik verlaat as gevolg van talle buite-egtelike verhoudings aan sy kant. Hy is tans in sy derde huwelik waaruit twee kinders gebore is.

Ek het intussen ’n man ontmoet wat 23 jaar gelede geskei is van sy eerste vrou. Die rede vir hul egskeiding was buite-egtelike verhoudings aan haar kant. Ek het ‘n YouTube-video van Dawid Pawson geluister en volgens hom is die Bybelse perspektief dat hertrou owerspel is.

Is dit dus onmoontlik vir my om weer te trou?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dit is ’n baie moeilike onderwerp hierdie, aangesien daar aan die een kant duidelike Skrifuitsprake hieroor is, maar aan die ander kant ook ’n wye aanvoeling onder hoofstroomkerke is dat mens nie wetties met hierdie uitsprake mag omgaan nie. Ons moet die werklike situasie waarin mense verkeer ernstig neem en op die sinvolste manier hanteer sodat die wil van God rakende die huwelik wel eerbiedig word, maar mense ook nie opgehang word aan hulle verlede sodat daar vir hulle geen beweegruimte is nie. Ons is daarom nie letterknegte wanneer die Skrif vir vandag verstaan word nie, maar probeer eerder die Skrif Skrifmatig uitlê. Daarmee word bedoel: Daar is ’n verskil tussen, om Bybeltekste links en regs te paradeer net om godsdienstige punte aan te teken, enersyds, en, andersyds, om die Skrif op so ’n manier te verstaan dat dit aan die diepste bedoeling daarvan uiting gee. ’n Eenvoudige voorbeeld sal dit illustreer: Die duiwel probeer Jesus versoek deur Hom na die dak van die tempel te neem en dan aan te por om daar af te spring, omdat die Skrif kwansuis sou sê dat God se engele Hom op die hande sal dra sodat Hy nie seerkry nie (Matt 4:5-7; Ps 91:11-12). Dis egter ’n totaal verkeerde gebruik van die Skrif. Die regte manier van Skrifhantering in hierdie konteks is toe Jesus antwoord: “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie” (Deut 6:6). ’n Mens kan die Skrif dus so verstaan dat dit nie die bedoeling daarvan na vore bring nie, maar dit eerder verdraai.

Kom ons probeer bostaande beginsel toepas op die kwessie van hertrou na egskeiding. (Ek herhaal grootliks hier onder wat ek reeds elders oor hierdie saak op Bybelkennis.co.za se webblad geskryf het.)

Die vraagsteller verwys na ’n YouTube-video van Dawid Pawson waarvolgens dit die Bybelse perspektief is dat hertrou owerspel is. So sou mens inderdaad na verskeie Bybeltekste kon verwys wat oor egskeiding en hertrou handel, soos Eksodus 20:14: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie”; Maleagi 2:13-16 “… Die Here … haat egskeiding”; Matteus 5:32: “Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk”; Matteus 19:6,8: “Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie… Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie”; 1 Korintiërs 7:10-11: “Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie maar die Here – dat ’n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag ’n man ook nie van sy vrou skei nie”; Hebreërs 13:4: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” En so kan ons die tekste vermenigvuldig wat aantoon dat God se wil oor die huwelik duidelik is: Dis ’n permanente verbinding; so het Hy dit van die begin af bedoel. En egskeiding was nooit deel van sy oplossing vir die probleme wat ’n egpaar binne die huwelik mag beleef nie.

Maar nou weet ons ook dat egskeiding, hoewel teen die wil van God, nie ’n groter sonde as ander is nie. Ook dít word deur God vergewe, as daar opregte berou is en die hartlike voorneme is om binne sy wil te lewe. Dan kan ons aanvaar dat God hierdie ongelukkige gebeure afsluit en die toekoms oopsluit. Die Bybeltekste wat oor egskeiding en hertrou handel, moet dus ook in die lig van God se genadige handelinge met die mens beoordeel word. God hang ons nie op aan ons sonde nie, maar handel ook hierin met ons volgens sy barmhartigheid, deernis, liefde en vergifnis. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is (Ps 103:14). Hy maak inderdaad ’n nuwe lewe moontlik.

Kom ons neem die kwessie van hertrou na egskeiding spesifiek vanuit Matteus 5:31-32 in oënskou. Ons gebruik dit as ’n voorbeeld van hoe mens oor hierdie en ander uitsprake in die Bybel oor iets soos egskeiding en hertrou, vandag moet oordeel.

Matteus 5:31-32 sê dat as iemand sy vrou skei om enige ander rede as owerspel, hy veroorsaak dat die vrou egbreuk pleeg, en wie met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk. In Matteus 19:9 word bygevoeg dat die man wat sy vrou skei, behalwe oor owerspel, sélf ook egbreuk pleeg. In Markus 10:11-12 word ook na die vróú verwys, as sý van haar man sou skei. By laasgenoemde teks is die bedoeling: As die vrou die oorsaak en inisieerder van die egskeiding is en weer trou, dan is sy ewe skuldig aan egbreuk. Die punt is: Man en vrou word deur Jesus op gelyke basis verantwoordelik gehou vir die huwelik.

Ons het hier ’n paar beginsels omtrent die huwelik wat neergelê word deur Jesus: 1. Die huwelik is in sy wese in die oë van God ’n permanente verbintenis. Egskeiding is dus geen ligtelike aangeleentheid nie, dit kan nie sommer vir enige bakatel oorweeg word nie; 2. Die man wat sonder grondige rede (owerspel) van sy vrou skei, pleeg egbreuk; 3. Die man wat só van sy vrou skei, veroorsaak dat sy vrou ook egbreuk pleeg en dat enigeen wat weer met haar trou, ook egbreuk pleeg (omdat in die oë van God die eerste huwelik na regte nog bestaan); 4. Vir die vrou geld dieselfde as sy die inisieerder van die egskeiding is.

Met hierdie uitsprake wou Christus nie mense se lewens onmoontlik maak wat deur egskeiding geraak word nie, maar wou Hy orde skep in die destydse klimaat waar mans – en soms ook vroue – sommer ligtelik van hulle vrouens geskei het. Hy belig weer die oorspronklike bedoeling van die huwelik – ‘n permanente lewenseenheid wat ernstig geneem moet word – en verder neem Hy in die besonder die vrou in beskerming. Sy is dikwels in ’n onmoontlike situasie ingedwing deurdat die man haar sonder enige geldige rede geskei het. Om te kon oorleef, moes sy weer so gou as moontlik trou. En dan, sê Jesus, word sy eintlik in ’n staat van egbreuk ingedwing wat sy nie gewil het nie. Die onus vir ’n gelukkige huwelik is dus net soveel die man se verantwoordelikheid as die vrou s’n. Die punt is: die destydse sosiale omstandighede moet deeglik verreken word om spesifieke Bybeluitsprake te verstaan en toe te pas vir vandag.

Die bedoeling van Jesus se uitsprake is om die heiligheid van die huwelik as Goddelike instelling te beskerm sodat daar nie op ’n ligtelike en ligsinnige manier mee omgegaan word nie. En natuurlik om die sondige en liefdelose praktyke van mense – selfs godsdienstige mense! – aan die kaak te stel. Ons leef egter in ’n gebroke werklikheid. Waar ’n egskeiding wel plaasgevind het – om watter rede ook al – en daar ’n tweede huwelik tot stand kom, word egpare vanuit bg uitsprake van Jesus opgeroep om hulle lewenspad in oënskou te neem, dit te belig in God se liefdeswil, daaroor met berou belydenis te doen soos nodig, en vervolgens die nuwe huwelik te koester en tot eer van die Here daarmee om te gaan. Die egpaar hoef nie te voel dat hulle nuwe huwelik vanweë die foute van die verlede gedoem is tot mislukking of in sonde voortbestaan en dat mens glad nie God se seën op die huwelik kan vra of verwag nie. As daar opregte belydenis van skuld by ons is en die hartlike begeerte om na sy wil te lewe, dan vergewe God ons sonde en stel Hy ons vry in ’n nuwe lewe wat ons tot eer van Hom moet lewe. Dis alleen die verharding van harte en volharding in die sonde (in hierdie konteks: onverantwoordelike skei en trou, skei en trou, skei en trou) wat veroordeel staan deur God. Maar wanneer die hartseer van egskeiding ook in die lig van God se wil en genade hanteer word, en die nuwe huwelik aanvaar word uit sy hand, kan die egpaar ook hierdie nuwe lewenspad loop met die volle vertroue dat hulle die seën van die Here kan verwag.

Dit behoort uit bostaande beredenering duidelik te wees dat dit in hierdie sake nie gaan oor die klakkelose nakom van “wetsbepalings” oor egskeiding en dan is alles weer reg nie. Daar moet veral aan die gees van die wet voldoen word. Die wetsbepalings is eintlik net daar vir dié wie se harte hard is (Matt 19:8). ’n Huwelik, egskeiding of tweede huwelik slaag nie bloot omdat aan sekere reëls voldoen is nie, selfs al is dit Bybelse reëls, maar wanneer mense mekaar van harte aanvaar en vergewe, en as nuwe mense voor die aangesig van God die pad saamloop.

As die gees van die wet rakende huwelike uitgeleef word, dan word die intieme liefdesband tussen man en vrou in die huwelik eerbiedig, en dan word die huwelik beleef en geleef as ’n permanente lewensverbintenis waar man en vrou mekaar in liefde ondersteun. Egskeiding is dan hoogs uitsonderlik, selfs waar moeilike tye beleef word. En wanneer ernstige probleme ontstaan waar egskeiding ’n laaste uitweg is (bv weens volhardende mishandeling of owerspel), moet hard probeer word om eers versoening te bewerkstellig. Iets soos owerspel verplig nie tot egskeiding nie, maar is eintlik ’n toegewing as dit nie anders kan nie. Vir Christene is die eerste opsie egter altyd om te kyk of versoening, restitusie en herstel nie moontlik is nie. Daar is baie voorbeelde waar huweliksgeluk na so ’n ernstige misstap weer moontlik was. Maar natuurlik vra dit opregte berou en vergifnis van beide egliede.

En wanneer ’n huwelik werklik onherstelbaar verbrokkel het en daar wel egskeiding plaasvind, is die regte hantering hiervan nie om te vra of formeel aan bepaalde Bybelse reëls voldoen is voor ’n tweede huwelik kan plaasvind nie. Die tweede kans moet eerder met dankbaarheid uit die hand van die Here ontvang en met hernude toewyding aangegryp word. En dit is altyd aan te beveel dat die afsluiting van die ou pad en die begin van die nuwe pad ook saam met die hulp van kundiges in huweliksberading aangepak word sodat die nuwe paartjie as mense wat waarlik vrygemaak is van die verlede die tweede huwelik kan begin.

Die presiese situasie van ons vraagsteller is uiteraard nie aan my bekend nie (behalwe soos sy breedweg verduidelik het). Maar uit die inligting wat sy verskaf het, en in die lig van my uiteensetting hierbo, wil ek dit tog waag om te sê dat sy nie om godsdienstige redes angstig hoef te voel om ’n tweede huwelik aan te gaan nie. Sy kan dit met vrymoedigheid uit die hand van die Here ontvang. Sy en haar tweede man mag God se vergifnis aanvaar vir alles wat skeefgeloop het, en saam kan hulle begin bou aan ’n nuwe fase in hulle lewe. God maak ons nie net vry van die verlede nie, maar sluit ook die toekoms vir ons oop.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl