Het God jou geroep?

The New Testament is nothing but footnotes on the Old Testament – one cannot produce a theology out of footnotes – John Goldingay, bekende Ou Testamentikus (ietwat oordrewe, maar laat ons besef dat ons nie die Ou Testament kan ignoreer nie).

 

Het God jou geroep?

In Jeremia lees ons van die swaarkry, vreugde en angs van iemand wat deur God geroep is. Die boek begin met die aankondiging van die tyd van Jeremia se bediening. Hy tree as profeet op aan die einde van Juda se geskiedenis.

 

Jeremia was die seun van ‘n priester. Daar hoor hy die stem van die Here. So oortuig was Jeremia dat dit God was wat hom geroep het dat hy sê: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel (1:5). Jeremia was nog jonk op hierdie stadium en bevraagteken onmiddellik sy roeping:Ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk. Laat ons aan Moses dink.

Die Here aanvaar nie die verwerping van sy roeping nie: Jy moenie sê: Ék is te jonk” nie. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur. En alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. Jeremia sê dat die Here sy hand uitgesteek het en sy mond aangeraak het. Die Here sê vir hom: Ek het nou my woorde in jou mond gelê. Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig. So roep die Here die jong man. Sy opdrag is sesvoudig – vier negatief en pynlik. Laastens ‘n belofte van herstel – bou en te vestig.

Hierdie roeping van Jeremia was moeilik en pynlik. Sy pogings om aan sy roeping te voldoen, lei tot spot, angs, verwerping en doodsdreigemente. Jeremia word kwaad en gefrustreerd – selfs terneergedruk en dreig om selfmoord te pleeg.

Is ons bereid om op God se roepstem te antwoord wetende dat daar altyd die moontlikheid van swaarkry sal wees? Onthou dan die Here se woorde aan Jeremia:  Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red.