Het Jesus liggaamlik opgestaan?

Het Jesus liggaamlik opgestaan? – Francois Malan

Henk vra:

‘n Persoon beweer Jesus het net in Gees opgestaan en nie in Vlees nie. Ek weet Jesus het opgestaan, maar hulle vergeestelik alles en noem altyd Bybelverse. Ek wil weet hoe kan ek hom antwoord, want om hom te oorreed is half onmoontlik.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1. Vlees is ‘n baie breë begrip. Die Griekse woord sarks kan vertaal word as vleis (die ou Nederlandse woord ‘vlees’ wat nog vassteek in Afrikaans om verskillende dinge aan te dui, veral omdat ons nie wil sê ‘vleis en bloed’ nie, vgl. 1 Kor.15:50), maar dit kan ook liggaam, mense, menslik, nasie, menslike natuur, fisiese natuur, aandui in die Nuwe Testament.

2. In 1 Kor.15:35-57 verduidelik Paulus iets van die opstandingsliggaam, dat dit onverganklik is (v42), in heerlikheid (v43), in krag (v44), ‘n geestelike liggaam (v44), dat die laaste Adam (Christus) ‘n lewendmakende Gees is (v45), dat vlees en bloed nie aan die koninkryk van God kan deel kry nie (v50). Paulus sê met die opstanding sal ons almal verander word, dat ons verganklike liggaam met onverganklikheid beklee sal word, en ons sterflike liggame met onsterflikheid (vv52,53).

Dit gee ons ‘n kykie in wat ons kan sê van Jesus se opstanding. Die Evangelies sê bv.

dat Jesus sommer skielik voor die vroue gestaan het en dat hulle sy voete gegryp het en Hom aanbid het (Mat28:9).

Die twee Emmausgangers het Hom eers nie herken nie, maar toe hulle saam met Hom aan tafel was en Hy vir hulle die brood gebreek het, het hulle oë oopgegaan en het hulle Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn (Luk.24:13-31).

Toe Jesus dieselfde aand aan die dissipels verskyn met die merke van die spykers aan sy hande en voete, nooi Hy hulle uit om aan Hom te voel, want ‘n gees het nie vleis en bene soos hulle sien dat Hy het nie, en Hy het saam met hulle geëet (Luk.24:39-43).

Die volgende Sondagaand verskyn Hy aan sy dissipels in ‘n kamer waarvan die deur gesluit is en Hy skielik tussen hulle staan (Joh.20:19).

Vir Tomas nooi Hy die volgende Sondagaand uit om sy vinger in sy spykermerke te steek en sy hand in sy deurboorde sy (Joh.20:27).

By die see gee Hy vir sy dissipels brood en vis om saam met Hom te eet by die vuurtjie wat Hy gemaak het (Joh.21:13).

Dat Jesus liggaamlik opgestaan het, is seker, maar dit is met ‘n verheerlikte liggaam. As jy onder ‘vlees’ die mens se sondige natuur verstaan, dan het Jesus nie in die vlees opgestaan nie. As jy egter onder ‘vlees’ die menslike liggaam verstaan, dan het Jesus in sy menslike liggaam opgestaan, maar in ‘n veranderde liggaam wat deur ‘n geslote deur kan stap, verskyn en verdwyn, maar met ‘n liggaam wat die tekens van sy lyding dra en waarmee Hy eet en waaraan jy kan voel, nie ‘n gees nie. As jy sy verheerlikte liggaam ‘n geestelike liggaam noem in teenstelling met ‘n natuurlike liggaam wat vergaan, is dit volgens Paulus reg (1 Kor.15:44-49). As geestelike liggaam egter beteken dat Jesus nie liggaamlik opgestaan het nie, is dit verkeerd.

 

Skrywer: Prof Francois Malan