Het ons die “basiese” sonde vergeet?

“When Jesus tells us about his Father, we distrust him. When he shows us his Home, we turn away, but when he confides to us that he is ‘acquainted with Grief’, we listen, for that also is an Acquaintance of our own.”   ~Emily Dickinson

Het ons die “basiese” sonde vergeet?

Jy mag nie begeer nie. Klink so ‘n bietjie uit sy plek uit tussen al die ander gebooie. Die gruwel van al die ander gebooie is vir ons baie duidelik Die tiende gebod lyk goedaardig. Hoe ernstig kan dit nou wees om te begeer?

 

Delf ons ‘n bietjie dieper sien ons hierdie gebod ernstiger is as wat ons gedink het. Ons lees hiervan ook op ander plekke in die Bybel. Geldgierigheid (‘n vorm ban begeer) is ‘n wortel van allerlei kwaad (1 Timoteus 6:10). As Paulus ‘n goeie voorbeeld soek oor wat sonde is, sê hy: Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.” (Romeine 7:7).

Die eerste sonde – Eva in die tuin van Eden – is waarskynlik begeerte. As sy na die boom van die kennis van goed en kwaad kyk, sien sy dat die boom se vrugte mooi is om na te kyk en begeerlik was. Geen wonder dat baie mense begeerte as die “moeder van alle sondes” sien nie. Die probleem met begeerte is nie net begeerte per sé nie, maar die manier waarop dit oorsprong gee aan baie ander sondes. Dit maak dat ons ons naaste haat in plaas van liefhet; om hom te verag in plaas daarvan dat ons hom voorspoed toewens. Begeerte beroof ons van vrede en vreugde. En uiteindelik haat ons God, want ons glo dat Hy daardie dinge wat ons so begeer, vir ons ontsê.