Het ons ons godsdiens afgewater? Hoe word jy ‘n volgeling van Jesus Christus?

This is the one unbuttressed pillar on which all prayer must lean. Take this away, and it comes down with a crash –  C. H. Spurgeon

Het ons ons godsdiens afgewater? Hoe word jy ‘n volgeling van Jesus Christus?

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

In die vorige blog het ons na die twee paaie gekyk wat Jesus vir ons voorgehou het – die aanloklike breë pad met baie mense op en die nou pad waar swaarkry algemeen is. Dit is duidelik ons moet ‘n keuse maak.

 

Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (Matteus 4:17). Johannes die Doper het vantevore gesê dat hy net die pad voorberei. Na Hom kom iemand wat sy meerdere is: Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop (Matteus 3:11). Na Petrus se preek op die pinksterdag vra die mense vir hom wat hulle moet doen: Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus (Handelinge 2:38)

Ons sien herhaaldelik die woord bekering. Wat is dit? Om van rigting te verander. Dit beteken dat iemand se hart, denke, lewe getransformeer word. Nou dink, glo, voel, leef en doen hulle anders. Jesus se woorde was veral gerig op mense wat op hulleself en hulle prestasies vir hulle verlossing vertrou het. Hulle het immers op spesifieke reëls en regulasie vertrou en op die feit dat hulle nakomelinge van Abraham – Jode – was. Volgens hulle was dit voldoende.

Maar Jesus Christus maak dit baie duidelik: moenie op julleself of julle voorgeslagte vir julle verlossing vertrou nie. Hy maak dit duidelik dat ons nie op dieselfde pad kan voortgaan nie. Ons moet letterlik ontslae raak van ons selfgerigtheid, selfverheerliking en selfgeregtigheid – dit is dood.  En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê (Galasiërs 2:20).

Alles begin verander en vir die eerste keer besef ons hoe nodig ons werklik vir Jesus Christus het. Ons begeertes verander. Ons wil verander – ons gaan waar Jesus Christus sê ons moet gaan. Ons is bereid om ons lewens vir ander af te lê. Ons rede om te lewe verander – dit gaan nie meer oor ons besittings, status en gemak nie, maar God se heerlikheid is nou ons top prioriteit.

Ons verhouding met Jesus Christus  en ons status voor Hom word nie bepaal deur ‘n besluit wat ons geneem het of ‘n kaartjie wat ons ingevul het of ‘n hand wat ek lank gelede opgesteek het nie. Nee, dit gaan oor God se uitnodiging aan ons. Daarna kyk ons volgende keer.