Het ons ons godsdiens afgewater? Hoekom is ons godsdiens so oppervlakkig?

I am certain that to preach the wrath of God with a hard heart, a cold lip, a tearless eye, and an unfeeling spirit is to harden men, not benefit them – C. H. Spurgeon

Het ons ons godsdiens afgewater? Hoekom is ons godsdiens so oppervlakkig?

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

Anders as meeste ander godsdienste het Jesus Christus nie gekom en vir ons gesê: Volg hierdie reëls; kom hierdie rituele na, nie. Nee, Jesus Christus sê: Volg My. Wat doen Hy?

Jesus Christus nooi sy dissipels uit vir ‘n persoonlike verhouding met Hom. Hy sê vir hulle: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6). By Hom is daar rus en vrede en vreugde. Daar vind ons betekenis vir ons lewens.

Ons word nie geroep om sekere dinge te glo en sekere praktyke na te kom nie. Die Christelike geloof is nie net nog ‘n keuse in die kafeteria van godsdienste nie. Maar ons het toegelaat dat ons godsdiens in reëls en praktyke verval. Toe Jesus sy dissipels geroep het om Hom te volg, moet ons onthou dat hulle deel was van die Joodse godsdiens – ‘n godsdiens met baie reëls. Al die ander godsdienste sê probeer harder, werk harder, doen meer. Maar wat sê Jesus? Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig (Matteus 11:28 – 30).

Ons grootste behoefte is nie reëls en regulasies nie, maar ‘n nuwe hart. Kyk na Nikodemus. Hy was ‘n leier onder sy mense. Hy het al die reëls geken; hy bid gereeld; hy leer selfs ander van die Skrif. Hy was ‘n voorbeeld vir ander mense. Maar tog was daar iewers iets verkeerd. Is dit nie ‘n probleem by baie gelowiges vandag nie? Ons glo ons godsdiens bestaan uit die nakom van reëls en die doen van sekere dinge om God se goedkeuring te verdien. Ons is soos daardie man in die sirkus wat al die borde aan die draai moet hou. Nou is ons godsdiens nie meer ‘n vreugde nie, maar ‘n plig.

Wat nodig is, is nie die doen van uiterlike dinge nie, maar innerlike herstel – ‘n nuwe hart. Daarna gaan ons volgende keer kyk