Hoe bid ons?

 

The usefulness of the law lies in convicting man of his infirmity and moving him to call upon the remedy of grace which is in Christ – Augustinus

 

Hoe bid ons?

Jy leer baie van ‘n persoon deur te luister na sy gebede. Soms hoor ons gebede wat soos ‘n lysie vir Kersfees klink – ek wil dit hê; ek wil dat hê. Sommige mense wil soos die Fariseër mense met hulle gebede probeer beïndruk.

 

Ons kan baie by Nehemia leer van gebed. Toe Nehemia van die vervalle toestand van Jerusalem verneem het, bid hy vir vier maande.

 

Rick Warren sê dat ons in hierdie gebed van Nehemia vier geheime kry van gebede wat beantwoord word.

 

  1. God se karakter moet die basis van jou versoek wees

Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en u troue liefde handhaaf teenoor dié wat U liefhet en u gebooie gehoorsaam (1:5). Nehemia sê drie dinge oor God:

  • God is groot – dit is sy posisie
  • God is ontsagwekkend – dit is sy krag
  • God kom sy beloftes na – Hy handhaaf sy verbond.

Die eerste ding wat Nehemia doen, is dat hy erken wie God is en dat Hy ‘n groot God is. Hy begin deur die regte perspektief te kry. Hy erken dat God ‘n getroue God is. God se karakter moet die basis van ons gebede wees.

 

  1. Bely die sondes in jou lewe

Ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het (1:6). Kyk net hoe dikwels praat hy van “ek” en “ons.” Ons  het U nie geëer nie; ons was ongehoorsaam … Dit was nie Nehemia se skuld dat die volk in ballingskap gesit het nie – dit het 70 jaar vantevore gebeur. Tog sluit hy homself in by die volk se sondes – “ek is deel van die probleem.”

 

Wanneer laas het ek/ons die sondes van ons volk of familie of ons vriende bely? Ons dink nie meer so nie, want ons is te individualisties. Die samelewing leer vir ons dat elkeen vir sy eie heil verantwoordelik is. Dis nie waar nie. Luister weer na Kain se vraag na hy sy broer vermoor het: Moet ek dan my broer oppas? Die antwoord is: Ja. Aanvaar die blaam. Moenie verskonings maak nie; moenie dink dit is altyd iemand anders se fout nie.

 

  1. Maak aanspraak op God se beloftes

Dink tog aan die belofte wat U aan u dienaar Moses gemaak het (1:8). Nehemia herinner God aan wat Hy in die verlede gesê het. Abraham, Moses, Dawid en die profete het dit gedoen: “God, ek wil U aan een van u beloftes herinner …”  Moet God herinner word? Nee. Sal God vergeet wat Hy belowe het? Nee. Hoekom moet Hy dan aan sy beloftes herinner word? Want dit help ons om te onthou wat Hy belowe het.

 

  1. Wees spesifiek in wat jy vra

As jy ‘n spesifieke antwoord op jou gebed verlang, moet jy spesifieke versoeke rig. As jy sommer so in die algemeen bid, gaan jy in ieder geval nie weet of jou gebed beantwoord is nie. Nehemia huiwer nie om vir sukses te bid nie. Daar is niks verkeerd daarmee om vir sukses te bid as wat jy vra God sal verheerlik nie. Dit is wat Nehemia gedoen het: Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen (1:11). As ek God nie kan vra om my te seën met wat ek besig is om te doen nie, moet ek dalk iets anders doen. God wil nie hê dat jy jou lewe moet mors nie.