Hoe bring God herlewing?

image_pdfimage_print

Hoe bring God herlewing?

Rigters 3:7 fokus op wat die Israeliete doen – hulle vergeet die Here en aanbid afgode. Vanaf vers 8 neem God oor.  Toe het die Here kwaad geword. Daar kom moeilikheid. Hy gee hulle oor in die mag van koning Kusan-Risatajim –  net soos Israel hulle reeds as die Baäls en Asjeras oorgegee het.

As die Here nie lyding en probleme gebring het nie, sou die mense nooit hulle ware posisie raakgesien het nie. Hulle sou nooit besef het hoe verslaaf hulle was nie en die oordeel wat vir hulle voorgelê het nie. Die Here laat die Israeliete swaarkry, nie om hulle terug te kry nie, maar om hulle te verlos. Hy doen dit steeds: maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig sodat ons nie saam met ie wêreld veroordeel sal word nie (1 Korintiërs 11:32).

Hulle word fisies onderdruk en na agt jaar roep hulle tot die Here en hy het vir hulle ‘’n redder na vore laat (3:9) kom. Al wat die Israeliete tot hulle redding bygedra het, was dat hulle tot die Here geroep het. Dit beteken dat hulle hul na God teruggekeer het. Hulle het berou gehad. Berou is noodsaaklik vir vernuwing en herstel. Hulle reaksie op die verdrukking was korrek: hulle het gesien hoe God se hande op die agtergrond gewerk het. Dan kyk hulle eerlik na hulleself en roep tot die Here vir herlewing

God het moeilikheid gestuur, maar nou stuur Hy geestelike leierskap. Sy verkose leier is Otniël. God red sy mense deur die verkose leier. God stuur ook sy Gees: Die Gees van die Here was op hom en hy het oor Israel geregeer (3:10). Otniël maak toe oorlog teen koning Kusan- Risatajim. Let op die verskil tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament. In die Ou Testament stuur God sy Gees na een leier. In die Nuwe Testament stuur God sy Gees na almal –die hele kerk (Handelinge 4:31).

Opsommend: God stuur moeilikheid, leierskap en sy Gees. Dit bring herstel: die Here het hom (Kusan-Risatajim) oorgegee in die mg van Otniël. Hy het vir Kusan Ritsatajim verslaan. Daarna was daar veertig jaar vrede in die land. Dit was vrede van fisiese onderdrukking, maar ook van die geestelike onderdrukking van afgode. Israel was weer gehoorsaam aan die Here.

 

 

image_pdfimage_print