Hoe hanteer ek lyding? (9)

Hoe hanteer ek lyding? (9)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Gebrokenheid kom voor nuttigheid. As ons deur iets pynlik gaan en wanneer God ons breek, word ons meer bruikbaar vir ander en meer gewillig om gebruik te word. Ons kan empatie betoon; ons het meer insig en perspektief om te help. Maar hoe verander die kruis lyding? Ons praat hier nie van vryheid van lyding nie, maar van vryheid in en deur lyding.

Lyding genees ons van beuselagtighede

Lyding verlos ons van die dinge wat ons verslaaf, maar ook van die kleinlike verskille en bekommernisse van ons daaglikse lewe.

Dit wat belangrik word, styg na bo – ons perspektief verbeter. Ons praat nie hier van goedkoop Christelike vroomheid of sentimentaliteit nie.

Pyn en lyding maak ons greep op die tydelike lewe los – dieper lyding kan tot dieper oorgawe lei. Nou word ons persoonlike menings minder belangrik. Die dood is nie die einde nie, maar die drumpel na ‘n nuwe dag toe.

God onttrek

Kyk weer na die boek Job. Ons raak moedeloos, want dieselfde argumente word oor en oor herhaal – geen duidelike antwoorde nie. Maar is dit nie hoe baie van ons lyding in ons lewens ondervind nie? Jy is in goeie geselskap, want Job het ook nie ‘n definitiewe antwoord gekry nie. Al wat ons weet dat in sy lyding was daar by Job ‘n verlange na God – en dit is genoeg. Job roep nie uit: God waarom het jy my lewe vernietig nie. Hy vra: God waarom het jy my verlaat? Hy mis nie sy besittings so baie soos hy die teenwoordigheid van God mis nie. Nooit vra hy of God in beheer is nie. Juis omdat hy weet dat God in beheer is, veroorsaak dit sy pyn. Selfs in sy klaaglied vertrou hy steeds op God: Kon dit nie maar weer met my gaan soos lank gelede, soos in die dae toe God nog sy hand oor my gehou het, toe sy lig beskermend oor my geskyn het en my pad in die donker verlig het. Dit was die beste jare van my lewe toe ek nog ‘n vertroueling van God was. Toe was die Almagtige by my en my kinders rondom my.. Ek het oral voorspoed geniet: volop dikmelk en strome olyfolie (29:2 – 5). Wat hom die meeste gepla het, was God se afwesigheid. Ook die psalmis sê: Ek roep na U om hulp, Here, vroeg in die môre bid ek al tot U. Waarom verstoot U my, Here,  waarom trek U U van my af terug? Psalm 88:14 – 15).

Almal van ons het al tye ondervind waar dit lyk asof God weg is – Hy is stil. In sy afwesigheid vermeerder ons waardering, afhanklikheid en liefde van Hom. Job sou eerder wou sterf as om in die wêreld sonder God te leef. God wil nie ons probleme wegneem nie, maar Hy wil vir ons wys dat Hy voldoende is in ons probleme.

As jy alleen en eensaam voel, is daar hoop. Jy is nie alleen nie. Dit vereis niks van jou nie – Jesus het reeds alles wat nodig is, gedoen. Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie (Hebreërs 13:5).