Hoe hanteer ek lyding? (10)

image_pdfimage_print

The worst kind of people are those who confuse kindness for weakness. -Werner Makowski, bankier

Hoe hanteer ek lyding? (10)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Hartseer en aanbidding

Job het alles verloor – kinders, besittings. Wat doen hy? Hy skeur sy klere, hy skeer sy hare en hy gaan lê op die grond en aanbid.

Ons glo ons kan net met ‘n glimlag op ons gesigte aanbid Die psalms is vol van klaagliedere en woorde van mislukking, pyn, verraad en gebrokenheid. Hartseer en aanbidding gaan hand aan hand. Hartseer is ‘n uitroep vir wat was en wat eendag weer sal wees – ‘n wêreld sonder pyn, siekte, konflik, gekenmerk deur vrede. God verwag nie van ons om in moeilike tye nie hartseer te wees nie.

Dit kan lank neem om pynlike gebeure te prosesseer – en daar is niks daarmee verkeerd nie. Job se reaksie op sy verlies is een van rou oor sy verlies. Sy rou was ‘n werklikheid. Hoe kon hy soveel pyn absorbeer en steeds aanbid: Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie. Die antwoord lê nie in die hoe nie, maar in die Wie.

Job loop deur onder die morele aannames en aanklagte van sy vriende: “Job, ruk jou reg. As jy dinge regstel, sal God jou seën en dinge weer regstel.” Job weet daar is niks wat hy kan doen om hom voor God reg te stel nie: As jy ‘n saak teen Hom sou wou voer, sou jy Hom nie eers op een vraag uit duisend kon antwoord nie (9:3). Job besef dat al het hy dalk ‘n goeie argument is hy nie teen God opgewasse nie. As sy vriende dink dat hy deur sy prestasies weer guns by God sou kry, ken hulle nie vir God nie.

Job se woorde herinner ons daaraan  dat daar niks is wat ons kan doen om God se liefde of guns of goedkeuring te wen nie. Job hou vas aan die beloftes van God. Job was nie so bevoorreg soos ons om terug te kyk en Jesus Christus te sien nie. Ons het almal ‘n Verlosser nodig. Lyding stroop ons van ons hulpbronne. Al wat oorbly is die goedkeuring van God gegrond op wat Christus vir ons gedoen het. Midde in ons lyding, moet hierdie wonderlike nuus van die evangelie ons vasgryp. As God na ons kyk, sien Hy die geregtigheid van die Seun.

Verwagting van toekomstige verlossing

In 1 Korintiërs 16:22 skryf Paulus: Marana ta – kom Here.

Paulus aanvaar dat daar gebrokenheid, pyn en lyding sal wees – dit is werklikhede van die lewe. Om hartseer te wees en te rou is nie iets om oor skaam te wees nie. Openbaring 21 beskryf die verlossing van die wêreld in ongelooflike woorde. Daar lees ons dat die woonplek van God by die mense sal wees. Dan: Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.

Wat doen Johannes hier?  Hy koppel die werklikheid van hartseer aan die werklikheid van verwagting. Hy sien ons trane as ‘n teken dat ons verlang na ‘n plek waar kinders nie meer doodgaan as gevolg van voorkombare siektes nie, waar daar nie meer diefstal en geweld is nie.

 In light of heaven, the worst suffering on earth, a life full of the most atrocious tortures on earth, will be seen to be no more serious than one night in an inconvenient hotel (Moeder Teresa). Ons hoop is nie in hierdie tydelike lewe nie, maar in die lewe wat kom – die ewige lewe. Soms is dit al vertroosting wat daar is. Diegene wat God in hulle lyding vind se lyding is nie sonder betekenis nie.

Miskien is die enigste vertroosting wat ons uit lyding kry die besef dat ons in werklikheid vir ‘n ander wêreld gemaak is. Al die swaarkry van die wêreld kan nie met die heerlikheid van die nuwe wêreld vergelyk word nie.

Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses (Psalm 34:19)

image_pdfimage_print

You may also like...