Hoe hanteer ek lyding? (4)

Hoe hanteer ek lyding? (4)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Ons kultuur hou nie van lyding nie – maak nie saak dat dit onvermydelik is nie. Die bewuste vermyding van pyn is een ding; die totale onverdraagsaamheid of ontkenning van pyn is iets anders. Hoekom is ons so onverdraagsaam?

Omdat ons ‘n obsessie het met persoonlike beheer – ons wil in beheer wees en as ons ly, is ons nie in beheer nie. Ons glo ook dat ons gedurig vooruit moet gaan. Terugslae soos lyding beteken ons gaan nie vooruit nie. Al waarin ons kultuur belangstel, is vooruitgang. Selfs is die kerk word ‘n evangelie van vooruitgang verkondig – ons geloofslewe is primêr ‘n lewe van persoonlike verbetering.  “As jy siek word of finansieel swaar kry, is daar iets in jou lewe wat bely moet word.” of “Die rede vir lyding en die gebrek aan ‘n oorvloedige lewe is as gevolg van ‘n gebrek aan geloof.” Ons kry dit ook in ons evangelisasie: “Aanvaar Jesus as jou Here en al jou drome sal waar word.” Tog as ons die Nuwe Testament lees, sien ons eintlik die teenoorgestelde: die lyding van gelowiges gaan toeneem. Die denke wat ongeloof aan lyding koppel, kry ons in die Bybel – maar dit word daar verwerp.

Ons benadering is om te probeer om op verskeie maniere moeilike en pynlike dinge te minimaliseer – of om by hulle verby te loop sonder om hulle in die oë te kyk en te aanvaar. Luther sê dat hierdie benadering does not know God hidden in suffering. Therefore he prefers works to suffering, glory to the cross, strength to weakness, wisdom to folly and, in general, good to evil. Hierdie is die normale siening  van mense wat aan beheer verslaaf is – ons sit in die bestuurder se stoel.

Kyk hoe praat hierdie mense oor pynlike ondervindings. As iemand ‘n lelike egskeiding deurloop het, mag sy iets sê soos: “Dit was in ieder geval nooit ‘n goeie huwelik nie.” of “Ek het baie geleer uit hierdie ondervinding.” Hierdie soort rasionalisering probeer om iets sleg, goed te laat klink. Ons wil nie pyn en hartseer in die oë kyk nie; ons wil nie erken dat ons wens die lewe was anders nie, maar ons is magteloos om dit te verander.

‘n Teologie van die kruis, daarenteen, verstaan dat die kruis dié stelling is van God se betrokkenheid in die wêreld. Nou word die moeilike dinge aanvaar; dit kyk direk na pyn. Dit identifiseer God as “versteek in die lyding.” Luther sê nie alleen dat God in ons lyding versteek is nie, maar dat Hy in ons twyfel en angs aan die werk is. Dit is vir ons soms moeilik om dit te aanvaar. Maar diegene wat sukkel en wanhopig is, verstaan dikwels die werklikhede van die Christelike geloof beter as ander mense.

‘n Teologie van die kruis definieer die lewe in terme van gee, eerder as ontvang, selfopoffering eerder as selfbeskerming. Dit oriënteer ons weg van ons natuurlike neiging deur te wys dat ons wen deur te verloor en ons word ryk deur weg te gee. Vir die persoon wat ly is dit die woord van hoop.

Wat belangrik in lyding is, is my verstaan van God. Volgende keer kyk ons daarna.