Hoe lees ek die Bybel vandag?

Hoe lees ek die Bybel vandag? – Stephan Joubert

Het die Bybel vetoreg wanneer kerklike tradisie en moderne waardestelsels ter tafel is? Ja, die Bybel oorroep tradisie en kerkleer, tydsgees en menslike kontekste van buite af. Die Bybel is die geldige begin – en eindpunt binne enige konteks waar die lewende God as vernaamste Gespreksgenoot, Getuie en Normbron beskou word. Die Bybel is die betroubare skriftelike gids en rigtingwyser na God se hart toe. Dit is die enigste beeldhouer wat gestalte gee aan die kerk se bestaan. Daarom moet die Bybel altyd op verantwoordelike maniere verstaan en uitgelê word sodat dit nie tot ‘n slawedrywer verhef word wat sekere standpunte willoos op ons afforseer nie.

In sommige geloofskringe funksioneer die Bybel net as ‘n bo-aardse gelukbringer wat as sodanig sekere magiese kragte besit. So het ‘n Etiopiese keiser, Menelik II wanneer hy siek was ‘n deel van die Bybel geëet. Met sy dood was 2 Konings weg uit sy kanon. Binne sommige Katolieke sirkels word die Bybel as ‘n fisiese afweermiddel teen demoniese magte hanteer. Ook in baie kerklike kringe word die Bybel se bo-aardsheid beklemtoon ten koste van die menslike kant daarvan. Die blote feit dat ‘n Bybelteks een of ander stelling maak, is hier belangriker as wat dit sê en binne watter konteks daardie teks sê wel wat dit sê. Gewoonlik sal mense wat die Bybel op die klank van tekste af hanteer uitsprake maak soos: “Ek glo maar net soos ‘n kind,” of: “mens moenie te diep nadink oor die Bybel nie.” Hierdeur word alle nadenke by die wortel afgesny. Om hierdie probleme te systap, moet ons ‘n paar riglyne tot die verstaan van die Bybel navolg:

 

BEGIN OP DIE REGTE PLEK LEES! (Reël 1A)

Hierdie eenvoudige reël geld natuurlik met baie ander dinge in die lewe ook. Neem maar ‘n fliek. Dit help nie jy stap in die middel van ‘n fliek in, nadat dit reeds vir ‘n uur aan die gang is en dink jy gaan verstaan waaroor dit handel nie. As jy in die middel van ‘n gesprek tussen vriende inval, kan jy nie verwag om te weet waaroor die mense praat nie. Begin by die begin! Altyd. Dis die regte plek. Enige ander plek is verkeerd. Maar ons moet reël 1A nog verder aanvul deur te sê:

 

BEGIN ALTYD BY DIE BEGIN EN EINDIG BY DIE EINDE (Reël 1B)

Meeste ouens val sommer op enige plek in as hulle die Bybel ter hand het en dink hulle weet vanself wat daar aan die gang is. Om enige Bybelboek te verstaan, moet mens altyd by die regte plek begin lees. En dit is by die begin. By vers een se eerste letters. Dan lees jy dit vandaar af deur tot by die einde; tot by die punt aan die einde van die laaste woorde van die slotvers Van begin tot einde, dis die enigste wen-resep vir verantwoordelike Bybellees. Nie ‘n paar verse rond en bont nie. Soos wat jy enige ander boek van begin tot einde deurlees, so moet jy ook met die Bybel maak. Anders bly dit ‘n geslote boek.  Eers nadat jy dit van A tot Z gelees het, kan jy dit waag om rond en bont in ‘n Bybelboek te lees. Eers as jy die hele verhaal en boodskap van ‘n bepaalde Bybelboek onder die knie het, kan jy dit waag om hier en daar te lees ten einde sekere temas of motiewe in ‘n Bybelboek met dié in ander Bybelboeke te vergelyk, en so aan.

 

REËL TWEE: GOD PRAAT IN PARAGRAWE, HOOFSTUKKE EN BOEKE

Ons het tyd nodig as ons kuier, want ons het tyd nodig om inligting uit te ruil. Trouens, ons praat paragrawe vol; hoofstukke vol; boeke vol. God ook! Hy praat nie in enkelsinne nie. Om God se stem dus te wil afwater tot ‘n paar losstaande versies wat uit sy Groot Boek uitgepluk word, is om sy stem heeltemal verkeerd te hoor.

God se stem hoor mens net wanneer jy sy 66 Bybelboeke van begin tot einde deurlees. God praat  verhale vol. Die Bybel is die verhale van alles wat God gesê en gedoen het en ook wat Hy ook nog gaan sê en doen. Sy Bybelskrywers het mooi geluister wat Hy wou hê hulle moet skryf. Toe het hulle, onder sy Gees se leiding, al sy reddingsverhale logies, van begin tot einde, opgeteken. Hulle het nie rond en bont geskryf nie. Dis nie asof Johannes op ‘n dag hoofstuk vyf van sy eerste Johannesbrief loop skryf het, en toe weer hoofstuk twee, en ‘n ruk daarna hoofstuk vier nie. Nee, hy het by die begin begin en by die einde geeïndig, soos wat God hom gewys het. Daarom mag ons die eerste Johannesbrief nooit anders lees en boonop die arrogansie hê om te sê God praat met ons nie. Dan jok ons mos. Dan het ons nie God se stem reg gehoor nie.

God het tyd nodig om sy verhale te vertel. Daarom is die Bybel dik; ses en sestig boeke dik. Sy verhale is logies. Dit bou voort van sin tot sin en van een paragraaf tot die ander. Uiteindelik word paragrawe hoofstukke en hoofstukke boeke. Dis hoe jy God hoor. Dit help dus nie jy wys elke keer net oë as jy Bybellees nie. Nee, as jy na God se Woord toe kom, moet jy kom kuier. Jy moet paragrawe, hoofstukke en boeke lank kuier.

 

REëL DRIE: BEMEESTER DIE KUNS VAN STORIE-VERSTAAN

Stories is die hartklop van die lewe. Nie net wil ons elkeen ons eie stories vertel nie, maar ons kyk graag ook na stories. Daarom dat TV sepies so gewild is. Om nie eens van flieks te praat nie. Dis nie verniet nie dat God self die groot Storieverteller is. Die meeste boeke van die Bybel is in verhaalvorm gegiet. Dit vertel verskillende verhale van God se reddingspad met die wêreld. Vat boeke soos Genesis, Konings, Kronieke, Matteus, Handelinge en Openbaring. Dit is almal verhale oor God se pad met sy mense. Wanneer jy sy stories ken, dan leer jy Hom al hoe beter verstaan.

Wanneer mens die verskillende verhale in die Bybel lees, moet jy onthou dat hulle die volgende tipiese kenmerke vertoon.

* Daar’s verskillende karakters in elke verhaal.

Soos met enige verhaal, het God se Bybelverhale altyd sekere hoofkarakters. Let daarom telkens op wie die hooffigure is in elke verhaal wat jy lees; wat met hulle gebeur; wat hulle doen en sê. Dan is daar natuurlik ook nog ‘n paar newe-karakters wat die hoofkarakter bystaan en hulle help om hulle doelwitte te bereik. Vat die Evangelies, waar Jesus die hoofkarakter is en die dissipels en die skare die newe-karakters is wat ons as lesers help om Jesus se doen en late nog beter te verstaan. Verder is daar ook nog vyande in baie van die Bybelverhale. In die Evangelies vervul die godsdienstige opponente en die demoniese magte hierdie rol. Hulle is die karakters wat God se werke probeer dwarsboom en die hoofkarakters in elke verhaal se planne te verongeluk.

* Daar is ‘n oorhoofse tema en plan in elke Bybelverhaal.

Bybelboeke bevat goed gestruktureerde verhale met ‘n beginpunt (daar waar die verhaal afskop), ‘n hoofgedeelte (waar die verhaal rondom die hoofkarakters ontvou) en ‘n slotgedeelte (waar die afloop van die verhaal saamgevat word). Maak seker dat jy die hooflyne van elke Bybelboek se oorhoofse verhaal goed snap, anders sal jy dit nie verstaan nie. Natuurlik is daar ook kleiner, mikro-verhale in elke Bybelboek. Maar as mens nie die oorhoofse lyne van elke Bybelboek volg nie, mis jy die punt. Vat maar die Evangelies. Nie een van hulle is fotostate van mekaar nie, al lyk Matteus, Markus en Lukas plek-plek baie dieselfde.

* Bybelverhale speel altyd binne ‘n bepaalde plek, tyd en ruimte af

Wanneer mens die Bybelverhale lees, moet jy besef hulle handel nie sommer oor ‘n klompie algemene waarhede nie. Nee, hulle handel altyd oor mense wat op ‘n spesifieke tyd binne sekere plekke opgetree het. En hierdie verhale vertel ook nie noodwendig alles oor daardie mense se doen en late nie. Vat maar die boek Handelinge. Dit sluit in hoofstuk 28 redelik stomp af met Paulus se aankoms in Rome. Mens sou verwag dat Lukas vir ons sou vertel hoe Paulus daar in Rome aan sy einde gekom het. Maar hy doen dit nie. Hoekom? Wel, omdat die doel van sy verhaal was om te wys hoe die Heilige Gees Jesus se woorde in Handelinge 1:8 waar maak (“julle sal krag ontvang as die Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Judea, Samaria en tot aan die eindes van die aarde”). Lukas wil nie ‘n biografie oor Paulus skryf nie, maar ‘n teologie in verhaalvorm oor die Gees se werk. Hy wil wys hoe die Gees die ganse wêreld van sy dag met die Goeie Nuus bereik. En vir Lukas is een van die grense van die wêreld van daardie tyd die stad Rome. Dus, Van Jerusalem aan die een kant van sy wêreld, tot aan Rome aan die ander kant, vloei die Evangelie in ‘n stroom van bonatuurlike krag voort.

 

REëL VIER: DAAR IS VOORTGANG IN GOD SE REDDINGSVERHALE

Mens moet altyd vra waar bevind jy jou op die pad van God se redding wanneer jy met verskillende Bybelboeke besig is. Want God se Bybelse verhale met sy mense is altyd aan die vooruitgaan. Met ander woorde, daar is ontwikkeling of progressie. Deur die jare heen het God Homself al hoe meer aan die mensdom bekend gemaak. Boonop het Hy ook nog ‘n klompie nuwe paaie met sy mense begin stap. In die Ou Testament het God sy volk byvoorbeeld op ‘n simboliese manier aan Hom verbind deur die teken van die besnydenis en deur die jaarlikse viering van die Pasga om hulle te herinner aan sy verlossing uit Egipte. Maar met die koms van Jesus, as die hoogtepunt van God se verlossingshandelinge, het hierdie Ou Testamentiese rituele (= die besnydenis en die pasga) oorbodig geraak. Kortom, daar is voortgang te bespeur in die maniere hoe gelowiges in die Bybel op simboliese wyses en deur middel van godsdienstige rituele die verlossingsverhaal van God vier.

Mense wat vandag in die Bybel van die pasga of die besnydenis lees, kan daardie tekste nie net so op ons eie konteks toepas en sê Christene moet ook nou besny word of die Joodse pasga begin vier nie. Want die skaduwee van die kruis het immers op hierdie twee rituele geval en hulle vervang met die doop en die nagmaal. Trouens, die kruis het dit met ‘n hele klomp ander Ou-Testamentiese gebruike gedoen, soos wat Paulus onder andere in Kolossense 2 vertel.

Baie tekste in die Bybel oor God se manier van redding het nuwe inhoude gekry met die koms van Jesus. Maar die boodskap wat die Ou-Testamentiese tekste wat oor hierdie gebruike handel aan ons wil oordra, het natuurlik nie verval nie. Ons hoef nie al die tekste oor die pasga of die besnydenis uit die Bybel te sny en weg te gooi nie. Want hulle kommunikeer steeds belangrike lewenslesse en beginsels aan ons.

 

Reël 5: Die Bybel is God se Woord, maar dit is gegiet in tydbepaalde, menslike taal en kulturele raamwerke

Die Bybel is God se amptelike stem, maar dis ‘n stem wat oor duisende jare heen skriftelike gestalte gekry het. God se openbaring het hoorbaar, sienbaar, ervaarbaar geword binne spesifieke menslike kontekste. Daarom moet ons goeie kennis hê van die taalkodes en wêrelde van die verskillende Bybelskrywers wat God se handelinge neergeskryf het in die taal en gebruike van hulle dag. So nie, vertaal ons sy stem verkeerd. Dan skree ons eie stemme die Bybel dood, al kom ons dit nie agter nie.

Wanneer ons deur ons eie Westerse bril na die Bybel kyk en onsensitief is vir die eiesoortige gebruike, instellings en waardes wat mense in die Bybelse wêreld nagevolg het, dan maak ons droog. Byvoorbeeld: Wanneer die Bybelse opmerkings in 1 Korintiërs 11:2-16 oor vroulike hoofbedekkings reglynig op vandag van toepassing gemaak word, as sou dit veronderstel dat elke vrou vandag ‘n hoed op haar kop moet hê tydens godsdienstige saamkomste, dan word die kulturele konteks van die eerste eeu geïgnoreer.

Die dra van hooftooisels binne die antieke wêreld funksioneer as teken van openbare eksklusiwiteit. Dit dien as ‘n tipe trouring wat sê dat ‘n gesluierde vrou aan ‘n man behoort. Voorts weet ons vanuit agtergrondstudies dat Grieks-Romeinse vroue met hare wat losgehang het soms deelgeneem het aan kultiese aktiwiteite in die kultusse van Dionisos, Cybele, Isis en by die tempel van Apollo by Delfi. Ongebonde, los vroulike hare sou in die antieke wêreld as ‘n teken van aandagsoekery, selfbehaaglikheid, ongekontroleerde ekstase en selfs ook seksuele beskikbaarheid, opgeneem kon word. Binne die privaatruimte van hul huise kon vroue wel hul hooftooisels verwyder.

In Korinte het Christenvroue binne die huise waar die gemeente byeengekom het ongesluierd rondbeweeg aangesien dit ‘n privaatruimte was. Hulle het ook deelgeneem aan die profetiese eredienste van die kerk as bewys van hul nuutgevonde vryheid in Christus. Paulus reageer in sy skrywe aan die Korintiërs hierop deur dit andere duidelik te maak dat vroue respek jeens hul mans moet betoon deur hooftooisels tydens eredienste te dra. Omdat die privaatruimte van die oikos vir die duur van die kerklike byeenkoms in ‘n openbare ruimte verander, is dit volgens die apostel gepas dat Christenvroue inval by die heersende kulturele kodes van betaamlikheid om respek teenoor hul mans te betoon.

 

Beginsel:  Ontgin die tydlose waarhede in die Bybel binne die tydbepaalde omhulsels waarin hulle gegiet is

Die boodskap van die Bybel is in bepaaldekulturele houers verpak, maar dit oorroep hierdie houers. Daarom moet ons leer om die boodskap van elke Bybelgedeelte op ‘n verantwoordelike wyse te ontgin, selfs al is die kulturele omhulsel wat daardie boodskap omraam reeds uitgedien. Omdat hierdie hermeneutiese beginsel nie genoegsaam aan lidmate in die verlede verduidelik is nie, loop die kerk tans deur onder die kritiek van mense wat die gesag van die Bybel aandurf. Dink maar aan vrae soos die volgende: “Hoekom sit ons nie in die lig van Levitikus 25 boere onder tug wat elke sewende jaar plant en oes nie?” “Hoekom vertel 1 Kronieke 21 dat Satan vir Dawid aangehits het om die Israeliete te tel, maar 2 Samuel 24 sê dat dit God was?” “Het die haan een keer (Luk 22:34), of twee keer (Mark 14:30) gekraai voordat Petrus vir Jesus verloën het?” “Van waar het Jesus hemel toe gevaar – vanaf ‘n berg in Galilea, soos wat Matteus 28 sê, of vanaf die Olyfberg, soos wat Lukas 24 sê?”

Gelowiges moet weet dat die menslike kant van die Bybel (die historiese verpakking van duisende jare gelede) nie per se normatief is nie. Ons moet deurdring na die tydlose boodskap van die Woord. Op die vlak van die kulturele houers is daar verskillende aksente, botsende opinies en historiese diskrepansies binne die Bybel te vind, soos wat die vrae hierbo illustreer, maar nie wat die oorhoofse boodskap betref nie! Neem die uitsprake oor die sabbatjaar in Levitikus 25. Indien ons dit letterlik toepas, dan moet ons alle boere elke sewende jaar onder tug sit. Hierdie teks verbied landbouers om op die sabbatjaar te plant en te oes. Hoekom laat ons egter vandag gelowige boere begaan? Wel, omdat die regte vrae om eerder aan Levitikus 25 te vra die volgende is: “Wat wil God vir Israel sê deur hierdie wet? Watter tydlose waarhede wil Hy aan hulle bekendmaak?” Ons moet vra watter beginsels onderliggend is tot hierdie uitsprake in Levitikus 25 wat vandag steeds geldig is.

Die antwoord hierop is duidelik: God wou die Israeliete leer om nie hulle landbougrond uit te put nie. Omdat hulle nie genoegsame kennis gehad het van dinge soos die behoorlike bemesting van landbougrond nie, wou die Here deur hierdie wet die grond beskerm teen uitputting en oorbeweiding. Tekste soos Levitikus 25 sê vir ons om te vra watter beginsels in die verskillende Bybeltekste ter sprake is. Bybelse beginsels en norme is tydloos. Dit geld vir alle tye en omstandighede, terwyl gebruike egter tydbepaald is en aan spesifieke situasies gekoppel word. Selfs al handhaaf ons dus nie meer die tydbepaalde kulturele omhulsel waarna ‘n bepaalde Bybelteks verwys binne ons eie situasies nie (soos die sabbatjaar gebruike, of die dra van hooftoooisels deur vroue in die openbaar), geld daardie onderliggende norme steeds.

 

REËL 5: SIT JOU EIE KAARTE EERLIK OP DIE TAFEL

‘n Ewe belangrike reël vir moderne Bybelverbruikers is om eerlik te wees wanneer die Bybel ter hand geneem word. Doen dit met inagneming van die volgende:

  1. Maak seker wat jou eie motiewe is wanneer jy die Bybel lees. Het jy al klaar vooraf besluit wat jy wil hê die Bybel moet sê en nou soek jy net ‘n paar tekste om dit te bevestig? Of is jy oop vir oortuiging? Sal jy toelaat dat die Bybel se stem ‘n verandering aan jou bring, of pas jy die Bybel aan by jou behoeftes?
  2. Kyk of jy die regte soort vrae vra as jy die Bybel lees. Onthou, die Bybel is nie ‘n vraag-en-antwoord boek wat antwoorde te bied het op letterlik elke vraag wat mense vra nie. Moenie dink die Bybel gaan een-tot-een antwoorde hê oor moderne probleme soos kloning en aborsie nie. Of oor die vernietiging van die osoonlaag en die regte gebruik van die internet nie. Maar onthou dat die Bybel altyd tydlose beginsels aanbied wat ook in hierdie gevalle geld. Byvoorbeeld, al skryf die Bybel nie direk oor iets soos aborsie nie; leer ons deurgaans in die Woord hoe God oor lewe en dood dink en dat Hy baie duidelik is oor die feit dat lewe in sy oë reeds voor geboorte begin, sommer van oomblik een na bevrugting af. Hierdie beginsel geld onder alle omstandighede.
  3. Onthou dat jy nie alleenreg op die regte verstaan van die Bybel het nie. Jy is nie die eerste leser nie en waarskynlik ook nie die laaste leser van God se Woord nie. Ken jou plek. Jy lees oor die skouers van miljoene ander Christene wat ook reeds met God se Woord geworstel het. Gaan steek by hulle kers op as jy wonder wat die Bybel presies beteken. Hoor wat kerklike belydenisse oor bepaalde Bybselse aangeleenthede sê, asook ander Bybeluitleggers. Koop vir jou goeie hulpmiddels, soos kommentare, studiegidse, verskillende Bybelvertalings en stewige geestelike boeke wat jou op die pad van Bybelstudie kan begelei. Gaan delf ook bietjie in die kerkgeskiedenis rond. Moet nooit dink jy het patentreg op wat die Bybel presies beteken nie. Want die Heilige Gees openbaar sy waarhede ook aan miljoene ander gelowiges. Leen jou ore dus gereeld vir hulle uit.
  4. Erken jou beperkings. Partykeer weet ons eenvoudig nie hoe vorentoe nie. Partykeer kan ons saam met die groot apostel Paulus in 2 Korintiërs 4 sê dat ons soms oor raad verleë is, maar darem nie radeloos nie! Ja, selfs nie eens die Bybelskrywers het altyd klarigheid oor God se wil gehad nie. Gaan kyk Handelinge hoe Paulus en sy helpers byvoorbeeld verskil oor God se wil vir sy lewe. Terwyl die profeet Agabus en al Paulus se helpers waarsku dat hy in Jerusalem gevang gaan word, en dat hulle oortuig is die Gees wys vir hulle Paulus moenie soontoe gaan nie, is die apostel oortuig dat hy wel moet gaan. En dat die Gees hom lei om dit te doen. As selfs die heel grotes soms oor God se wil verskil het, wie is ons dat ons altyd presies weet wat God vir ons wil hê.

Lees die Bybel met oortuiging en geniet dit. Die Bybel is die gids op die pad van die lewe. Al kry jy nie antwoorde op al jou vrae in die Bybel nie; kry jy die antwoord op die heel belangrikste een, naamlik hoe om in vrede met God te leef. Die Woord is die rigsnoer vir nuwe lewe. Dit bring die grootste vreugde denkbaar vir ernstige verbruikers daarvan; want dit bevat woorde wat vir altyd lewe gee.

 

Skrywer: Dr Stephan Joubert