Hoe om nie te bid nie (2)

image_pdfimage_print

 

It is not the yoke, but resistance to the yoke, that makes it heavy

–Andrew Murray

 

Hoe om nie te bid nie (2)

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

In Matteus 6 lees ons dat Jesus vooraf sekere opmerkings gemaak het (vers 5 – 8). Jesus leer heel eerste vir hulle hoe om nie te bid nie. Hier plaas Hy twee beperkings op gebed. Hierdie beperkings is belangrik, want Jesus word nie met hierdie soort gebede geëer nie.

  • Moenie skynheilig wees nie. Die woord het sy oorsprong in die teater – die akteur doen iets wat nie werklik is nie. Hierdie mense bid en maak ‘n groot vertoning van hulle vroomheid – maar hulle innerlike stem nie ooreen met hierdie uitwendige vertoning nie. Gebed vir hulle was iets wat van mense in hulle posisies verwag is. Is dit iets van die verlede? Dink baie gelowiges nie steeds hulle is beter as ander mense nie? Jesus waarsku teen bid om gesien te word, maar Hy moedig private gebed – in jou kamer met ‘n toe deur – aan. Daar bid jy tot jou Vader. God stel nie belang in uiterlike vertoon nie.
  • Moenie heidense gebede bid nie: moenie ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Hulle herhaal sekere woorde sonder dat hulle weet wat dit beteken. Ons kan baie maklik woorde herhaal en gebed word dan ‘n gewoonte – ons dink nie eers oor dit waarvoor ons bid nie. Selfs die Ons Vader gebed kan later ‘n resitasie word wat ons voordra sonder om te dink oor die betekenis van dit wat ons bid.

Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. God gaan nie sy siening verander omdat jy vir Hom nuwe inligting in jou gebed gee nie. Maar gebed verander dinge en die belangrikste daarvan is onsself. In gebed leer ons God meer intiem ken. Ons besef ook dat ons moet verander as ons meer en meer soos Jesus wil word.

 

Let op dat in hierdie gebed is ‘n woord wat herhaaldelik voorkom: U: u Naam, u koninkryk, u wil. Ons moet eers ‘n ent weg in die gebed gaan voor enige aandag aan ons gegee word. Daarom is dit belangrik om altyd te onthou wie aangespreek word en wie doen die praatwerk. Moet nooit vergeet dat jy met die Skepper van en Heerser oor die heelal praat nie. Jy moet ook nooit vergeet wie jy is nie – ‘n skepsel. Gebed is nie ‘n gesprek tussen gelykes nie.

 

 

image_pdfimage_print