Hoekom antwoord God nie my gebede nie?

Life is like a landscape. You live in the midst of it, but can describe it only from the vantage point of distance. -Charles A. Lindbergh (1902-1974)

Hoekom antwoord God nie my gebede nie?

Baie van ons kan vertel van gebede wat God wonderbaarlik beantwoord het, maar daar is ook gebede wat God nie geantwoord het nie. Geen wonder mense voel dat God nie ons gebooie antwoord nie. In ons moderne samelewing laat hierdie sogenaamde onbeantwoorde gebede selfs vrae ontstaan oor God se identiteit en selfs sy bestaan. Dit is iets wat ons moet aanvaar: God werk nie altyd op die manier wat ons van Hom verwag nie. Net omdat Hy nie onmiddellik ons vrae beantwoord nie, beteken nie dat hy nie besig is om in ons lewens te werk nie.

Kom ons kyk na vier redes waarom God nie ons gebede geantwoord het nie – daar is baie meer.

 

  • Klippe en slange is nie goed vir ons nie

Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra (Matteus 7:9 – 10). So dikwels vra ons dinge wat sleg vir ons sal wees. En ons verwag dat God vir ons sal gee wat ons wil hê, wanneer ons dit wil hê en soos ons dit wil hê. Sy reaksie op ons gebede is wat die beste is. Die beste vir wie? Ons lewens is instrumente wat God gebruik om sy sending op aarde te bewerkstellig. Daarom moet ons altyd bid: Nie my wil nie, Here, maar u wil geskied. Is ek bereid om my begeertes op te offer vir dit wat God begeer?

  • Hy het ons gebede geantwoord … ons het net nie van die antwoord gehou nie

Ons wil net nie aanvaar dat God nie vir ons dit wat ons gevra het, gee nie. Soms is dit moeilik om sy antwoord te aanvaar – so moeilik dat ons dit verwerp. Maar ons gebede moet ons herinner aan ons vertroue op God en sy wysheid. Om God te vertrou is ‘n erkenning van ons beperkte perspektief. God is goed; Hy is die gewer van goeie gawes. Vertrou Hom al antwoord Hy nie ons gebede soos ons verwag het nie.

  • Ons is nie beskikbaar nie

Met al ons moderne tegnologie is ons voortdurend aan almal gekoppel … behalwe aan God. God praat met ons op verskillende maniere, maar soms wil ons net nie luister nie. Laat ons toe dat Hy ons kontak of is dit net die een uur elke Sondagoggend? Benader ons gebed gereed om te luister of praat ons net die hele tyd? Soms is ons so besig dat ons nie eers agterkom God wil met ons praat nie – ons skedules is net te vol.

  • Stilte is goud werd

God is die meester van tydsberekening. Ons sien gereeld in die Bybel dat God nie haastig is nie. Vir 400 jaar is die Israeliete slawe in Egipte voordat God vir Moses roep. Ons verwag dat God onmiddellik ons gebede moet beantwoord. Soms is die lesse wat ons leer terwyl ons wag, beter as dit waarvoor ons gevra het. As ons glo dat God in beheer is, moet ons ook sy tydsberekening vertrou.

As God stil is, bid vir sy vrede; bid dat sy wil gedoen sal word; bid dat Hy vir ons die nodige geloof sal gee om in vertroue op Hom te wag.