Hoekom deel ek nie die evangelie met ander nie?

image_pdfimage_print

 

Want die woord van God word nie werklik in geloof ontvang wanneer dit bo-in ons brein rond-dobber nie, maar wanneer dit wortelskiet in die diepte van ons hart. Dan word dit ‘n onoorwinlike skans wat alle vorms van versoeking afweer en verdryf.” – Johannes Calvyn

 

Hoekom deel ek nie die evangelie met ander nie?

Almal van ons wil graag getroue ambassasdeurs van Christus wees. Ons wil die verlossingsboodskap oordra aan die mense om ons. Maar ons doen dit nie. Dan rasionaliseer ons ons ongehoorsaamheid met allerhande verskonings. Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie verskonings.

  1. Ek is bang ek doen meer skade as goed. Party glo dat as hulle foute maak hulle mense net verder van Christus dryf. Natuurlik is daar evangeliste wat meer skade as goed doen, maar dit sal nie met die gewone Christen gebeur nie. Dit is diegene wat sonder respek vir ander is wat skade aanrig.Jy sal nie iemand wegdryf as jy hulle met liefde, sagtheid en deernis benader nie. Jy kan sukkel om die regte woorde te kry, maar jy moet altyd onthou dat verlossing van die Here kom.
  2. Ek weet nie wat om te sê nie. As jy genoeg weet oor hoe jy verlos is, weet jy genoeg om iemand anders daarheen te lei. Die evangelie is nie so ‘n ingewikkelde boodskap nie. Dit is ‘n eenvoudige boodskap, maar dit het ‘n ewigheidsimpak. Vetrel vir mense hoe God die evangelie gebruik het om jou lewe te verander.
  3. Ek wil nie my verhouding verbreek nie. Mense is bang om oor die evangelie te praat, want hulle is bang hulle verloor ‘n vriend. Die skade wat die evangelie aan ‘n verhouding kan aanrig, is niks in vergelyking met die skeiding tussen mens en God nie.
  4. Ek weet nie hoe om die moeilike vrae te beantwoord nie. Dit is nie nodig dat ek al die vrae moet kan beantwoord nie. Bly net by die evangelie.
  5. Dit is die leraar se werk. Almal in die gemeente moet die evangelie deel. Jou leraar kan nie jou werk vir jou doen nie. Jy is dikwels die enigste Christen met wie sommige nie-Christene ooit sal praat. Wees getrou in daardie kringetjie waar God jou geplaas het.
  6. Ek het nie tyd nie. Ons mors so baie tyd. Ons sit ure voor die TV; ons spandeer lang tye op ons selfoon en op Facebook. Ons moet weer dink oor ons skedule. Daar moet altyd tyd vir ‘n gesprek oor die evangelie wees. Jou doel in die lewe is om God te verheerlik en om die evangelie met ongelowiges te deel. Maak tyd daarvoor.
  7. Ek is bang. Jy weet nie vooraf hoe mense gaan reageer nie. Jy is bang mense spot met jou of verkleineer jou. Onthou: Wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het (Johannes 14:26)

 

As jy een van hierdie verskonings gebruik, vra die Here om jou die moed te gee om sy evangelie met ongelowiges te deel.

 

 

 

 

image_pdfimage_print