Hoekom groei sekere gemeentes nie?

 

Earth has no sorrow that heaven cannot heal – Thomas Moore

 

Hoekom groei sekere gemeentes nie?

Greg Stier identifiseer ‘n hele aantal redes waarom gemeentes nie groei nie.

  1. Hulle is nie vriendelik genoeg nie

Hoe dikwels stap jy deur die voorportaal op pad na die erediens en niemand verwelkom of groet of help jou nie? Dan is daar weer gemeentes waar jy warm verwelkom word – jy voel onmiddellik tuis. Onthou: eerste indrukke is baie belangrik.

 

  1. Hulle is nie doelgerig nie

Groei gebeur nie sommer vanself nie – jy moet daarvoor beplan. Hoe kan ons meer doelgerig wees?

  • As jou lidmate iemand wat nie die Here ken nie na ‘n erediens bring, maak seker dat hulle die goeie nuus van Jesus Christus hoor.
  • Leer die hele gemeente om hulle geloof met ander te deel.
  • Vertel stories van hoe lidmate aan hulle vriende, bure, ens die goeie nuus oordra. Al wat nodig is, is ‘n drie minute segment by elke erediens.

 

  1. Hulle is nie georganiseerd genoeg nie

Baie gemeentes lei mense na Christus, maar het geen plan oor hoe om hulle in die gemeente te assimileer nie. Ons kan hulle nie sommer net los nie. Ons moet ook georganiseerd wees in ons eredienste, kinderbediening, kleingroepe ens. Alles moet egter gepas en ordelik geskied (1 Korintiërs 14:40).

 

  1. Hulle is nie relevant genoeg nie

As die woord van God op ‘n afgeleë, verwarrende manier verkondig word, het die gemeente probleme. Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart (Hebreërs 4:12).

 

  1. Hulle het nie genoeg substans nie

Dikwels is die preke maar oppervlakkig en wollerig. Soos nuwe gelowiges in hulle geloof groei verwag hulle meer – hulle wil nie meer net melkkos kry nie. Wat kry ons vandag in so baie van ons kerke? “Ligte. Kameras. Aksie.”

 

  1. Hulle is nie liefdevol genoeg nie

Op die oppervlak mag hulle liefdevol voorkom, maar na ‘n tydjie word jy bewus van die onderliggende politiek en verdeeldheid.

 

  1. Hulle bid nie genoeg nie

Hierdie faktor moet natuurlik eerste genoem word. Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser (1 Timoteus 2:1 – 3). Kerke wat saam bid, groei saam. Hoekom? Hulle word aangevuur deur Goddelike wysheid en krag – nie deur die nuutste gemeentegroei tegnieke nie. In baie gemeentes word meer tyd aan die afkondigings as aan gebed gespandeer

 

Herken jy van hierdie dinge in jou gemeente?