Hoekom het die engele gesing?

image_pdfimage_print

 

A false religion fears the progress of all truth; a true religion seeks and recognizes truth wherever it can be found – Lord Acton

 

Hoekom het die engele gesing?

Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het.” (Lukas 2:13 – 14).

Reeds in vers 10 het ons gelees dat die engel gesê het dat hy ‘n goeie tyding van groot blydskap bring. Moes die engele ‘n lied van blydskap of eerder ‘n treursang gesing het?

 

Dit moes eerder ‘n treursang gewees het:

  • ‘n Swanger vrou na ‘n lang reis op ‘n donkie is op die punt om in kraam te gaan. Sy en haar man soek ‘n privaat plekkie om te kraam. Hulle kry niks nie … net ‘n stal. Maria en Josef was vreemdelinge in Betlehem en word soos vreemdelinge behandel. Gewoonlik as babas kom, word hulle in mooi babakamers verwelkom met die hele familie wat om hulle saamkloek. Maria word uitgedruk en moet so onsigbaar as moontlik wees – weggesteek tussen die diere. Ons kan tog nie ‘n lied van blydskap vir haar sing nie.
  • Jesus mag die Koning van die heelal wees, maar Hy word nie so behandel nie. Sy gesin was arm en sonder invloed. God kom besoek die wêreld, maar sy ontvangs is nie juis gasvry nie. Ons kan tog nie ‘n lied van blydskap daaroor sing nie.
  • Toe Jesus se ouers Hom na die tempel geneem het, kry ons die wyse Simeon daar. Hy besef onmiddellik dat hierdie kindjie die Messias is. Hy sê vir Maria: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel … En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.” Sou jy ‘n lied van blydskap gesing het as jy hierdie woorde gehoor het?
  • Die koning van destyds, Herodes, hoor van die kind wat gebore is en bestem is om die Koning van die Jode te wees. Die kind is skaars gebore of Herodes probeer Hom doodmaak. Jesus en sy ouers moes na Egipte vlug waar hulle as vlugtelinge moes bly tot na Herodes se dood. Dit is tog nie ‘n rede om van blydskap te sing nie.
  • Jesus het Herodes se poging om Hom dood te maak, ontvlug, maar baie seuntjies twee jaar en jonger word doodgemaak. Ons lees van die gekerm en gehuil van die moeders. Dit is tog nie ‘n rede om ‘n lied van blydskap te sing nie.

 

Maar hoekom het die engele  ‘n lied van groot blydskap gesing? Wat het Jesus op aarde teengekom? Vyandigheid en onverskilligheid. Dit is hoekom die engele ‘n lied van blydskap gesing het: God was gewillig om na so ‘n wêreld te kom. Geen rooi tapyt nie; geen luisterryke ontvangs nie; geen indrukwekkende gastelys nie. Die wonder van Kersfees is dat Christus gekom het. Daarom sing die engele hulle lied van blydskap. Ja, die wêreld is nie altyd ‘n aangename plek nie. Mense gee nie meer om vir ander nie. Jesus en sy familie moes as vlugtelinge in Egipte gaan leef. Vandag is daar miljoene mense dwarsoor die wêreld wat as vlugtelinge moet leef. ‘n Biljoen mense gaan elke aand honger slaap. Ons harte is steeds traag en koud. Ons maak steeds nie plek vir ander nie – ons selfbeheptheid neem al die plek op.

 

Die Kersverhaal vertel vir ons dat God na so ‘n wêreld gekom het, want Hy het hierdie wêreld lief en wil dit herstel. Jesus het nie gewag tot die wêreld 100% skoon en reg was voor Hy gekom het nie. Hy kom aan te midde van vyandigheid en wreedheid en nooi ons uit om dit te vier.

 

Daar is baie om oor hartseer te wees oor die geboorte van Jesus. Die herbergiere en Herodesse van hierdie wêreld rig groot skade aan. Die goeie nuus: Dit het nie vir Jesus afgeskrik nie; Hy het steeds gekom. Ons moet nooit vergeet van diegene wat positief op Jesus se geboorte gereageer het nie: skaapwagters, die sterrekykers uit die Ooste, Anna en Simeon, Elisabet, Maria, Josef … Dit is hoekom die engele ‘n lied van blydskap gesing het – God het deurgebreek en diegene wat Hom soek, sal Hom vind.

 

 

 

image_pdfimage_print