Hoekom het Jesus sy Messiasskap tydens sy bediening verberg?

image_pdfimage_print

No man more truly loves God than he that is most fearful to offend Him. —Thomas Adams

Hoekom het Jesus sy Messiasskap tydens sy bediening verberg?

Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie (1:34). Nadat Jesus die melaatse man genees het, sê Hy vir hom: Moet vir niemand iets hiervan vertel nie (1:44). By drie geleenthede word bose geeste beveel om niks te sê nie (1:25, 1:34, 3:11). Jesus vereis stilte na vier wonderwerke (reiniging van ‘n melaatse man – 1:44; die opwekking van Jaïrus se dogtertjie – 5:43; die genesing van ‘n doofstom man – 7:36;  die genesing van ‘n blinde man – 8:26). Twee maal word sy dissipels beveel om stil te bly (8:30; 9:9). Twee maal onttrek Jesus Hom sodat die mense nie te wete moet kom waar Hy is nie (7:24; 9:30). Dit is ironies dat hierdie opdrag om stil te bly dikwels die teenoorgestelde effek het – die mense hou aan praat oor Jesus.

 

Wat kan ons hieruit aflei?

  • Jesus wou die indruk dat Hy net ‘n wonderwerker is, vermy. Mense wat toordery beoefen, soek die aandag vir hulleself. Jesus het gekom om die mag en gevolge van sonde in hierdie wêreld te oorwin.
  • Jesus wou publisiteit wat nie gehelp het nie, vermy. Hy wou tye hê vir die private onderrig van sy dissipels. Jesus se reputasie maak dat mense om Hom saamdrom. Hierdie skare vereis aandag. Elke oomblik wat Hy met hulle deurgebring het, was ‘n oomblik wat Hy nie intiem met sy dissipels kon verkeer en hulle leer nie.
  • Jesus wou die mense se wanbegrip oor die Messias vermy. Jesus se messiasskap word deur diens en lyding gekenmerk – nie sensasionele vertonings van  wonderwerke nie. Tog het die mense steeds geglo dat Hy gekom het om die Romeinse heerskappy omver te gooi.
  • Jesus wou die nederigheid van die lydende Dienaar van die Here beliggaam.
  • Jesus wou die mense inlig dat net deur geloof in ‘n gekruisigde Verlosser kan die messiasskap persoonlik toegeëien word. Ons kan nie sy volheid begryp sonder om te besef dat Hy moes gesterf het nie. Ons hou nie van Hom net omdat Hy  wonderwerke gedoen het nie. Ons vertrou Hom, want Hy het vir ons gesterwe en sy opstanding is vir ons oorwinning.
  • Jesus wou identifisering vanuit ‘n bron soos demone en vals godsdiensleiers verhoed.
  • Hy wou sy identiteit wegsteek om te wys na die vyandigheid van die politieke en godsdiensleiers van sy tyd. Daar was ‘n groot kontras tussen Jesus se nederige liefde en die Fariseërs se opgeblase godsdienstigheid.

 

Die rede waarom mense Jesus nie as die Messias herken het nie, was omdat hulle ‘n politieke en militêre Messias gesoek het – iemand wat die Romeine juk van hulle skouers kon afgooi. Hy was nie die soort Messias waarvoor hulle gehoop het nie, maar Hy was wel die Messias wat hulle en ons nodig gehad het. Ons het nie ‘n Messias nodig wat ons net van politieke onderdrukking en siekte sou vrystel nie. Ons het ‘n Messias nodig wat sy lewe as losprys vir sondaars sou gee. God het vir ons die soort Messias gestuur wat ons nodig gehad het.

 

 

 

image_pdfimage_print